Swaar bobbejaan loop lang pad tot op kruin PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 28 January 2019 10:09
Untitled Document

Toe Gene de Lange onlangs besluit om die hoogste punt van Bashewa (volgens landmeterskaarte) te besoek, kry hy op ‘n ander hoewe-eienaar se grond ‘n yslike klip op die kruin. En op die klip is die beeld van ‘n brandwagbobbejaan en sy wyfie vasgemessel. Gene wou by die grondeienaar (wat anoniem wil bly) meer oor die bobbejaanbeeld hoor. Dit blyk toe dat die bobbejaan behoorlik agter die berg loop haal is: Tafelberg, nogal.

Die ding kom ‘n lang pad saam, het die beeldeienaar se bobbejaanverhaal, soos aan Gene vertel, begin:

“Destyds het ons nog op Hoedspruit gebly en ‘n vakansie het ons lank na gesmag. Jare se werk agter die blad sonder ‘n breek en wildtuin toe gaan wou ons nie aan die kinders doen nie. Hoedspruit se wêreld is mos amper nes die wildtuin.

“Die geld is saamgeskraap en die kar is gelaai. Kaap toe, die verre Kaap by die see. En daar gekom moes ons alles gaan bekuier en bekyk en doen wat die Stormkaap aan te bied het. Ons was orals oor: Die Kasteel en die kabelkar tot bo op die berg en terug, die blommemark, die visverkopers by Houtbaai en alles wat ‘n Transvaler met sy vrou en kinders nog moet inpak in twee skrale weke.

“Die wynplase het ook ‘n paar dae op die tydtafel gekry met hulle verniet proe en aspris koop. ‘n Hele paar bokse vol want ‘n mens ontwikkel mos sommer gou ‘n smaak vir die goed. Net genoeg bokse om die kar se kattebak vol te maak. As ons mooi pak vir die pad terug en die res met die trein stuur, sal ou en nuwe bagasie veilig by die huis beland.

“Op die laaste dag was die bestemming die Skiereiland se punt om daar op te stap na die ligtoring waar die oseane ontmoet. Dit was ons plan. Maar toe steek die berugte Kaapse weer ‘n stok in die wiel. ‘n Digte mis en trietsige Kaapse motreën maak sake erg uitdagend. Heel knorrig is die gesin in die kar op pad stad toe met die slingerpad daar langs die Apostelberge verby.


Die bobbejanebeeld op die klip wat Bashewa se hoogste punt aandui
Foto: Gene de Lange

“Seun se blaas was nou ook vol van die koeldrank by die plekkie by die punt waar ons was en aftrek moes ek aftrek.

“By die aftrekpunt loop ons toe hierdie beteuterde, sopnat beeldhouer raak. Sy naam het ek nie gevra nie en sou ek dit gedoen het, sou ek dit nooit onthou nie. Langs die nat beeldhouer is die waternat bobbejaanbeeld gemaak van sopnat, deurweekte en swaar sement. Vroulief se welsynhart is groot. Sy kry die bedremmelde kunstenaar jammer en boonop kon sy weens die weer niks van die wild in die reservaat sien nie: Veral nie die wilde bobbejane wat volgens oorvertelling by Diaz se kruis hou nie.

“Die kamergeld vir Bloemfontein se oornagstop is toe daarmee heen. Die gewigtige ding is in die kattebak gelaai. Seun se blaas was leeg, en my beursie baie naby aan dieselfde.

“Van die blykamers in die Kaap moes ek nou meer wynbokse op die trein laai om plek vir die bobbejane te maak en dit kos ekstra. Die gevolg is dat Kimberley se oornagkamer ook daarmee heen is. Dit was ‘n baie lang rit terug Hoedspruit toe met veel stilte op die voorsitplekke, geweldige lawaai op die agtersitplek waar Seun en Sus mekaar takel oor die bagasie tussen hulle heen.

“Die bobbejane is uiteindelik uitgelaai en onder ‘n ou transportseil in die skuur geplaas. Die bokse met wyn van die trein het weke later aangekom by die stasie en die meeste van die bottels se proppe was skoonveld, net soos die enkelte een wat ek in die kar kon pas se prop ook met menslike hulp weg was. Daar het die sementbeeld toe vir jare onder die seil gerus en algaande al hoe meer stof vergaar. En dit was ‘n teer punt in my lewe.

“Met die laaste opruimwerk in Hoedspruit om Pretoria toe te trek, het ek die ou vuil seil afgetrek en besluit: Jou blikskottel, ek sal jou ook laai en op die eerste groot klip vasmessel wat ek uit my nuwe blyplek se aarde trek om te begin huisbou.”

En so het dit dan gebeur dat die Kaapse bobbejaan en sy maat toevallig op Bashewa se hoogste punt rusplek gevind het.

 

© 2019 Die/The Bronberger