Waar almal jou naam ken . . . PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 20 April 2018 12:49
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Soms, soos die temaliedjie van ‘n ou TV-sepie sê, wil jy net wegkom na ‘n plek waar almal jou naam ken en almal bly is oor jy kom kuier. Onopgesmukte kuierplekke soos dié het ons kontrei gelukkig nog heelwat van – veral in die landelike hoewegebiede van die omgewing.

Ons ontdek op een mooi Saterdag ‘n nuwe (vir ons) afsaalplek vlak langs die Mooiplaatsgrondpad.  Hier het die ‘Mannequin Bar’ sy tuiste in die oopte van ‘n perdeplaas gekry.


Onder ‘n afdak in die oopte

Die paar mense wat met ons aankoms onder die afdak sit of sommer buite in die sonnetjie staan en klets, ken mekaar ooglopend goed. Sommer gou ná ons aankoms ken hulle ook ons name, ons ken hulle s’n en almal is uitgesproke bly oor ons kom kuier het. Ons voel ons tuis en gemaklik. Geen pretensie, geen beheer.

Ons neem plaas by ‘n eenstuk-houttafel onder die afdak en bestel ‘n koue bruisdrankie (myne) en ‘n warm koffie. Die uitsig is prentjiemooi: Oopte, bome, wattewolke teen diepblou lug, die Magaliesberg in die agtergrond en ‘n paar pragtige Arabierperde wat loop en wei. En die stilte . . .

Jy kan ook in die netjiese eetvertrekkie of by die winkelpopkroeg binne aansit, sou jy wou. Die kuierplek se eienaars is Mark en Elaine. Mark vertel dat daar die vorige aand tot laatnag gekuier is. Die gereelde speelgroepie was op hulle stukke en hy sal moet dorp toe om voorraad te loop aankoop.



Skaapwagtersnye van geroosterde boerebrood met skyfies

Mark sê hulle hou die spyskaart eenvoudig. Hy wil nie hê die mense moet deurmekaar raak en vergeet hoekom hulle eintlik daar is nie. Hulle deelmandjie met allerlei versnaperings is gewild en vriende kuier lekker om só ‘n mandjie sonder dat die kos te veel van hulle kuieraandag verg.

Soms bring ‘n span vriende hulle eie vleis en kuier saam onder die bome of langs die rivier om een van die plek se halwedrombraaiers. Maar drinkgoed moet van die kroeg af bestel word, sê Elaine.

Die snoepmandjie word gepak met samoesas, hoenderrepies, frikkadelletjies, stokkieworsies, Russiese worse, uieringe, skyfies en drie doopsouse. Dit kos R70. ‘n Bord met net hoender-repies (gerooster of gebraai), skyfies en doopsous kos R50 en ‘n bord met net aartappelskyfies kos R25. Die skyfies is tuisgesny en smaaklik, sou ons uitvind.


‘n Ysterperd in die eetvertrekkie

Ontbyt word dagdeur bedien. Spek, ‘n eier en broodrolletjie kos R30 en twee eiers met spek en geroosterde ‘boerebrood’ – R40. Franse roosterbrood (twee snye) met spek en stroop – R45. Die Cowboy ontbyt met bakbone, rooiworsies, kaas en roosterbrood en die Stallion een met gekruide maalvleis en kaas op roosterbrood kos R50. Jy kan ook jou eie ontbyt bou en betaal per porsie van dit wat jy verkies.

Ses soorte hamburgers se pryse wissel tussen R50 en R75. Dit word bedien saam met skyfies en uieringe. ‘n Paar inskrywings spesiaal vir kinders en melkskommels vertel vir my dat die kortvolk welkom is en ek dink nogal so terloops by myselwers dat stadskinders baie sal kan baat by ‘n besoek aan dié plek.

Dit is die geroosterde toebroodjies met Elaine se tuisgebakte ‘boerebrood’ wat ons aandag trek. Ek bestel een met spek, eier en kaas en Metgesel durf een met kaas, tamatie en eier aan. Die skaapwagtersnye van geroosterde ‘boerebrood’ stel nie teleur nie. Dit word bedien saam met skyfies en kos R45.


Fanie het Metgesel aan dié vulletjie voorgestel

Ons kuiertjie by dié onpretensieuse winkelpopplek was gemoedelik, gemaklik, rustig en ontspannend. Voor ons vertrek gaan stel Fanie (ja, hier ken almal gou almal se name) vir Metgesel voor aan ‘n pragtige Arabier-vulletjie.

Jy draai vanaf die ou Bronkhorstspruitpad links af by die Mooiplaatsgrondpad en voor die brug oor die Pienaars weer links by die naamborde wat Barnyard en Mannequin sê. Of regs as jy van Boschkop se kant af kom.

Bel vir Elaine by 084-941-4772 vir meer inligting.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger