Bloedstraat kry sy naam oor onskuldige seun gewond is PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 25 June 2018 10:40
Untitled Document

Angie Kleijn

Waar kry Pretoria se Bloedstraat sy naam? Die bloed wat daar gevloei het was dié van ‘n onskuldige seun wat deur sy ma gestuur is om ’n boodskap na haar vriendin te neem. Dit was in die 1860’s se burgeroorlog en dié vriendin se man was aan die voorpunt van die opstandigheid.

Dit was ‘n stormagtige Sondag op 14 September 1862 toe Jacobus Francois du Toit, die seun van landdros Andries du Toit, tussen die lui van die eerste en tweede kerkklokke op pad na Elsie Maria Aletta Schoeman was. Sy was die derde vrou van die opstandige kommandant-generaal Stephanus Schoeman en het nog voorskoolse kinders in die huis gehad.

Die Schoemans se huis was op Klein Schoemansdal, waar die dieretuin vandag is, en dié plasie is deur kommandant Paul Kruger se manskappe omsingel. Niemand mag in- of uitgegaan het nie.

Jacobus se gedagtes was glo elders, want hy het glad nie die bevel om te halt, wat deur Jacob Malan gegee is, gehoor nie. Paul Kruger se manskappe het losgetrek. Jacobus se perd is onder hom doodgeskiet en hy is in die skouer gewond, waarna hy vir die res van sy lewe gedeeltelik verlam was. Jacobus kon nooit weer sy werk as messelaar en dakdekker doen nie.


Andries du Toit by sy vrou en dogter, wie se name ongelukkig nie by die foto verskaf is nie. Ons weet hy was twee keer getroud – altwee kere met ‘n nooi De Villiers: Elizabeth Gertruida Jacoba en Magdalena Elizabeth
Foto: Eeufees-album. Pretoria se eerste eeu in beeld

Andries
Op die Sondag van die skietvoorval het Jacobus vanaf die Du Toits se huis aan die wesoewer van die Apiesrivier, naby Leeuwdrift vertrek. Sy pa, Andries Francois du Toit, het die gesin teen die einde van 1856 met ‘n ossewa Pretoria toe getrek ná hy deur Andries Pretorius genooi is om plase in Voortrekkergebiede op te meet.

Andries du Toit het 78 erwe, wat in die oop plein-gedeelte in Pretoria ontwikkel moes word, opgemeet. Hy is op 2 Mei 1857 as die eerste landdros van Pretoria ingesweer en is ook as die eerste posmeester verkies.


Stephanus Schoeman
Foto: Geni

Hy was die een wat munisipale regulasies opgetrek het en het ‘n belangrike rol in die veldtog om Pretoria die hoofstad te maak gespeel. Andries het op 31 Desember 1859 in die ouderdom van 45 jaar bedank en het ‘n stuk grond van die president gekry, glo as ‘n goue handdruk vir al die dienste wat hy aan die jong dorp gelewer het.

Die stuk grond, wat Andries Arcadia genoem het, het van Du Toitstraat, wat na Andries vernoem is, tot op Meintjeskop gestrek. Arcadia was ‘n gedeelte van die ou plaas Elandsfontein, maar Andries het die deel rondom die Uniegebou uit Gerrit Bronkhorst se boedel gekoop. Hy het Arcadia in 82 erwe begin uitlê en het sy deel van Elandspoort drie jaar ná die insident in Bloedstraat, op 7 April 1865, verkoop. Bloedstraat was toe nog deel van Klein Schoemansdal.


‘n Jonger Stephanus Schoeman
Foto: HC van Niekerk

Schoeman
Dié plaas se eienaar, Stephanus Schoeman, was nie ‘n maklike man nie. Sy rooi hare, vurige temperament en hewige dispute met ander Boereleiers het hom die bynaam ‘Stormvogel van die Noorde’ besorg.

Hy was ’n trekkerleier onder sy eie vlag, die vlag van St Andries, wat hy later in opposisie teen die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se Vierkleur laat wapper het. Andriesstraat in Pretoria is na dié vlag vernoem en Schoemanstraat na Stephanus.

Ná die Groot Trek het Stephanus hom aanvanklik in die Zoutpansberg-distrik gevestig en was van November 1854 tot Januarie 1858 kommandant-generaal in dié gebied.

Toe Marthinus Wessel Pretorius as die ZAR se eerste president gekies is, is Stephanus terselfdertyd as kommandant-generaal van die ZAR verkies. Hy het egter geweier om die amp te aanvaar en het gesê dat die verkiesing ongrondwetlik was: hulle is deur die volksraad verkies en nie deur die volk nie.

Ná hy vrede gemaak het met die grondwet, het hy die amp in 1858 aanvaar en het die ZAR se eerste kommandant-generaal geword.


Waarnemende president Johannes Hermanus (Hans) Grobler
Foto: Stadsraad van Pretoria

Konflik
Die konflik wat tot die burgeroorlog gelei het, het begin toe Marthinus Wessel Pretorius aan die einde van 1859 ook as die Oranje-Vrystaat Republiek se president verkies is. Dit was sy droom om dié twee republieke te verenig.

Die ZAR-volksraad het hom ses maande af gegee om sy amp in die Vrystaat te aanvaar. Tog, toe dié tydperk verby is, wou die volksraad hom nie toelaat om sy voormalige amp as president van die ZAR te hervat terwyl hy ook president van die Vrystaat was nie.

Johannes Hermanus (Hans) Grobler is as waarnemende president van die ZAR aangestel, maar sy termyn was kort, van 15 September 1860 tot 6 Desember 1860. Stephanus het geweier om Hans as waarnemende president te aanvaar. Met die ondersteuning van baie ontevrede burgers, het hy Hans van sy amp onthef en homself as waarnemende president aangestel.


President Willem Cornelis Janse van Rensburg se vrou, Elisabeth Maria Jacoba, ‘n nooi Du Plessis
Foto: www.jansevanrensburgfamilie.co.za

Baie mense was ontevrede met Stephanus se oorname. Toe hy teen 1861 steeds geweier het om sy presidentskap prys te gee, het die volksraad besluit om op te tree. Hy is op 17 April 1862 uit dié amp geskors, maar het geweier om sy skorsing te aanvaar.

Die volksraad het die Schoeman-faksie in 1862 as rebelle verklaar en Paul Kruger, wat in April 1862 tot kommandant-generaal verkies is, kon toe sy magte tot aksie oproep. Stephanus en sy manskappe is oor die Vaalrivier verdryf.


Willem Cornelis Janse van Rensburg en Elisabeth Maria Jacoba se graf in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas
Foto: Wikipedia

Willem
Ná Stephanus se skorsing was Willem Cornelis Janse van Rensburg van 18 April 1862 die waarnemende voorsitter van die ZAR se uitvoerende raad. Hy is in April 1863 as die tweede president van die ZAR verkies, maar hy het geweier om die ampseed af te lê.

’n Tweede verkiesing is gehou waar hy 1 106 stemme teenoor MW Pretorius se 1 065 stemme gekry het. Daarna het hy die posisie aanvaar en het die eed op 23 Oktober 1863 afgelê.

Baie mense het buite stemming gebly en Willem se teenstanders het die egtheid van sy verkiesing as president in twyfel getrek. ’n Volksleër onder grootwildjagter, kommandant Johannes Willem (Jan) Viljoen, het teen die staatsleër onder Paul Kruger opgetrek.

Paul Kruger was van mening dat die verkiesing, al was die stempersentasie laag, tog die volk se wil verteenwoordig het. Daarom het hy die nuwe president met sy staatsleër verdedig en het hom vanaf Rustenburg na Pretoria begelei om te gaan regeer.

Jan Viljoen en Stephanus Schoeman het hulle by Kommandonek ingewag, maar Paul Kruger en die nuut verkose president het na Krokodildrif weggeswenk en oor die rivier getrek van waar hulle oor Silkaatsnek na Pretoria wou kom.

Op 5 Januarie1864 was daar ‘n skermutseling by Silkaatsnek.


Kommandant Johannes Willem (Jan) Viljoen, wat die volksleër teen Paul Kruger se staatsleër gelei het
Foto: Wikipedia

Vrede
Marthinus Wessel Pretorius, wat reeds in April 1863 as president van die Oranje Vrystaat bedank het, het die dag daarna, op 6 Januarie, by die volksleër aangekom en het vredesonderhandelings voorgestel.

Die onderhandelings was van 9 tot 15 Januarie 1864 onder drie verskillende kareebome, wat vandag langs die teerpad van Silkaatsnek na Brits is. Daar is besluit om ’n presidentsverkiesing te hou en Marthinus is op 10 Mei 1864 weer as president gekies. Paul Kruger het sy posisie as bevelvoerder behou.

Die boom waaronder die finale onderhandelings gehou is, die Vredesboom, het lankal doodgegaan. Nie ver weg nie was ‘n kareeboom waar Jan Viljoen sy kamp opgeslaan het en aanvanklike onderhandelings gehou is. Dié groot koelteboom op die plaas Uitkoms was ‘n landmerk langs die pad na Silkaatsnek en is later jare dikwels as ‘n ontmoetingsplek gebruik. Hy het die naam ‘Wagboom’ gekry.


Die monumentjie by die kareebome langs die pad na Silkaatsnek
Foto: Kormorant

Die oorspronklike Wagboom se ou droë stam, byna twee meter in omvang, staan vandag nog daar. Van sy takke het rondom die stam afgesak, weer wortel geskiet en het vyf jonger kareebome gevorm.

By die bome is ’n monumentjie wat deur die Lenteskool van Brits opgerig is en op 5 Julie 1961 onthul is. Daar staan: “Nadat die Burgerstryd in Transvaal met die Krokodilrivierslag in hierdie omgewing op 5 Januarie 1864 beëindig is, het die voormanne van die ‘Staatsieger’ en die ‘Volksleger’ van 9 tot 15 Januarie 1864 onder hierdie boom samesprekings gevoer wat tot die herstel van vrede en eensgesindheid gelei het.”


Dié foto van Paul Kruger is in 1864 geneem en hang in Krugerhuis

Schoemansdal
Ná die beëindiging van die broederstryd is Stephanus Schoeman se vonnis opgehef en hy kon huis toe gaan. Hy het Klein Schoemansdal later aan Johannes Francois Celliers, stigter van ‘De Volkstem’, verkoop. Die plaas is na Rus in Urbe herdoop. Die staat het die plaas in 1895 uit Johannes se boedel aangekoop om ’n dieretuin te begin.

Die Jameson inval van 1895/96 het dié planne in die wiele gery. Die ou opstal het leeg gestaan en die direkteur van onderwys het die huis as ’n koshuis vir Staatsgimnasium-leerlinge, begin gebruik. Die res van die plaas is aan ’n kwekery verhuur.

In 1899 is die seuns wat in die plaasopstal gebly het Engelse Oorlog toe en die opstal het leeg gestaan. Dr Jan Boudewyn Gunning, eerste direkteur van die dieretuin, het sy diere op 21 Oktober 1899 soontoe geskuif.

 

© 2018 Die/The Bronberger