Dit spook glo by vergete Britse prins se graf in Kerkstraat PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 18 March 2009 05:48
Untitled Document

In Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas lê koningin Victoria se gunsteling kleinseun, prins Christian Victor, in ’n beskeie soldategraf begrawe. Dié oorlogsheld van verskeie ekspedisies en veldslae in Britse kolonies soos Indië, Ghana, Soedan en Natal, is in Pretoria aan ingewandskoors dood nadat hy deur malaria platgetrek is. Hy was 33 jaar oud.


Die beskeie soldategraf van prins Victor in Pretoria se Kerkstraatbegraafplaas. Dit spook glo saans hier.
Foto: Mystery Ghost Bus Tours

Prins Victor is knap ná die aanvang van die Anglo Boereoorlog in Natal gewond, maar het herstel om verder as offisier onder bevel van lord Robberts aan die oorlog deel te neem. Teen die einde van die oorlog was hy deel van die Britse magte wat Pretoria beset het.

Malaria
Hy het malaria opgedoen en is op 29 November 1900 in die Yeomanry Hospitaal, wat in die huis van Tom Beckett in Arcadia ingerig is, aan ingewandskoors dood nadat hy drie dae in ’n koma was.

Die prins se liggaam is gebalsem en alle reëlings is getref om dit na Engeland te verskeep toe ’n telegram van sy ouma, koningin Victoria, aankom met die bevel dat haar kleinseun in Pretoria in ’n gewone soldategraf begrawe moet word. Toe hy op 1 November begrawe is, was dit die grootste militêre begrafnis wat nog in die stad gesien is.

Soldate het ’n erewag aan weerskante van Kerkstraat gevorm en die gevolg het oor ’n afstand van twee myl gestrek. Volgens ’n destydse koerantberig het duisende “townspeople” ook die begrafnis bygewoon. Een boervrou het volgens oorlewering die gewyde stilte verbreek toe sy hardop gesê het: “Ja, hulle begrawe hulle prins in Britse grond. Die Engelse is van plan om in hierdie land te bly.”


Die begrafnisstoet van prins Christian Victor beweeg met Kerkstraat af na sy laaste rusplek. Ses Engelse generaals, waaronder genl. Baden Powell, was die draers.

Die Britse besetting van Pretoria op 5 Junie 1900. Prins Christian Victor was ?n offisier in die besettingsmag voor hy op 29 November dood is.

Gunsteling
Prins Victor was die derde seun van koningin Victoria en prins Albert se derde dogter, Helena. Sy pa was prins Christian van Schleswig- Holstein. Dit was vroeg reeds ’n ope-geheim dat Victor die ou koningin se gunsteling kleinkind was.

Sy volle benaming was ’n hele bekvol: Sy hoogheid, prins Christian Victor Albert Louis Ernest Anthony van Schleswig-Holstein-Sonderberg- Augusterburg. Sy vriende en familie het hom egter sommer Christi genoem.

Victor se ma, prinses Helena, het sy graf in 1904 besoek. Sy het ter nagedagtenis van haar seun ’n akkerboom in ’n oop stuk grond oorkant die begraafplaas geplant. Die grond die akkerboom het sommer gou gevrek en is later om die beurt met ’n hele paar inheemse bome vervang wat ook nie wou groei nie.

Vandag staan ’n sukkelende boompie nog in die verwaarloosde park, waarvan ’n deel aangewend word as munisipale voertuigloods.


Veldmaarskalk lord Robberts was prins Victor se bevelvoerder in Suid-Afrika en saam met lord Kitchener hoof roubeklaers op sy begrafnis.

Prins Christian Victor, koningin Victoria se gunsteling kleinkind en die enigste lid van die Britse koningshuis wat in Suid-Afrika begrawe is.

Eerstes
Victor het vir ’n paar eerstes in die Britse koningshuis gesorg. Hy was die eerste Britse koninklike wat skool toe gegaan het. Voor hom het almal deur private onderwysers tuisonderrig ontvang.

Hy is tot vandag toe ook die enigste lid van die Britse koningshuis wat eersterangse krieket gespeel het. Hy is ook die enigste Britse koninklike wat in Suid-Afrika begrawe is.

’n Standbeeld van hom pronk voor die Windsor kasteel, waar hy gebore is en grootgeword het en ’n monument is in sy eer in Plymouth opgerig. Gerugte wil dit hê dat dit spook by sy graf in Kerkstraat omdat die prins in sy tuisland begrawe wou word.


Die verwaarloosde Prinsepark met die gedenkboom wat maar net nie wil gedy nie.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger