Jessica wil volgende jaar skool toe gaan PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 October 2018 09:32
Untitled Document

Die blakend gesonde dogtertjie wat in Mei 2015 op ons voorblad gepronk het, het kanker.

Vir verlede maand se verjaardag-uitgawe het ons deur 16 jaar se Bronnies gesoek en gesif om 16 voorblaaie te kies waarop mense uit die Bronberg-gebied gepronk het. Jessica Coetzee en haar kapokkiepop, Tamagotchi, was een van dié wat ons gekies het.

Op die voorblad was sy vier jaar oud en haar ouma, Cathy du Plessis van Cullinan, het vertel dat die kapokkie baie tuis in haar poprol was en tevrede in die waentjie gesit het tot sy uitgetel word.

Die kapokkie is in Desember verlede jaar dood en in Januarie vanjaar, toe al Jessica se graad R maatjies begin regmaak het vir die groot skool, moes Jessica hospitaal toe gaan. Sy is in die Steve Biko Hospitaal met erge hoofpyn opgeneem en haar linkerkantse gesigspiere was verlam.


Die sewejarige Jessica

Die dag voor dit wat haar eerste dag in graad een sou wees, is Jessica na die pediatriese onkologie saal geskuif. Sy is met Rhabdomyosarcoma gediagnoseer – ‘n soort kankergewas wat tussen die oor, nek en skedel groei.

Die gewas het die verlies van gehoor in haar linkeroor veroorsaak en het die senuwees van haar linkeroog, gesigspiere, tong en keel verlam. Dit het ook na probleme met balans gelei.

Dit is baie moeilik om enigsins te probeer eet en Jessica kry al haar voedingstowwe in deur ‘n pyp, wat direk na haar maag gaan.

Die sewejarige Jessica het in Januarie begin met ‘n 11-maande- lange radioterapie- en chemoterapie-behandelingsplan. Ná 28 radioterapie-sessie en 10 maande van chemo-behandeling is haar geliefdes vol hoop dat die gewas verwyder kan word of suksesvol behandel kan word sodat sy volgende jaar kan skool toe gaan.

Die skade aan die senuwees kan dalk permanent wees, maar haar familie bly bid dat sy ten volle sal herstel.


Die vierjarige Jessica as voorbladnooientjie

Jessica is van haar baba-dae ‘n bekende in Cullinan se Oaklaan toe haar ouma, Cathy, haar trots in haar stootwaentjie aan besoekers voorgestel het. Cathy en haar beeldhouer-man, Johan, is die eienaars van Trading Post.

Johan is ‘n voltydse kunstenaar wat sweiswerk as deel van sy skeppingsproses gebruik. Sy beeldhouwerke sluit ‘n wye verskeidenheid mediums in, van metaal, brons, graniet, marmer, sandsteen en sement. Hy is veral bekend vir sy kunswerke wat van hoefysters gemaak word.

Mense wat dié familie graag wil help, kan bydraes lewer by: C du Plessis; Capitec Bank; rekeningnommer: 1489122549; taknommer: 470010.

 

© 2018 Die/The Bronberger