Ongelukkig oor sekuriteitsdiens Print E-mail
News - Briewe
Monday, 18 May 2009 05:56
Untitled Document

Henry Flint van Zwavelpoort skryf:
Ek versoek u om asseblief my brief te plaas in die volgende uitgawe van Die Bronberger. Ek voel dit is my plig om mense in ons omgewing te waarsku dat hulle nie hulle vertroue net in sekuriteitsmaatskappye moet stel vir hulle veiligheid nie. Dit is miskien beter om glad nie van hulle dienste gebruik te maak nie, dan mors ’n mens nie kosbare tyd nie en ’n mens het nie valse vertroue dat jy veilig is nie.

Die volgende gebeure wat vanoggend (21 April) by ons afgespeel het, verduidelik hierdie punt. Ons woon op ’n hoewe in Zwavelpoort en is nou al omtrent drie jaar klante van Community Patrols.

In die begin was die diens aanvaarbaar en hulle het ons eiendom gepatrolleer en gou op kragonderbrekings en alarms gereageer. Die diens het egter stelselmatig agteruitgegaan en, soos ons vanoggend ondervind het, heeltemal verbrokkel.

Vanoggend so net na vier uur is die huisalarm geaktiveer. Ons het wakker geskrik en gewag dat Community Patrols ons bel. Hulle het ons na vyf minute gebel. Ons sê toe vir die beheerkamer dat hulle ’n voertuig moet uitstuur want ons is nie seker wat die alarm geaktiveer het nie. Ons wag nou nog.

Ons het die beheerkamer na ’n uur self geskakel en verneem dat die reaksie- eenheid glo by ons was maar dat hulle nie by die hek kon inkom nie. Hulle het toe maar weer vertrek. En hier sit ons in ons kamer toegesluit en vertrou dat ons veilig is.

Net bietjie meer agtergrond oor wat hulle verskoning was toe ons netnou met hulle gepraat het. So paar weke terug het hulle vir ons gesê dat ons ’n “keypad” moet laat opsit as ons wil hê hulle moet ons eiendom patrolleer. Hulle het dan ’n kode en kan kom en gaan soos hulle wil. Ons het toe gesê hulle moet die “keypad” kom opsit. Dit kos omtrent R1 500. Ons sukkel nou al vir meer as twee weke dat die keypad ordentlik moet werk. Hulle moes al verlede week gekom het om dit reg te maak. Hulle verskoning is nou dat die reaksie-eenheid omgedraai het want hulle kon nie die “keypad” gebruik om in te kom nie.

Die persoon in administrasie met wie ek en Jacques Muller deel is Riaan.

Brief verkort. Ons het dié brief aan Community Patrols aangestuur vir kommentaar.- Red

Henda Kniep van Community Patrols antwoord op 23 April:
Ons is in die proses om ondersoek in te stel. Ons wil ook graag met die reaksie-offisiere sowel as die beheerkamerpersoneel praat wat betrokke was. Ongelukkig werk hulle skofte en die reaksie-offisier was op sy laaste nagskof toe ons die e-pos ontvang het. Hulle is op drie dae rus en werk dan weer eers Saterdag. Ons sal aan julle terugvoer kan gee sodra ons met hom gepraat het. Sover het ons ook al die voertuig “tracking” getrek.

Teen tye van ons sperdatum het ons niks verder van Henda gehoor nie, maar wel van Riaan.-Red

Riaan Volschenk van Community Patrols antwoord op 5 Mei:
Na kommunikasie met mnr Muller het die gesprek doodgeloop, eerstens omdat hy nie meer van ons dienste wil gebruik maak nie. Ek het vir mnr Muller heelwat koste-vrye voorstelle gemaak om in die toekoms te verhoed dat sulke gevalle nie weer gebeur nie, maar mnr Muller het dit ook van die hand gewys. Jacques Muller is al vir jare ’n kliënt van ons, en daar was nog nie enige ernstige voorvalle nie. Mnr Muller het gesê hy bly tans kliënt van ons tot hy enige ander maatskappy genader het. Hy sal ons in kennis stel.

Ons is nie seker of Riaan na Henry Flint verwys nie.-Red

 

© 2020 Die/The Bronberger