Egiptenare het dié ‘gulsiges’ gebalsem PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 17 August 2018 09:17
Untitled Document

Klaasneuse en skeerbekmuise lyk dalk soos langneusmuise, maar hulle is glad nie eers knaagdiere nie, het ‘n eeuelange verbintenis met mense en legendes oor hulle doen en late kom in die meeste kulture voor.

Dié diertjies staan in Engels as ‘shrews’ bekend; die Sjinese noem hulle ‘Chien Shu’ en die Taiwannese ‘Chin Chih’, wat altwee ‘geld’ beteken. Dit is glo omdat die geluid wat hulle maak soos die Sjinese uitspraak van geld klink. In Taiwan word so ‘n diertjie nooit in huise doodgemaak nie, anders sny jy glo die bron van jou geld af.

‘Die gulsige’ is die naam wat die Egiptenare vir dié diertjies gegee het; ‘n naam wat die manier waarop hulle vreet versinnebeeld. In antieke Egiptiese mitologie was dié diertjies met die pharaonsrat geassosieer en gebalsemde oorskot van ses verskillende spesies is in die seremoniële diere-grafkelders van Akhmim, wat uit die 27ste dinastie dateer, naby Thebe gekry.

Die Egiptenare het baie dierebegraafplase, waarna verwys is as rusplekke van die god Osiris-dier, al langs die Nylrivier af gebou. Klaasneuse en skeerbekke het glo ‘n belangrike rol in die godsdiens van die antieke Egiptenare gespeel. Saam met sekere naguiltjies, muishonde, slange, paddas en kewers, het hulle ‘n groep landdiere gevorm wat “uit die donker uitkom”, terwyl diere soos valke en swaeltjies as “wesens wat uit die lig kom” geklassifiseer is.


‘n Klaasneus
Foto: Wikipedia
.

‘n Skeerbekmuis, wat glad nie aan ander muise verwant is nie
Foto: Wikipedia

Giftig
Deur die eeue is klaasneuse en skeerbekke as giftig en dodelik gesien. Die Engelse het geglo dat as so ‘n diertjie oor ‘n mens se been hardloop, jy verlam sal wees. Perde wat mank is het die verwysing ‘shrew-struck’ gedra.

Die antieke Grieke en Romeine het geglo dat dié diertjies onheilig is. In Aristoteles se ‘Historia Animalium’ is daar ‘n paragraaf oor die effek van só ‘n byt op ‘n perd. Hy het gesê dat die byt gevaarliker is as die klaasneus of skeerbek dragtig is, want dan bars die blase wat om die bytplek op die perd se been vorm.

Wetenskaplikes sê dié diertjies se gif word deur groewe in die tande na die wond oorgedra. ‘n Spesie wat in Amerika voorkom se gif is uit sy gifkliere getrek en dit kon 200 muise met ‘n binne-aarse inspuiting doodmaak.

‘n Chemikalieë wat in dié gif voorkom is potensieel bruikbaar in die behandeling van hoë bloeddruk, terwyl ‘n ander verbinding nuttig kan wees in die behandeling van sekere neuromuskulêre siektes en migraine. Die spoeg van ‘n ander spesie bevat middels wat bestudeer word vir die behandeling van ovariale kanker.


‘n Gebalsemde klaasneus, gevind in die diere-grafkelders in Abydos, wat terug dateer na Egipte se Romeinse tydperk
Foto: Brooklyn Museum

Klaasneus
Daar is 376 spesies van die ‘shrew’ gediertetjies in 26 genera wat dwarsoor die wêreld voorkom. Oor die algemeen is hulle klein landdiertjies wat insekte, sade, neute, wurms en ‘n verskeidenheid ander voedingstowwe onder ou blare en digte struike uitgrou om te vreet. Van hulle spesialiseer egter ook in boomklim, ander leef ondergronds en sommiges jag selfs in die water.

 In Suidelike Afrika kry ons klaasneuse, ook as olifantmuise bekend vanweë hulle slurpagtige snoet, in die Macroscelididae familie. Die orde Macroscelidea is klein en bevat net een familie, die Macroscelididae, met vier genera en 19 spesies wat in Afrika voorkom. Hulle kan so groot soos ‘n groot rot of eekhoring wees of so klein soos ‘n muis.

Hulle agterbene en -pote is baie groter as hul voorbene en -pote wat beteken dat hulle rondhop as hulle haastig is. Klaasneuse is nagdiere. Hulle het beweeglike snoete, groot oë en ore, en lang, kragtige agterbene. Hulle maak alarm deur met hulle agterpote op die grond te trippel.


‘n Afbeelding van dié gediertetjie uit die Ptolemaïese tydperk, 304 VC – 30 VC, in Egipte
Foto: Metropolitan Museum of Art

‘n Piepklein brons kissie vir ‘n gebalsemde klaasneus
Foto: Brooklyn Museum

Skeerbek
Die skeerbekke val in die Soricidae familie. Hulle is klein, kortbeen muisagtige diertjies met ‘n lang wigvormige snoet en piepklein ogies, maar het baie goeie gehoor en reukvermoë. Hulle het kort hare, gewoonlik bruin of grys, vyf tone aan elke poot en skerp, spitstande. Skeerbekke is alleenlopers wat bedags en snags aktief is.

Daar is vier genera in Suidelike Afrika met 16 spesies. Die genera is bosskeerbekke, in die Myosorex genus, muskusskeerbekke, in die Crocidura genus, dwergskeerbekke, in die Suncus genus, en die klimskeerbek, in die Sylvisorex genus.

 

© 2018 Die/The Bronberger