Ongewone ontmoetings uit 16 jaar se Bronnies PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 25 September 2018 13:32
Untitled Document

In die Bronnie se 16 bestaansjare is elke dan en wan onverwagte ontmoetings waar diere so effe uit hulle aard opgetree het, aangeteken: Soos die mak volstruis wat saam met sy mense swem of die wagkoei wat boewe verjaag. Ons onthou ook waar diere op ongewone plekke opgedaag het, soos die luiperd op Mooiplaats, die krokodil in die Zwavelpoortspruit, die leeu in Cullinan en die muskeljaatkat in Lynnwood Glen. Ons kyk weer na 16 vreemde diere-ervarings.

Gesin se roofdiere

In Maart 2003 vertel ons dat jy dié katjie in gewone omstandighede nie maklik sonder handskoene sou aanpak nie. Maar Theodora en Anthea Michaletos van Die Farm Inn het klein Sheba die jagluiperd grootgemaak en hulle was groot maatjies wat snags ’n snoesige bed gedeel het. Sheba is een van die vele roofdiere en ander wildspesies wat by Die Farm Inn te sien is. Theodora en Anthea Michaletos is die dogters van Pedro en Rose Michaletos van Farm Inn. Anthea was 11 jaar oud en Theodora ses jaar oud toe die foto geneem is.

Visvoël in die water

In Junie 2005 wys ons vir lesers ‘n ongewone prentjie: Nog vis nog voël, maar tog ‘n bietjie van albei. PW, ‘n mak volstruis, was ooglopend gek daaroor om saam met sy mense in die plaasdam te swem.

Dié vreemdsoortige grootvoël het behoort aan Frik en Elma Potgieter en gesin, wat in daardie stadium op Bashewa gewoon het. In Oktober 2012 het ons weer gewys hoe volstruise swem, dié keer sonder mense in die dam op Somabula wildreservaat naby Cullinan.

Krokodil in Zwavelpoortspruit

In Januarie 2009 berig ons dat Charl van der Merwe ’n uitgevrete krokodil van by die twee meter lank in die Zwavelpoortspruit gevang het. Toe hy ’n reuse vanghok begin bou het om die krokodil, wat onder die vis in sy foreldam gemaai het, te vang, het almal vir hom gelag en gesê hy het seker ’n likkewaan of ’n groot baber gesien.

Maar Charl het sy vanghok in die dam gestel en in die tweede week van die nuwe jaar, ná een byna katastrofiese, mislukte poging, het hy ta veilig agter tralies gehad. Waar dié krokodil vandaan gekom het, is ’n raaisel wat steeds onopgelos is.

Mooiplaats se wagkoei

In Augustus 2009 berig ons oor Mooiplaats-legende, Molly die wagkoei, wat ’n hele paar oorwinnings op haar kerfstok gehad het. Van munisipale werkers tot polisiereserviste moes onder Molly se waaksaamheid deurloop. Haar eienares, Jenny Brits, het gesê dat Molly nie kon besluit of sy ’n buffel of ’n waghond is nie. Daar is ’n gekrap van grond en ’n onaardse gebulk as iemand dit op die Britse se plot waag. Molly maak ’n baie groter lawaai as ganse of waghonde en spring maklik bo-oor die heining om verbygangers te verwilder, is berig.

Molly was in 2000 ‘n paar dae oue Frieskalfie toe Jenny haar agter op ’n bakkie, wat op pad slagpale toe was, gesien en gered het.

Leeu loop los

In Julie 2010 berig ons dat ’n uitgevrete rondloperleeu Cullinan se inwoners op hol gehad het. Motoriste het die leeu gesien waar dit ’n entjie van die begraafplaas af oor die teerpad geloop het.

Die polisie is in kennis gestel en Pieter Vosloo van Diamond Alarms het met die hulp van ’n spoorsnyer die hoewegebied, waar die leeu intussen weer gesien is, tevergeefs gefynkam.

Twee dae later het Robert Curlewis die leeu gesien toe hy sy boorgatpomp gaan afsit het. Geen van die wildplekke om Cullinan wou pa staan vir die wegloperleeu nie. ’n Week of wat later het ’n inwoner gesien hoe ’n groep mans die leeu op die Brandbachpad verdoof en op ’n vragmotor gelaai het.

Luiperd in bloekomboom

In November 2010 berig ons dat ‘n luiperd gevang is nadat hy vier ure lank in ’n bloekomboom op Anton Bester se Mooiplaats-plot tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier, gesit het.

Anton se werker, Simon Mamogobo, het die luiperd gewaar. Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring se hulp is ingeroep en hy en ’n veearts van die Pretoriase Dieretuin het ’n gesamentlike strategie uitgewerk om die luiperd te verdoof. Dit het egter drie verdowingspyle geneem om hom uit die boom te kry en hy het rivier toe begin hardloop voor die verdowingsmiddel hom platgetrek het.

Die luiperd is Ingwe gedoop en moes eers ’n tandoperasie by Onderstepoort ondergaan voor hy in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat is.

Luislang in Wapadrand

In Februarie 2011 vertel ons dat ‘n luislang Wapadranders in die middernagtelike ure besig gehou het.

Die slang-vang avontuur het omstreeks 10 uur die aand begin toe Riekie le Roux ‘n groot slang oor Disselboomweg sien seil het. Nog ‘n Wapadrander, Anke Viljoen, het langs die pad stilgehou en slangvanger, Stephanie Kendall, gebel.

Stephanie het dadelik uitgekom, die slang is teen ‘n muur vasgekeer, in ‘n vervoersak gesit en na ‘n plek van veilige bewaring geneem.

Slangvanger Stephanie het vertel dat nog ’n luislang ‘n week voor dit in Lynnwoodweg gevang is.

Carlos die kroeguil

In Maart 2011 vertel ons hoe Karin en Dirk van der Walt van Bull & Bush, wat ‘n kuierplek op Tierpoort was, ‘n uilskuiken grootgemaak het, wat in ‘n uitgevrete kroeguil ontaard het. Carlos was baie tuis in die kroeg en het goed met die klante klaargekom. Die voorneme was om hom uiteindelik sy vryheid te gee sodat hy sy uilding in die natuur kan doen.

Ons het vertel dat Carlos gekom en gaan het soos die luim hom voorskryf. Hy het elke aand gaan jag en aanvanklik veral krieke, motte en ander goggas gevang. In daardie stadium het hy reeds sy muiskursus met sukses voltooi en sou na verwagting binnekort na groter prooi aanbeweeg.

Muskeljaatkat in stad

In Junie 2013 berig ons dat die Groesbeeks van Lynnwoodrif met ‘n ongewone nagbesoeker verras is.

‘n Kleinkolmuskeljaatkat het hom in een van die bome in hulle tuin tussen Eastwood Kantoorpark en Lots of Pots kwekery suid van Lynnwoodweg, tuis gemaak.

In die hoewegebied word dié katte meer gereeld gesien. In Oktober 2017 het ons berig dat Wieske van Zyl twee dooie muskeljaatkatte in ‘n sementsak op die Zwavelpoort-teerpad gevind het. Sy het in die verbygaan gesien ‘n kat se stert steek by die sak uit, het haar voertuig omgedraai en het gesien dat die muskeljaatkatte altwee dood was en waarskynlik van ‘n bakkie in die pad afgegooi is.

Operasie Tierboskat

In Oktober 2014 vertel ons dat ‘n tierboskat homself gaan vet voer het op Dewald en Karin Botha se hoewe, ‘n hanetree van die vier-rigtingstop by Cullinan se ‘Fourways’.

Pieter Vosloo van Diamond Alarms se hulp is ingeroep. Hy het gou die nodige kenners byeen geroep en dieselfde middag is operasie tierboskat uitgevoer. Kat se kind is verdoof en veilig in ‘n krat gesit om vervoer te word. Hy was ‘n geskatte vier jaar oud en het 20 kg geweeg. Petra Diamantmyn het toestemming gegee dat die tierboskat op hulle wildsplaas vrygelaat kon word.

Binnenshuise perdjie

In Oktober 2015 praat ons oor Anneli Marais se miniatuurperdjie, Biscuit. Die laaste ding wat ‘n mens in ‘n restourant verwag is ‘n perdjie, as besoeker, natuurlik – nie opgedis nie.

Biscuit het saam met die Tierpoort Seniors gekuier en het toegelaat dat die ooms en tannies hom vertroetel. Op die foto kuier hy by Dieter Laubinger. Biscuit dra ringe op troues aan, trek ‘n klein karretjie en is gewild by kinderpartytjies.

Die ander perde wat op dié dag vir vermaak gesorg het was Tania Vorster se Lipizzaner, Siglavy Celia, en Ruda Hendrikse se terapie-perd, Billy. Dié twee het egter buite gebly.

Muishonde in museum-tuin

In Maart 2015 vertel ons dat ’n groep wilde gestreepte muishonde hulle in die McHardy Huis-museum se tuin in Oaklaan, Cullinan tuisgemaak het. Dié sosiale diere bly in groepe wat volgens ‘n matriargale stelsel werk en siekes, verswakte oues en onbeholpe jonges beskerm.

Gestreepte muishonde maak wonderlike troeteldiere, tog word mense afgeraai om hulle mak te maak.

Dit is nie raadsaam om wilde diertjies te onderwerp aan die probleme wat hulle in die gesig staar in ‘n omgewing waarin hulle nie pas nie. Daar is wetlike voorskrifte om só 'n dier buite 'n bewaringsgebied aan te hou.

Arend-kuiken in mandjie

In Junie 2015 vertel ons dat ‘n swartborsslangarend-kuiken in die Klipkop Bewarea gered is. Solette Lubbinge het die slangarend-ma, nog voor die kuiken uitgebroei het, begin dophou. Een oggend het sy wit donsies onder die wyfie sien uitsteek. Maar toe kom daar ‘n storm terwyl hulle vir die naweek weg was en die nes het verdwyn. ‘n Dag later eers het Solette die klein arend op die grond sien lê.

“Ek sou myself nooit vergewe het as ek hom aan sy lot oorgelaat het nie,” het sy gesê. Daarom het sy ‘n nuwe nes gemaak deur ‘n draad-hangmandjie oop te sny en plat te druk. Hulle het die mandjie bo in die boom vasgemaak, blare en takke ingesit en die kuiken versigtig in sy nuwe nes terug gesit.

Juffrou Struis

In Junie 2016 het Vreethans en Metgesel vir die eerste keer ‘n ete met ‘n uitgevrete volstruiswyfie gedeel. Hulle het op ‘n sonnige Saterdag afgesit Sandwani toe: Deur die mooi wildeseringveld van De Tweedespruit, tot by die plek se afdraai op die stukkie aarde waar die myn van weleer dongas gelaat het vir vandag se viertrekmense om te geniet.

Die kuierplek op Sandwani het die gepaste naam van Die Wawiel. Die plek is ‘n wildplaas en deur die restaurant se oop venster het Metgesel vir juffrou Struis met ‘n paar oortollige slaaiblare laat meedoen aan die maal.

Skootskapie in sitkamer

In Junie 2017 wys ons vir lesers hoe ‘n skootskapie dié winter ewe knus op die De Wets van Bashewa se sitkamerbanke spandeer het. Ons het gehoor dat hy ‘n baie rare lammetjie was wat mildelik bederf is en deel is van die gesin.

Eienaar Hannes de Wet het verduidelik dat dié Île-de-France lammetjie met swart kolle gebore is, wat baie skaars is. Hannes het gesê die kolle is glo die gevolg van ‘n gesplete geen, wat die lammetjie anders as sy witwol-ouers laat lyk.

Die kolle is ook verantwoordelik vir dié klein rammetjie se naam, Patch.

Bapsfontein se luiperd

In Oktober 2017 berig ons dat ‘n luiperd buite Bapsfontein gepyl en gevang is. Die vang-drama het amper op ‘n tragedie uitgeloop toe die luiperd die veearts, dr Pieter Engelbrecht van die Bapsfonteinse Dierehospitaal, stormgeloop het.

‘n Boer se honde het die luiperd tussen buitegeboue vasgekeer. Pieter moes dit te voet nader waag omdat hy nie op ‘n afstand deur die draadheining met die verdowingspyl kon skiet nie.

Toe die pyl die luiperd tref het hy met ‘n geweldige spoed op Pieter afgestorm. Die lendelam heining het gehou, die luiperd het omgetol en tussen geboue verdwyn, waar hy aan die slaap geraak het. Hy het ‘n halsband gekry en is in die Dinokeng Groot Vyf Wildreservaat vrygelaat.

 

© 2018 Die/The Bronberger