Schoemans se familiebybel oorleef Groot Trek en oorlog PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 17 August 2018 09:20
Untitled Document

Angie Kleijn

Rita Matthee van Rayton het die Schoeman-familiebybel, wat kenners skat so 350 jaar oud is, in haar besit. Dié is ‘n Bybel wat dwarsdeur die Groot Trek noordwaarts gekom het en wat die verskroeide aarde-beleid in die Anglo-Boere-oorlog oorleef het.

Dié Bybel was in die 1870’s reeds stokoud, want baie van sy bladsye wat uitmekaar begin val het, is met koerante uit daardie era vasgeplak. Die gelap-en-stop vertel ‘n verhaal van sy eie en wys dat die Bybel baie jare in die Pretoria-omgewing spandeer het. Een van die bladsye is reggemaak met ’n koerant wat die datum Zaterdag 5 Junie 1875 dra.


Die Schoeman-familiebybel by die Schoemanwapen. Volgens ‘n papier in die Bybel, simboliseer die wit/silwer kleur vrede en eerlikheid; die rooi militêre sukses; en die geel/goud goedhartigheid en verhewe gedagtes

In die Bybel was ook ‘n tere liefdesbrief, ‘n raaiselagtige lok grys hare en ’n handgemaakte boekmerk van koerantpapier.

Rita, ‘n nooi Schoeman, vertel dat sy die Bybel in 1969 geërf het toe haar pa, Jacobus Frederick  Schoeman, oorlede is. Hy het die Bybel van sy pa, Johannes Stephanus Schoeman, geërf.

Rita se broer het ‘n handgemaakte horlosie, wat hulle oupa as krygsgevangene op St Helena gemaak het, geërf en haar suster ‘n leersak, wat hy ook daar gemaak het.


Rita se broer, Johannes Stephanus Schoeman, gebore op 22 April 1955, lyk baie na kommandant-generaal Stephanus Schoeman

Stephanus Schoeman, die ZAR se eerste kommandant-generaal
.

Trekke
Rita het besluit om Die Bronberger te kontak ná sy generaal Stephanus Schoeman se foto in ons Junie-uitgawe gesien het en besef het dat haar broer, Johannes Stephanus, wat na sy oupa vernoem is, op ‘n druppel water soos dié generaal lyk. Hy het nou wel nie rooi hare nie en is glad nie so kwaai soos die generaal was nie, sê Rita.

Rita se familie foto-album wys ook dat hulle oupa dieselfde familietrekke het. Sy weet dat haar oupa saam met generaal Schoeman se broer op Vissershoek in die Brits-omgewing geboer het. Hy is ook daar onder ‘n ou wildevyboom begrawe. Haar ouma, Maria Elizabeth, is egter in Pretoria se Rebeccastraat-begraafplaas begrawe. Sy het geweier om saam met die Schoemans op Vissershoek begrawe te word en het gedreig dat sy haar “beentjies sal optel en loop” as hulle haar daar in die aarde sit.


Rita as baba by haar ouma, Maria Elizabeth Schoeman, bekend as Ouma Non

Rita se ma, Susanna Magdalena Abramha, ‘n nooi Zietsman, lewe nog en bly saam met haar op Rayton. Sy en Rita se pa, Jacobus Frederick Schoeman, is op 15 September 1951 in Pretoria getroud toe Susanna 18 jaar oud was en Jacobus 24. Op die huweliksertifikaat staan daar dat altwee Susanna se ouers toe reeds oorlede was.

Jacobus is op 19 Junie 1927 op Vissershoek gebore. Hy was op De Wild in die laerskool en op Brits in die hoërskool en het later jare as litograaf by die Staatsdrukker in Pretoria gewerk.


Rita se oupa, Johannes Stephanus Schoeman

Erf
Rita vertel dat al die ou Schoemans reeds oorlede is en dat daar niemand oor is om te vra presies hoe die erf-prosedure gewerk het sodat die familiebybel by haar oupa beland het nie.

Volgens familie-oorlewering het die Bybel saam met die eerste Schoemans die land ingekom. Die Bybel is egter in hoog-Hollands en nie in Duits nie, wat die eerste Schoemans se moedertaal was.
Die Statebybel was die Bybel waarmee Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het. Dit is die Bybel wat vanaf 1652 tot 1933 met die aanvaarding van die Afrikaanse Bybelvertaling, gebruik is.


Dié Bybelbladsy is met ‘n koerant van Heidelberg, gedateer 6 April 1875, reggemaak

Die Statebybel of Statevertaling is die eerste amptelike Nederlandse Bybelvertaling wat regstreeks uit die oorspronklike Aramees, Hebreeus en Grieks vertaal is. Die opdrag vir die vertaling is in 1618 gegee deur die Sinode van Dordrecht, wat die State-Generaal gevra het om vir die vertaling te betaal.

Tot in daardie stadium is verskillende vertalings gebruik, onder meer die Bybelvertaling van Maartin Luther in Hoogduits. Dit lyk dus asof die Schoemans dalk hulle Statebybel in die Kaap aangeskaf het.
Ongelukkig is daar nie ‘n familiestamboom voor in die Schoeman-bybel ingeskryf nie, so dit is nie heeltemal duidelik wie dié Bybel aangekoop het nie. Die bladsy wat moes wys in watter jaar en waar die Bybel gedruk is, het ook verlore geraak.


Die voorkant van die Schoeman-familiebybel

Stamvader
Daar is egter ‘n los bladsy, wat al amper verkrummel het, wat die datums verskaf van die eerste twee Schoemans wat in die 1700’s vanaf Duitsland aan die Kaap geland het.

Hendrik Schoeman van Frederickstad aan die Eiderrivier in Holstein, Noord-Duitsland, het in 1730 hier geland en het in 1736 met Martha Olivier getroud. Hy was die vader van twee seuns, Johannes Hendrik en Jurgen en dié gesin het hulle in Swellendam gevestig.


Rita se ouma en oupa, Johannes Stephanus en Maria Elizabeth Schoeman, vroeër in hulle lewe

Johannes Hendrik is in 1737 gebore en het met Petronelle Bekker getrou. Hy was die vader van die volgende seuns: Johannes Hendrik, gebore in 1759 (getroud met Sara van Wyk); Stephanus Johannes, gebore in 1762 (getroud met Catharina Bekker); Johannes, gebore in 1767 (getroud met Maria Botha); Petrus Johannes, gebore in 1771 (getroud met Sara van den Heever); Johannes Jurgens, gebore in 1776 (getroud met Martha Engelbrecht); Hendrik Nicolaas, gebore in 1780 (getroud met Helena Bekker); en Martinus Johannes, gebore in 1783 (getroud met Catharina Engelbrecht).

Dié stamvader se ander seun, Jurgens, is in 1740 gebore en het met Dorothea Bekker getrou. Hy was die vader van die volgende seuns: Johannes, gebore in 1771 (getroud met Anna Bekker en Regina Scheepers); Stephanus, gebore in 1774 (getroud met Johanna Engelbrecht); en Johannes Hendrik, gebore in 1785 (getroud met Maria van der Merwe).


Rita se pa staan regs op die foto wat op 17 Maart 1958 geneem is. Hy was ‘n litograaf by die Staatsdrukker, wat die stembriewe vir die verkiesing op 16 April 1958 gedruk het

Tweede
Die papier in die Bybel sê dat daar ook ‘n tweede Schoeman-stamvader was, Daniel Johannes Schoeman, wat van Mecklenburg gekom het en in 1750 aan die Kaap geland het. Hy het in 1759 met Martha Esterhuizen getrou en sy seuns was Christoffel Andries en Daniel. Dié gesin het hulle in Graaff Reinet gevestig.

Christoffel Andries is in 1760 gebore en het met Susanna Trigardt getrou. Hy was die vader van Daniel Jonathan, Jacob Andries, Carolus Gustaf en Johannes Lodewicus.


Die kissie wat Rita vir die Bybel laat maak het

Die tweede seun van dié stamvader, Daniël, is in 1764 gebore en het met Anna Hattingh getrou. Hy was die vader van Daniel Wilhelmus, Johannes Hendrik, Johannes Arnoldus, Gerhardus en Christiaan Jacobus Andreas.

Rita sê dat sy nog nie besluit het aan wie of aan watter instansie sy die Bybel gaan nalaat nie. Die kultuurhistoriese museum het haar al genader, maar sy sê dat daar bekommernisse is oor die voortbestaan van museums in ons land. Sy oorweeg dit om die Bybel na te laat aan haar kleindogter, Chané Tromp, wat baie daarin belangstel.


Dié bladsy is reggemaak met ‘n koerant wat sê: Pretoria, ZA Republiek, Zaterdag 5 Junie 1875

’n Boekmerk in die Bybel
.

Intussen pas Rita die Schoeman-familiebybel met trots op. Sy het ‘n spesiale kissie met die Schoeman-familiewapen vir die Bybel laat maak en sit gereeld kamfer in vir beskerming en poleer die leer buiteblad.

 

© 2018 Die/The Bronberger