Metroraad moet Zwavelpoort se bome vervang PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 07 December 2018 08:29
Untitled Document

Zwavelpoorters se gesneuwelde sypaadjie-bome gaan deur die Tshwane-metroraad vervang word.

Groot ongelukkigheid het geheers toe munisipale werkers die bome langs Achillesweg op
8 November afgekap het. Volgens Lucia Nagel van die Zwavelpoortse Huiseienaarsvereniging het landgoedontwikkelings soos Olympus Heights en Luberon die ergste onder dié verwoesting deurgeloop.

Ekonoom en televisie-aanbieder, Dawie Roodt, sê dat hy amper ‘n hartaanval van woede gekry het toe sy vrou hom gebel het om te vertel dat die bome afgekap is. Dawie vertel dat hy en sy gesin tien jaar gelede die eerste inwoners van Luberon was en dat hy self die sypaadjie skoongemaak het en 30 huilbome aangeplant het.

Hy het besluit op huilbome, Peltophorum africanum, omdat hulle inheems is en nie baie groot word nie. Vir die afgelope tien jaar het Dawie na dié bome omgesien, hulle water gegee en gesnoei sodat hulle nie aan die veiligheidsheining raak nie.

Kragdrade
Dawie sê dat die oorhoofse 11 KV kragdrade baie hoër was as die bome en dat die gesnoeide bome die kragdrade op geen manier kon beïnvloed nie. Daar was geen waarskuwing voor dié bome afgekap is nie en Dawie sê dat dit tussen R8 000 en R10 000 per boom sal kos om die afgekapte bome met bome van soortgelyke grootte te vervang.

Zwavelpoorter, Leo Middelberg, bevestig dat daar geen konsultasie met grondeienaars of landgoedontwikkelings was om die ‘skoonmaak’ proses te bespreek nie. Hy sê dat ander dele van die MK-kraglyn heeltemal toegegroei is, maar dat daar niks aan gedoen is nie. Slegs bome wat nie ‘n probleem veroorsaak het nie, is afgesaag.

Metroraad woordvoerder, Lindela Mashigo, het aanvanklik gesê dat die munisipaliteit onlangs met ‘n projek begin het om bome af te kap, veral dié wat oor kragkabels hang en vir kragonderbrekings verantwoordelik kan wees. Lindela het gesê as bome buite ‘n landgoed se mure geplant is, dit nie op private grond is nie.


Die ingang na Luberon-landgoed toe daar nog bome was

Private
Volgens Lucia Nagel van die Zwavelpoortse Huiseienaarsvereniging het die metroraad glad nie verstaan dat dinge anders werk in die Zwavelpoortse hoewegebied nie. “Die sogenaamde sypaadjies en selfs die pad, Achillesweg, is nie serwitute wat aan die metroraad behoort nie. Dit is bloot reg-van-weg deur die hoewegebied op private grond,” het sy gesê.

Zwavelpoorters het op 22 November ‘n vergadering met Darryl Moss, lid van die bestuursraad verantwoordelik vir streek ses, gehou. Lucia sê dat die metroraad heel onkant gevang is toe daar aan hulle uitgewys is dat die verwoesting op private grond was.

‘n Opvolg vergadering is gereël sodat Christine Myburgh van die metroraad se departement van stedelike bosbou die vervanging van die bome met inwoners kon bespreek. Sy het onderneem om Dawie Roodt van Luberon se huilbome te vervang, asook die ander inheemse bome wat langs Achillesweg afgesaag is.

Probleme
Volgens Lucia het die vergadering met Darryl Moss goeie gevolge gehad en is ander probleme in Zwavelpoort ook aangespreek, soos krag-, waterdruk- en riool-probleme asook die toestand van die paaie.

Wat elektrisiteitsprobleme aanbetref, het Tshepo Tompa, direkteur van die metroraad se elektrisiteitsafdeling vir streek ses, gesê dat fases een en twee van die opgradering aan die MK-kraglyn voltooi is. Fase drie sal begin as Capex-befondsing beskikbaar is en al die oorhoofse kragdrade sal dan vervang word en sommige sal ondergronds loop.

Zwavelpoorter Werner Buttner het aan die metroraad-verteenwoordigers verduidelik hoe kragprobleme ‘n hoewegebied beïnvloed. Zwavelpoort is nog grootliks ‘n landbougemeenskap waar die meerderheid inwoners boorgate vir drinkwater gebruik. Kragonderbrekings van drie tot vier dae op ‘n slag beteken dat die mense nie drinkwater het nie.

As die krag weer aankom, is dit gereeld nie die volle drie-fase krag nie, wat skade aan boorgatpompe en ander elektriese toestelle veroorsaak.


Dawie Roodt se huilbome, wat voor Luberon-landgoed afgekap is

Riool
Landgoed-ontwikkelings wat Lilliput en ander stelsels vir riool gebruik moet in kragonderbrekings vragmotors laat kom om die riool uit te suig. Wanneer dié rioolstelsels nie werk nie, word die grondwater besoedel, wat beteken dat die boorgat-drinkwater en die Zwavelpoortspruit besoedel word.

Inwoners het ook gekla oor The Hills se voorgestelde rioolpyplyn wat met vêrreikende gevolge oor Zwavelpoorters se grond sal loop, sonder dat dit met hulle bespreek is. Darryl Moss het onderneem om binne ‘n week ondersoek te laat instel oor die riool-stelsels vanaf Ajaxstraat tot Atterburyweg en die Zwavelpoortpad.

Darryl het ook onderneem om die pypwaterprobleme te ondersoek met die lyn wat langs Achillesweg afloop en in Saintsstraat na Blue Water Creek oploop. Hy het gesê dat hy ‘n span sal aanstel om die moontlike installasie van ‘n kragopwekker by die reservoir te ondersoek. So ‘n kragopwekker sal met kragonderbrekings inskop sodat inwoners op dié pyplyn se roete nie waterdrukprobleme hoef te ervaar nie.

 

© 2018 Die/The Bronberger