Kanonpoeding en Kersfees in Engelse oorlogkampe PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 07 December 2018 08:30
Untitled Document

Angie Kleijn

Met Kersfees op die horison wonder ‘n mens hoe dié spesiale dag in die Engelse Oorlog gevier is. Was Kersfees in die konsentrasiekampe, krygsgevangenekampe of op kommando anders as gewone dae? Was daar Kerskaartjies of poskaarte in dié tyd wat die res van die wêreld laat besef het waardeur ons mense gaan?


Nog ‘n Kersgeskenk aan die Britse troepe lees: “Frae Scots tae Scots, South Africh 1900, For Auld Lang Syne”
Foto: Gentleman's Military Interest Club

Die blikkie lees: “Semper Fidelis, from the 3rd & 4th Battalions, to the 1st & 2nd Devon Regiment, South Africa, Xmas 1901”
Foto: Gentleman's Military Interest Club

Die eerste oorlog-Kersfees was in 1899, toe die oorlog nog nie eers drie maande oud was nie. Dit was voor Boervroue en -kinders in konsentrasiekampe gestop is en hulle het nog spesiale Kerspakkies, wat koek, tert, dadels, rosyntjies en amandels bevat het, vir die manne op kommando gemaak.


Die binnekant van die koningin Victoria sjokolade-blikkie
Foto: Warstuff

Pretoria se vroue het vroeg daardie Desember ‘n komitee gevorm om die manne oor die feesgety te trakteer. Daar was ook sulke komitees op Lichtenburg, Wakkerstroom en Krugersdorp.


Dié blik met pruim-poeding uit 1899 is nooit oopgemaak nie. Die boodskap daarop lees: “For the Naval Brigade, In the Front, With Miss Weston’s Best Christmas & New Year, 1900, Wishes."
Foto: BBC

Ladysmith
Met Kersfees 1899 was die Britte in Ladysmith onder beleg, maar het besluit om dié feesgety steeds te vier. Die ‘Border Mounted Rifles’ het op 22 Desember ‘n konsert gehou met ‘n ietwat ongewone orkes: die trom was ‘n meeldrom met skaapvel bo-oor gespan en die fluite was verskeie blikfluitjies.

‘n Kerspartytjie is vir die dorp se 200 kinders gehou, kompleet met speelgoed, koek en gemmerbier.

Daar was vier Kersbome by dié partytjie, wat Suid-Afrika, Brittanje, Australië en Kanada gesimboliseer het.


Sakresies in die konsentrasiekamp by Standerton, Kersfees 1901
Foto: Geheugen van Nederland - Zuid-Afrikahuis

Die verpleegsters by die Intombi-hospitaal het elkeen ‘n pakkie met Port, lemmetjiesap, korente, mieliemeel en geblikte tong ontvang. Kate Driver het geskryf dat dié items saam gesit is vir gebruik deur die hele hospitaal.

Op Oukersaand was daar kerkdienste en Kersliedere is gesing. Op Kersoggend het die Boere op die randjies glo met kanonne begin skiet. Een 15-pond kanondop het glo nie ontplof nie en by nadere ondersoek is gevind dat dit nie plofstof nie, maar ‘n pruimpoeding bevat het met ‘n boodskap by: Komplimente van die seisoen.


Kersdagbedrywighede by die Standertonse konsentrasiekamp, Kersfees 1901
Foto: Geheugen van Nederland - Zuid-Afrikahuis

Kampe
Toe Kersfees in 1900 en veral in 1901 aanbreek, was die konvensionele fase van die oorlog verby en die Boere was verhonger. Die trakteerdery deur die vroue was iets van die verlede. Hulle het self in konsentrasiekampe gesit. Die verskroeide aarde beleid is juis ingestel sodat vroue nie die mans in die veld kon help nie.

Volgens Cornelia Nikke Strydom se proefskrif, ‘Kinders in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) konsentrasiekampe: ‘n ondersoek na die moontlike invloed van voeding en belewenis’, was Kersdag wel anders as ander dae. Met die Kersfees van 1901 het Kapenaars pakkies met lekkernye vir die kinders verpak en na die Vredefortkamp gestuur.


Feesvieringe in 1899 op Ladysmith wys die ‘Border Mounted Rifles’ se Kerskonsert op 22 Desember
Foto: molegenealogy.blogspot

In sy bedankingsbrief aan die afsenders, skryf ds J Horak vanuit dié kamp dat die lekkernye met dankbare harte deur die kinders ontvang is, want “. . . de kleinen hebben
maar weinich om zich het leven te veraangenamen.”

In die konsentrasiekampe het baie min kinders glo gespeel. Deneys Reitz, wat sy oorlogsherinneringe in 1903 opgeteken het, noem dat dit hom getref het dat die kinders in die Kaapkolonie – wat in ‘n mindere mate as die twee Boererepublieke deur die oorlog geraak is – nog speel.


Dié Australiese Kersboom was een van vier sulke bome by die Kerspartytjie wat in 1899
vir Ladysmith se kinders gehou is
Foto: molegenealogy.blogspot

Hy skryf dat die eerste ding wat hom getref het toe hy ‘n plaaswerf in dié kolonie binnery, was die gesig van kinders wat speel. Vir meer as ‘n jaar het hy geen kind sien speel nie.

Volgens Cornelia se proefskrif is daar egter amptelike sportbyeenkomste aangeteken, veral om belangrike feesdae soos Kersfees, Nuwejaar of koning Edward se verjaardag te vier. Op Kersdag 1900 is daar in die Bloemfonteinkamp ‘n sportbyeenkoms gehou, wat ook ‘n konsert ingesluit het. Op koning Edward VII se verjaardag in 1901 was daar ‘n toutrekkompetisie en driebeenresies.


Dié blikkie, wat met Kersfees 1900 aan Britse troepe gestuur is, was vol sjokolade. Die prentjie is ’n profiel van koningin Victoria
Foto: the-salesroom.com

‘n Noodrantsoenblik vir Britse troepe in Suid-Afrika, 1899 tot 1902
Foto: Tommy Spackfillers

Die koning se verjaardag is ook in die Oranjerivierkamp gevier. Die dag se program het ‘n hinderniswedren vir seuns, sakresies, driebeenresies en lemoen-in-die-emmer ingesluit. Vir die meisies was daar ook speletjies wat beskryf is as “threading the needle”, “bolster fight on donkeys” en ‘n “bun and ginger-beer”-resies. Die snaaksste item op die program was glo die orkes-resies, waar elke man moes hardloop terwyl hy ‘n instrument bespeel.


Die sortering van Kersfees-posstukke aan Britse troepe in die oorlog, 1899 – 1902
Foto: hippostcard.com

Hardloop!
Cornelia skryf dat daar ook in die Barbertonkamp ‘n sportgeleentheid op Nuwejaarsdag was. Sy het die herinnerings van Pieter Kruger, wie se ma aan die resies deelgeneem het, opgeteken.

Pieter onthou dat sy ma weggespring het en hoe die ander vrouens haar aangepor het met die woorde: “Regina, hardloop. Hardloop. Moet nie dat Joiner en Hensopper vroue jou wen nie. Hardloop, Regina!” Regina het gehardloop en die eerste prys van drie sakdoekies gewen.


Die amptelike Kerskaartjie van die Britse eerste bataljon
Foto: royaldublinfusiliers.com

Elders is daar aangeteken dat Kersfees in 1901 by die Standertonse konsentrasiekamp gevier is. Dit is ook by die Volksrust-kamp gevier. In November 1901 was daar 1 000 skoolgaande kinders in dié kamp en met Kersfees het hulle lekkergoed en dadels gekry en ‘n sportdag is gehou. Dit was opmerklik dat die kampinwoners gedwing is om Engelse speletjies te speel en Engelse rympies op te sê.

In die konsentrasiekampe dwarsoor die land het 26 370 vroue en kinders aan honger, siektes en ontbering beswyk. Die meeste was kinders. Dit is omtrent vier keer soveel as die mans wat in dié oorlog dood is.


Oor die Anglo Boere-oorlog: ‘Christmas On The Veldt, A Correspondent’s Pudding’ – ‘The Sphere’, Desember 1900
Foto: Ruby Lane

Die 15-pond ‘bom’ wat die Boere afgeskiet het was ‘n pruimpoeding as Kersgeskenk aan die Britte
Foto: molegenealogy.blogspot
.

Krygsgevangenes
Die Britse magte het omtrent 27 000 Boerekrygsgevangenes van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Vrystaat asook Kaapse Rebelle en simpatiseerders van ander lande van 1899 tot 1902 gevange geneem en in die suidelike Atlantiese Oseaan, Karibiese streek en Asië aangehou.


Die Britse herwinningsdepot by De Aar, Kersgroep in die oorlog, 1899
Foto: mentalfloss.com

Dié krygsgevangenes het gereeld koor-, musiek- en toneelopvoerings gehou, veral op Geloftedag, Kersfees en om presidente Paul Kruger en MT Steyn se verjaardae te vier. Op 22 November 1968 het ‘n foto van so ‘n opvoering in ‘Die Huisgenoot’ verskyn met die onderskrif: “Die Boere-krygsgevangenes in St Helena het dikwels konsert gehou. By die geleenthede het die mans wat vroue-rolle vertolk het vroueklere aangetrek.”


Die Boere-krygsgevangenes in St Helena hou konsert en die mans wat vroue-rolle vertolk,
het vroueklere aan
Foto: Wikipedia

Kerkdienste is op Kersdag gehou en daar word vertel van so ‘n diens in 1900, wat deur dominee Petrus Postma by die Diyatalawa-kamp in Ceylon gelewer is. Aanvanklik wou die owerhede hom nie toelaat om te preek nie. Hy was predikant van die Gereformeerde Kerk in Pretoria, waar Paul Kruger ’n lidmaat was, en dit was waarskynlik weens dié verbintenis dat hy na die Diyatalawa-kamp verban is.


Die Duitse korps vier Kersfees by Ladysmith in 1899
Foto: Shutterstock

Ds Postma het toestemming gehad om op dié Kersdag te preek, mits hy hom van politiek sou weerhou. Die kampowerhede het nie altyd ontsag vir die godsdiensbyeenkomste van die Boere gehad nie en met dié Kersdiens het ‘n Britse soldaat hom gaan aansê om die diens te staak. Almal moes na hulle hutte toe teruggaan omdat ‘n gevangene wat ontsnap het, gevang is en na die kamp teruggebring is. Dominee Postma se preek op daardie dag was: “Vrede op aarde en in die mens ‘n welbehae.” 


‘n Poskaart wat lees: “Christmas Greetings from the Front. Where are the Boers?”
Foto: Antiquarian Auctions

Krismis-konvooi
Daardie selfde Kersfees van 1900 het ’n groepie Boere onder generaal JCG Kemp in Wes-Transvaal rondom middernag van 24 Desember die nabygeleë kommando’s met Kersliedere wakker gesing.
Ná die fase van guerrilla-oorlogvoering begin het, was die Boere erg uitgehonger. Daar word vertel dat die Middelburgers Kersfees van 1901 sonder kos deurgebring het omdat hulle nooit kans gekry het om slagvee in die hande te kry nie.


Die poskaart lees: “Oom Paul van Boerenkrieg” en wys hoe Paul Kruger Chamberlain skop terwyl koningin Victoria toekyk
Foto: Antiquarian Auctions

Vir die Britte is vragte lekkernye vir Kersfees van oorsee af verskeep en met muilewaens of treine aangebring. Binnekort is die term ‘Krismis-konvooi’ geskep en die Boere het konvooie in lokvalle gelei en treine laat ontspoor om hulle van dié Kersvragte te verlos.


Ladysmith Kersfees-spyskaart, 1899
Foto: American Collections blog - The British Library
.
.

Dié Kerswense (Boer War, 1899, 1900, 1901) is met die hand deur troep McFarlane op kakie-materiaal geskryf
Foto: The Black Watch Castle and Museum - WordPress.com

‘Die Huisgenoot’ het in die vroeë dertigerjare, onder JMH (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor dié oorlog geplaas. In ‘Boer en Brit vier saam fees’ het kaptein RJF Britz geskryf dat ‘n klomp jonges in die staf van generaal TK Nieuwoudt in Noordoos-Kaapland die laaste Kersfees in die oorlog (1901) besluit het om die dag te vier en dat perderesies die vernaamste sport sou wees.


‘n Anglo-Boere-oorlog Kerskaartjie van die tweede bataljon, ‘South Wales Borderers
24th Foot Regiment’
Foto: PicClick UK

Twee dae voor Kersfees het hulle ’n program opgestel en kommando’s in die nabyheid na Paljasfontein uitgenooi. Ná alles gereël is, moes hulle nog die toestemming van die bevelvoerder kry.


Die Nieu-Seelandse magte se amptelike Kerskaartjie in die oorlog, gedateer 1899
Foto: Getty Images

Dié het glo geantwoord: “Julle sal more resies jaag, maar nie die soort resies wat julle nou vra nie.” Hy het gesê dat hulle miskien Engelse sal jaag.


‘n Poskaart wys Paul Kruger in ballingskap in Frankryk, 1900
Foto: ebay.co.uk

Die dag voor die fees het ‘n verkenner laat weet dat daar ’n Engelse mag van Philippolis se kant af aankom. Agter hulle was daar ‘n konvooi van omtrent 50 muilwaens en karre en 100 perderuiters.


‘Echtscheiding’ lees dié 1900 oorlog-poskaart waar ‘n karikatuur van Paul Kruger
met koningin Victoria afspeel
Foto: HipPostcard

Die Boere het dié konvooi ontwapen en 56 waens en karre en meer as 500 muile en perde, omtrent 100 gewere en duisende patrone buitgemaak. Vir elke Engelse soldaat was daar ’n Kerspakkie met sjokolade, ’n klein dadelpoeding, pakkie sigarette en ’n sakpotloodjie van die koningin, buiten die drank, koffie, suiker en konfyt.


‘n Handgeskrewe Kerskaartjie deur ‘n ene Fred, waarskynlik ‘n Wallieser, op kakie-materiaal, 1901. Dit lees: “Boer War, South Africa, 1899. 1900. 1901. A soldier’s Compliments. Compliments of the season to you he sends, a soldier who’s not with the best of his friends, on a piece of khaki from old coat he’d worn, discarded because it was tattered and torn, its not a gilt edged or highly priced card, but it carries his best and kindest regard”
Foto: Bid or Buy

Die Boere het die Engelse wat hulle gevange geneem het, onder aanvoerder kaptein Watson, genooi om saam fees te vier.

RJF Britz skryf dat hulle aan kommandant Pretorius ’n boodskap gestuur het dat Boer en Brit saam sy deel van die buit vir hom hou en dat hy dit moet gaan haal. Hy en sy kommando het die tweede dag saam met hulle feesgevier.


Die Boere se bondgenote het dié poskaart in 1900 uitgebring. Links lees dit ‘Pour l’argent et les diamants’ (vir geld en diamante) en wys Frederick Roberts en generaal Redvers Buller. Regs lees dit: ‘Pour la liberté et le droit’ (vir vryheid en geregtigheid) en wys president Paul Kruger;
en generaal Piet Joubert
Foto: Getty Images

 

© 2018 Die/The Bronberger