Op die verkeerde pad PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 20 April 2018 12:47
Untitled Document

Hulle vertel in ‘n sekere kuierplek hoe Kerneels ‘Komdrink’ (gedoop, Combrink) op ’n mooi dag, met merkwaardige plattelandse ondernemingsgees, van sy negentienanderdagse ou Isuzu ’n trots-Suid-Afrikaanse-duikboot gemaak het.

Soos hulle-in-die-kroeg dit vertel, wou Kerneels op die betrokke agtermiddag so gou moontlik sy woonplek bereik nadat hy selfoniese berig ontvang het dat ’n sekere aanvallige vriendin aldaar op hom te wagte was.

Blou Kassie, die kroegman, sê hy wou nog keer, want hy ken Kerneels en as Kerneels is soos Kerneels op daardie dag was, dan moet Kerneels liewer nie sy bakkie bestuur nie. Maar niks kon Kerneels keer nie en hy is daar weg met die kroeg-glas nog in die hand. En daardie kroeg-glas is nou nog weg, sê Kassie.

Verantwoordelik soos Kerneels soms kan wees, het hy toe besluit om veiligheidshalwe eerder die ‘spietkoplose’ pad huis toe te vat, maar toe verdwaal hy glo om die een of ander rede en beland op ‘n heel ander pad.

Iewers op die pad, wat toe nie die pad was wat Kerneels gedink het dit is nie, is daar ook ’n S-draai. Kerneels se ou Isuzu ken dié pad al uit sy kop uit – behalwe nou dat dit die verkeerde pad was en die regte pad se S loop eers links en dan regs, maar die verdwaalpad waarop Kerneels hom bevind, werk presies andersom.

Later sou Kerneels vertel dat die wind boonop dié dag verskriklik gewaai het. Hy sê hy dink dat die stormwind die enkel-witstreep op die pad geskep het sodat dit skoon in die verkeerde rigting staan wys het. Altwee die strepe, sê hy.

En saam met dié dat die S-draai ook nou nog agterstevoor was, is hy wat Kerneels is met bakkie en al skoon van die gebaande weë af die veld in. Dwarsdeur ou Van Rensburg se grensdraad, en – soos die duiwel dit wou hê – binne in ’n pan in, wat met die milde reëns kant aan wal en tot barstens toe vol was, beland hy en sy ou bakkie.

Niemand kan verklaar hoe Kerneels aan ’n wrede waterdood ontkom het nie en hy gee toe dat hy ook nie so mooi weet nie. Wat hy wel onthou, is dat ‘iets’ hom in sy sterwensnood laat dink het aan ’n toneel uit ’n ‘duikbootfliek’ wat hy lankal gesien het.

In dié rolprent het die duikbootkaptein sy bemanning gered deur te keer dat hulle nie probeer uitkom voor die hele boot propvol water was nie. Op dié manier kon hulle die duikboot se venster oopmaak en veilig uitswem . . .

Iemand het ’n drenkelingende Kerneels later langs die pad opgelaai en huis toe gevat en Kerneels het ’n vreeslike slaap loop slaap. Die probleem was dat die Isuzu agterna skoonveld was en die Samaritaan ook. Toe die hele verhaal nou eers rugbaar raak het hulle glo weke lank na die Isuzu gesoek – selfs met helikopters, sê Blou Kassie.

Soos die droogte dit wou hê, het die pan se watervlak later die jaar na die normale gedaal. En toe sien ’n beeswagtertjie glo die bakkie se dak bokant die suiping uitsteek en só is die tergende geheim ontrafel en die legende van die gebied se eie duikbootkaptein is gebore. 

 

© 2018 Die/The Bronberger