Bianca beplan nuwe klerekas ná operasie PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 June 2018 10:37
Untitled Document

Bianca Fourie se lewe is gered. Die peperduur operasie waarsonder dié 16-jarige meisie sou sterf is op 1 Junie teen ‘n fraksie van die koste by Life Faerie Glen hospitaal gedoen.

Verlede maand het ons berig dat Bianca besig is om te sterf van komplikasies van ‘n kondisie wat daagliks in ander pasiënte herstel word – skoliose (ruggraatverkromming). Sy kon nie meer behoorlik asem kry nie omdat haar ruggraat al 130 grade gebuig was, wat beteken het dat daar nie plek in haar borskas was vir haar longe om behoorlik te werk nie.

Bianca was op suurstof-aanvulling by die huis, daar was inflammasie onder haar ribbes, sy het gesukkel om te eet, het gou moeg geword en kon nie meer haar arms bo haar kop oplig nie.


Bianca ‘n week ná die operasie wat haar lewe gered het

Haar ouers, Gustav en Madeleen Fourie, het nie ‘n mediese fonds nie en het sedert 2015 gehoop dat Bianca by Steve Biko Staatshospitaal geopereer kan word. Sy was op ’n waglys vir ‘n operasie by dié hospitaal, maar hulle het in die begin van die jaar laat weet dat hulle haar nie kan help nie.

So ‘n operasie, wat agt tot tien ure duur, gaan gepaard met geweldige hoë risiko en dokters het beraam dat dit bykans ‘n miljoen Rand sou kos.

Life Faerie Glen Hospitaal het egter met die betrokke dokters en partye gepraat en kon die operasie vir net minder as R300 000 doen. Bianca se ruggraat kon 60% reguit gemaak word, waar die verwagting omtrent 40% was. Dit is bevestig dat haar asemhaling 50% beter sal wees.

Bianca se tannie, Annetjie Opperman, sê die familie wil graag bedankings doen aan mense en instansies wat hulle dienste teen ‘n geweldige afslag of verniet aangebied het. Spesiale dank gaan aan die personeel van Life Faerie Glen Hospitaal en aan die hospitaalbestuurder, Joe Koekemoer, vir sy barmhartigheid en bystand.


Só lyk Bianca se rug ná die operasie

Die familie sonder ook die volgende uit: dr Ettienne Coetzee; dr Piet Snyman; dr K Verschave; Lancet Laboratoriums; Deist en Vennote – ortotiste; dr Bezuidenhout en Vennote – radiologie; Neospine; en dr Van Rensburg van Celliersstraat Narkosedienste.

Annetjie sê die familie wil ook die personeel by dokters se spreekkamers bedank, veral vir Marlene Strydom wat die hele fondsinsamelingsproses aan die gang gesit het. Dankie ook aan Nadia de Waal van die Child Medi Organisasie wat die fondse wat ingesamel is hanteer het en die rekenings betaal het.

Die familie het oneindige waardering vir elke mens wat ’n skenking gemaak het, veral vir David Philander wat ‘n reuse bydrae gelewer het; die Caring Daisies, Laerskool Marietjie van Niekerk, Hoërskool Oosterland en Spur Secunda.

“Ons sal vir ewig dankbaar wees aan ‘n ieder en elk wat gehelp het om ‘n 16-jaar-oue meisie se lewe te red en haar hoop vir die toekoms en ‘n beter lewe gegee het,” sê Annetjie.

Bianca is ‘n paar dae ná die operasie uit intensiewe sorg na ‘n gewone saal oorgeplaas. Sy was in geweldige pyn, maar die spesialis het gesê dat hy tevrede was met haar vordering. Teen die Bronnie se saktyd is Bianca reeds uit die hospitaal ontslaan en kon sy begin loop. Sy het klaar begin om haar nuwe klerekas te beplan.

 

© 2018 Die/The Bronberger