PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 18 May 2009 04:39
Untitled Document

Dit is ’n ou wysheid dat jy nie sommer ’n man op sy baadjie moet takseer nie. Só ’n man is oom Gertjie Niemoller van die Boesmanland. Oom Gertjie het nie groot boekgeleerdheid nie en nog minder geite en fieterjasies, maar die houtjie van die galg kan ’n paar trieks by hom gaan leer.

Gertjie Niemoller is gebore en getoë anderkant Pofadder in Pella se wêreld. Dit is hy wat die plaas, Klein Pella, tot ’n sieraad uitgebou het. Met dadels en karakoel en met die ontginning van minerale het oom Gertjie op groot skaal vooruit geboer. Dit was gou alom bekend dat hy ’n baie vermoënde man is, al sou jy dit nie sommer sê as jy onwys genoeg sou wees om hom op sy baadjie te takseer nie.

Oom Gertjie sou jy trouens selde of ooit in ’n baadjie of in ’n langbroek sien. Hy het kortbroek, kakiehemp en hoed gedra. En velskoene, met of sonder kouse. En soos hy aangetrek het om sy take op die plaas te doen, só het hy aangetrek vir dorptoe- gaan, besigheid-gaan-doen of vir gaan-kuier. Dan het hy met sy goedgebruikte plaasbakkie gery waar hy moes wees of wou wees.

Op veilingdae het Gertjie Niemoller onder sy hoed opgedaag in sy kortbroek en velskoene en soms was die broek sommer met ’n riem of ’n das om sy middellyf vasgeknoop om die ding bo te hou. ’n Praktiese man, oom Gertjie.

In sy hand het hy altyd so ’n afgeleefde, blou Globite koffertjie gedra. Dan het oom Gertjie sy plek op die plankstellasie langs die veilingkraal ingeneem en aggresief gebie op die diere waarin hy belangstel. As dit by betaaltyd kom, het hy sy blou koffertjie oopgeknip en die kontantnote uitgetel.

Nou vertel hulle dat oom Gertjie op ’n goeie dag besluit het die tyd het aangebreek vir hom om ’n nuwe kar te koop. Hy het raad gevra by vriende oor wat hulle sou dink ’n ‘grênd’ kar is. Op hulle aanbeveling sit hy toe af Kaap toe om vir hom ’n nuwe Mercedes ‘uit die boks uit’ te loop koop.

In sy gewone drag van kortbroek, velskoene en kakiehempie en met sy blou Globite koffertjie in die hand, stap Gertjie Niemoller op ’n gegewe dag by die grênd handelaar van dié grênd karre in die Kaap se vertoonlokaal in.

Oom Gertjie het ’n bietjie rondgestaan, ’n bietjie hier gekyk en daar geloer, maar niemand het nadergekom om hom te help nie. Toe klim hy maar agter die stuur van een van die blink, nuwe vuurwaens wat hom geval in - om die gevoel van die ding te kry. En dis glo eers toe dat ’n gekoller-en-getaaide mannetjie agter sy lessenaar uitskuif en haastig naderstaan.

“Wat dink jy doen jy?” vra die mannetjie vies. “Jy kan nie sommer hier kom en in die karre inklim en hulle vuil smeer nie,” raas die verkoopsknapie.

“Nee, maar dan is dit goed so,“ sê Gertjie Niemoller van Klein Pella en hy vat sy Globite koffertjie en stap by die vertoonlokaal uit. Skuins oorkant die pad van die Mercedes-handelaar af was die BMW-garage. Oom Gertjie kies toe maar koers soontoe. Daar aangekom word hy dadelik deur ’n verkoopsman verwelkom en gevra wat hulle vir hom kan doen. Duidelik het dié verkoopsman die wysheid van nie-takseer-op-die-baadjie-nie, geken.

Daardie dag het oom Gertjie Niemoller nie net een nie, maar sommer twee blink, nuwe BMW’s gekoop – kontant met note uit sy blou Globite koffertjie uit. Die tweede een was ’n verassing vir sy broer.

Met die transaksie beklink, vra die verkoopsman, wat natuurlik uit sy vel uit is, vir oom Gertjie wat hom laat besluit het op BMW. “Nee,” sê die oom, “die mannetjie daar oorkant het my soos ’n hondsdol brak by sy winkel uit gejaag, toe stap ek maar hier by jou in.” Hulle sê die verkoopsman het dadelik sy kollega oorkant die straat gebel om met groot vermaak sout in sy selftoegediende wonde te vryf.

 

© 2019 Die/The Bronberger