Stoepstories by ‘n ‘nuwe’ teaterkafee PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 23 October 2018 09:33
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons lees in die Bronnie dat ene Spinnekop in sy superheldpakkie by Lagom Café weggespring het op sy epiese voetslaantog na Lüderitz. Spinnekop doen dit om mense van orgaanoorplantings bewus te maak. En vir die eerste keer raak ons bewus van dié nuwe kuierplek langs Lynnwoodweg.

So swenk ons een mooi Saterdag in by die perseel wat jare reeds die Karoo Cafe in Die Wilgers huisves en loop soek parkering by nog ‘n nuwe koopsentrumpie (Ridge Square) wat aan die noordelik voet van die Bronberg staangemaak is.


Gerookte beesrib

Ons kry ‘n stilhouplekkie tussen ‘n groot trop ysterperde en dit word dadelik duidelik dat ons nou in Harley Davidson-wêreld is. Langs Lagom is ‘n Harley-winkel wat druk besoek word en op Lagom se stoep sit groepe kleurryke ruiters en kuier.

Jy kan ook binnenshuis in die netjiese teater-kafee by een van die tafeltjies plaasneem. Plakkate teen die mure dui aan dat gewilde en ook goeie musikante sporadies hier optree. Ek en Metgesel sit onder ‘n sonsambreel op die stoep aan. Ek bestel ‘n koue enetjie teen die hetige son en Metgesel ‘n koffie teen die dreigende onttrekkingsimptoom.

Lagom is ‘n Sweedse woord wat kortom ‘net die regte hoeveelheid’ beteken. Nie te veel nie, nie te min nie, maar net reg, kan jy maar sê. Drie spyskaartjies, een elk vir oggend, middag en aand, doen gestand aan dié Sweedse uitdrukking: Nie te veel keuses nie, maar genoeg oorspronklikheid en verskeidenheid.


Twee toegedraaide hoender-en-goed

Onder die hofie ‘Wakey-Wakey’ kan jy ‘n gesondheidsdrankie met gemmer, heuning, suurlemoensap en rooipeper (cayenne) teen R15 bestel. En jy kan die brood van jou keuse met die nodige smere, of jogurt met granola en heuning teen R45 stuk nuttig.

Onder ‘Egg en Bakey’ is vier verbuigings van ‘n Engelse ontbyt teen tussen R45 en R70. Eiers Benedict (R80 of R90 vir twee soorte) en omelette teen R55 – met ekstra vir ekstras.

Voorgeregte, ‘wraps’, burgers en ‘n goeie verskeidenheid slaaie beslaan een spyskaartbladsy. Die hamburgers weeg teen tussen R65 en R95 in. Drie van die ses aandkeuses, wat hulle ‘nightfall nibbles’ noem, is ook uit die hamburgerstal.


Netjiese teatertafeltjies

Die middagvertoning wys ‘n aantal kenmerk-geregte (signature dishes) en ek bestel een van hulle omdat dit vir my nuut is. As ek al voorheen stadig-gerookte beesrib geproe het, het ek dit vergeet. Dit word bedien saam met koolslaai en skyfies, of nog slaai en kos R175. Metgesel besluit op die ‘wrap’ van hoender en goed.

Ander kenmerk-geregte is T-been (500 g) teen R155, kruisskyf (300 g) teen R145, halwe hoender (R98) en lynvis teen R145. Jy kan ook deelborde en ligte etes van nachos en hoenderrepies bestel. Nagereg is roomys of kaaskoek met roomys.


Ysterperde voor Lagom

Lagom wyk effe af van sy naam in my en Metgesel se bestelgevalle want die twee toegerolde hoender-en-goed en my gerookte rib kan as ‘amper te veel’ beskryf word. Die ribgereg is geurig en hy smaak vorentoe, maar dis ‘n effense droge gedoente en dit kos kaaklamkou om ‘n stukkie eers verby die kleintongetjie te kry. Gelukkig bedek ‘n lagie gesonde vet die vleisstuk en dié gaan maklik af. Metgesel meen die toegevoude hoender, avo en goed en die slaai smaak net soos sy daarvan hou.

Dit was ‘n aangename kuier tussen die vriendelike ysterperdruiters op Lagom se stoep. Die gebrul van Harley’s se kom en gaan het ons nie gepla nie, grootliks oor dit telkens nie te lank aanhou nie. Amper soos ‘n hadida, dink ek: ‘n Mooi geluid, maar net in kort sessies. Jy kan Lagom se mense by 083-281-7284 bel vir meer inligting.

 

© 2018 Die/The Bronberger