Bendes booswigte verwoes Pienaarspoort PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 07 December 2018 08:27
Untitled Document

Pienaarspoort loop deur onder verwoestende bendes wat mense nie net rot en kaal besteel nie, maar ook hulle huise afbreek en alles wat bruikbaar is wegdra. Huiseienaars word met die dood gedreig as hulle dit durf om voet op hulle eie eiendom te sit.

‘n Eienaar van ‘n 11,3 hektaar kleinhoewe op Pienaarspoort, ongeveer 12 km vanaf Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu), is net een van vele wat onder dié boewe deurloop. Dié eienaar het gevra om anoniem te bly en gevra dat die kleinhoewe se nommer nie genoem word nie.


Die geysers is uitgeruk en die sinkplate word gestroop
Foto’s: Verskaf

Sy vertel dat haar bure op 16 November gesien het dat ‘n bende van 20 booswigte besig was om vyf huise op dié kleinhoewe te besteel en toe begin het om die strukture af te breek. Die eienaar het dadelik die polisie gebel en het nie eers by die kleinhoewe probeer ingaan nie, tot ‘n lid van Conserv, die plaaslike gemeenskapsveiligheidsgroep, daar aangekom het. ‘n Buurman, wat die oproep op die Conserv-radioverbinding gehoor het, het ook dadelik gekom. Die polisie het ongeveer ‘n uur later opgedaag.

Die bende het gevlug toe almal opdaag, maar was op 17, 18 en 19 November weer terug om die huise verder af te breek. ‘n Buurman het aanhou probeer om die bende weg te jaag, maar hulle het gesê dat hulle hom sal doodmaak as hy weer daar opdaag.


Vensters is eers versigtig verwyder

Die plafon en dak is afgeruk

Die eienaar sê dat sy op 22 November weer probeer het om by die kleinhoewe in te gaan. Sy het vier booswigte in die tuin gesien staan, waar hulle haar aangegluur het en sy kon hoor hoe ander lede binne besig was om mure af te breek.

Sy het nie uit haar voertuig geklim nie en het weggery en die polisie gebel. Sy het ook na die Boschkopse polisiestasie gery om die voorvalle te rapporteer en te vra dat hulle iemand uitstuur om uit te vind wie die bendelede is.


Die foto van dié badkamer is op 16 November geneem, toe die eienaar nog met begeleiding by die eiendom kon inkom

Die eienaar sê dat hulle sedertdien nie weer toegang tot hulle eie kleinhoewe kon kry nie. Hulle word telkens met die dood gedreig deur die mense wat besig is om hulle huise af te breek. Sy sê dat sy op 22 November weer na die Boschkopse polisiestasie gegaan het om ‘n saaknommer te probeer kry. Die stasie se stelsel was glo buite werking, maar die eienaar het geweier om die stasie sonder ‘n dossiernommer te verlaat. Sy sê dat sy elke insident oor sewe dae by die polisie aangemeld het, maar geen terugvoer ontvang het nie.

Die eienaar het vir die Bronnie ‘n reeks foto’s gestuur wat op 16 November geneem is, toe sy nog met begeleiding by die eiendom kon inkom. Die vandalisme het sedertdien toegeneem en teen die Bronnie se saktyd het sy gesê sy weet nie eers of daar nog strukture staan nie.


Hier was eens wasbakke, waterpype en ‘n venster

Veiligheidshekke word gesteel
.

Die Bronberger het reeds in Junie 2014 berig dat huise en winkels in Pienaarspoort gestroop word tot net puin oorbly. In ‘Plakkers lê Pienaarspoort-plotte in puin’ het ons berig dat ‘n klomp van die plotte in dié gebied in puin lê, soos plot 31, wat eers aan die Towsens behoort het, waar Annemarie Towsen ‘n perdryskool gehad het, poniekampe gehou het en ‘n tuiste vir Angels with Hooves gebied het.

Verlede maand het Die Bronberger ‘n anonieme brief geplaas van iemand wat ‘n lys gestuur het van mense wat in Pienaarspoort aangeval word en ten minste 14 kleinhoewes wat geteister word.

In die nabye omgewing is daar ‘n plakkerskamp op plot 45, Pienaarspoort, en die Lethabong nedersetting op plotte drie en vier, Donkerhoek. Inwoners het egter gesê dat die stropers se spore deur die sandgate in die rigting van Mandela Village-plakkerskamp in Mamelodi loop.

Pogings deur Die Bronberger om kommentaar by die Boschkopse polisie te kry, was onsuksesvol.

 

© 2018 Die/The Bronberger