Op ‘n wêreldvreetvaart by die melkstalmark PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 17 August 2018 09:19
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Saam met ‘n moedswillige Augustuswind waai ons een voormiddag op ‘n Sondag by die ou Hazeldean-melkplaas in. Dit is ons eerste besoek aan die Melkstalmark (Cow House Market) – só genoem omdat die aankoop- en (baie) koskraampies in ‘n reusekoeistal van weleer gehuisves word. Die stal het op sy dag goed meer as 800 Ayrshire-koeie onderdak gegee.

Ons is hier om te loerkoop en te ervaar, maar ons is veral hier om ‘n ietsie of wat vir die innerlike aan te skaf. En ons kom te staan voor ‘n verenigde volke van koskeuses. Geregte uit bykans elke uithoek van ou moeder aarde blyk in dié melkstal verteenwoordig te word.


Koskraampies lê ingeryg in die ou melkstal

Die mini-restourantjies sit skouer-teen-skouer onder die sinkdak ingeryg: Garnaalkoekies en hoendergeregte uit Portugal, midde-Oosterse Shawarma-vleise, Hollandse krokette, Amerikaanse burgers en oliebolle, Indiese kerriekos, Meksikaanse brandkos, platbrode en pizzas, regte braaivleis, tradisionele Suid-Afrikaanse geregte, diepbraaikosse, potjiekos, ‘n Britse vis-en-skyfie-winkeltjie, ‘n kraampie met vetkoeke, een met jafels en een wat spesialiseer in avokadopeerdisse en – soos die holrugadvertensies altoos sê – dis ook nie al nie . . .

Metgesel merk op dat die kosmark so baie bied van wat mooi binne haar smaak val, dat ons haar na dese bes moontlik sal moet herdoop na Vreetgesel.


‘n Billike burger by Jack’s

Met die intrapslag het ons getalm by die ‘Bourbon Bean’ vir ’n baie bevredigende koffietjie. Sou ons wou kon ons by een van die kroegies aandoen vir landgoedwyne, ‘boetiekbiere’ (craft), of -jenewer, of vir dit waarna ‘n ernstiger kuierlus ‘n ou ook al wil dwing. Buite en onderdak is genoeg tafels en aansitplekke aangebring vir ’n menigte honger en dorstige besoekers.

Ons stap langsaam deur die melkstalmark. Uitstallers van oudhede en aardighede, gebottel en gebak, boeke en handgemaakte meubelstukke, snuisterye en dies meer het hier ‘n tuiste gevind. Eenkant op ‘n verhogie sit ‘n ou met ‘n kitaar en ‘n welwerkende klankstelsel. Hy sing meestal ou hartseerliedjies en vir my is dit effe oorverdowend as jy dit te naby waag. Die ou Malleson-melkplaas is hondevriendelik, wat goed en mooi is, maar toe ‘n koor saamkombrakke op ‘n kol onder die sinkdakkoepel onbedaardelik lostrek – en dit nie eers op die maat van die hartseersanger nie – was dit nogal ‘n beproewing van ’n ander aard.


Lamskenkel op kapokaartappel

Dit het redelike kopkrap gekos, maar Metgesel besluit op ‘n ‘Baigon Masalewala’ by die kerriekoskraampie vir die innerlike. Dit is ‘n gekerriede en gekruide groentegereg wat saam met kerriebeet in ‘n diep kartonhouer opgedien word en dit kos R60. Ons koop ook twee groot gevriesde hoenderpasteie teen slegs R20 elk by die kerrietannie aan om tuis te gaan geniet – en geniet het ons dit. Vir die saamneem kry ons ook ‘n verskeidenheid oliebolle (doughnuts) by Jack se plek. Jack bou ook baie billike burgers.


Koskeuses uit alle uithoeke

By die kraampie wat ‘Andee’s Soul Food’ heet, bestel ek ‘n heel skaapskenkel met kapokaartappels en ‘n blikbeker vol groenslaai. Die gawe ou wat my bestelling neem, bring later die skenkelbord aan na die tafel waar ons loop sit het en ons lê weg. Metgesel meen haar groentekerrie is van die beste wat sy nog teëgekom het en sy wonderkla oor hoekom só min kuierplekke meedoen in die maak van dergelike groentedisse.


Metgesel se Baigon Masalewala

Die lamskenkel is langsaam in die oond gaargedoen en is groot, sag en geurig. Ek raak hom nie baas nie en geniet die volgende dag ‘n lekker koue lamsvleisbroodjie by die huis. Andee se skenkel kos R130.

Die ou plaas met sy melkstalmark bied geleentheid vir ‘n aangename uitstappie vir die hele gesin – honde en al. Draf-, stap- en fietsryroetes vleg deur die plaas en gereelde kompetisies word hier gehou.


Baie plek vir sit of staan om te eet of te drink

Ons het ons eerste besoek genoeg geniet om ‘n opvolgkuier te regverdig. Volgende keer vat ek ‘n koelhouer of twee saam en pak dit vol met ‘n verskeidenheid wat jou vir ‘n week op ‘n wêreldvreetreis kan vat. Vir meer inligting kan jy die markmeester by 072-399-0154 bel.

O ja, as jy die omgewing ken en oos van Silver Lakes woon, is dit nie nodig om met die aangegewe roete deur die magdom nuwe ontwikkelings te vleg nie. Jy kan vanaf die Mooiplaatsgrondpad, ‘n entjie vanaf die brug oor die Pienaarsrivier indraai en ‘n katspoeg verder is jy daar. Toegang en parkering is gratis.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger