PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 26 February 2019 06:25
Untitled Document

Angie Kleijn

Is Die Spookhuis se spook uiteindelik op film vasgevang? Met ‘n onlangse ‘Mystery Ghost Bus’-toer het verskeie toergangers foto’s geneem van ‘n misterieuse vrouefiguur by een van die Erasmuskasteel se vensters.

Mark Rose-Christie, eienaar van dié bustoere, sê daar word vermoed dat die figuur dié is van Johanna Jacoba Erasmus, ‘n nooi Van Schalkwyk. Sy was getroud met Jochemus Johannes Petrus (Jochem) Erasmus, wat die Erasmuskasteel op die plaas Garstfontein laat bou het.

Jochem het die argitek, JW Leslie Simmonds, in 1903 aangestel om ‘n herehuis in die Amerikaanse koloniale styl vir hom te ontwerp. Dié argitek het onder andere saam met Tom Claridge die tweede kerk op Kerkplein ontwerp asook die Erasmusgebou op Kerkplein.


Die Erasmuskasteel, beter bekend as Die Spookhuis, met ‘n vreemde vrouefiguur in die
venster op die balkon
Foto: Mystery Ghost Bus

‘n Nederlander, Van der Ben, wat in diens van Leslie Simmonds was, het toesig oor die bouery gehad en het ook die maandelikse betalingsertifikate uitgeskryf. Die huis is in 1904 teen ’n koste van 6 800 pond voltooi en is Bella Vista gedoop. Daar was 17 vertrekke oor drie verdiepings, wat ook ’n aparte musiekkamer, rookkamer, en ontbytkamer ingesluit het.

Die versierings en gordyne is uit Engeland ingevoer, ‘n feit wat Krygkor 82 jaar later in gedagte gehou het toe hulle die huis begin restoureer het. Tog is die Erasmuskasteel vandag nie vir dié restourasie bekend nie, maar vir spookstories en gruverhale oor melaatse kinders wat in die toring opgesluit is.
Dit is waar dat drie van die Erasmus-kinders aan melaatsheid oorlede is, maar die feite is oor die jare heeltemal uit verband geruk.


Die spook in die venster van nader beskou
Foto: Mystery Ghost Bus

Melaats
Jochem was ‘n baie toegeeflike man en het nie geweier dat reisigers op die plaas afsaal en selfs vir lang tydperke daar bly nie. Blykbaar het Jochem se oudste seun, Carel Jacobus, die melaatsheid by ‘n ou man en sy seun, wat gereeld op die plaas gaan afsaal het, aangesteek.

Carel het twee van sy susters, Maud en Lena, aangesteek. Carel is in 1917 oorlede en sy twee susters is aanvanklik in die Leprosengesticht in Westfort opgeneem. Nadat Maud oorlede is, is Anna Maria Catharina Levina (Lena) terug plaas toe en het in afsondering as kluisenaar ongetroud daar aangebly tot haar dood in 1928 op die ouderdom van 35.


Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou, Johanna Jacoba, ‘n nooi Van Schalkwyk, het Die Spookhuis laat bou
Foto: B Nell, Krygkor fotoversameling

Die Erasmus-familie is dekades lank geteister deur nuuskieriges en fortuinsoekers het gereeld die wêreld gaan omdolwe op soek na die Kruger-miljoene of groot kiste geld, wat volgens oorlewering daar begrawe is.

Die laaste Erasmus-eienaar van die kasteel is in 1977 onteien ten behoewe van die Republiek van Suid-Afrika. Daar sou ‘n staatshospitaal op die grond gebou word, maar die planne het nie gerealiseer nie. Krygkor het in 1986 die eienaar van dié staatsgrond geword.


Carel se oudste suster, Anna Maria Catharina Levina (Lena) Erasmus, is as melaatse kluisenaar in 1928 op die plaas dood
Foto: SA Dames Netwerk

Die grafsteen van Carel Jacobus Erasmus, wat in 1917 aan melaatsheid oorlede is
Foto: Wikitree
.

Spookbus
Deesdae hou goëlaar en teater-regisseur, Mark Rose-Christie, gereelde spookbustoere wat ook by dié huis aandoen. ‘Mystery Ghost Bus’ is in sy 20ste jaar, wat dit die langste teaterproduksie in Suid-Afrika maak en sekerlik die langste produksie-op-wiele.

Mark het ‘n agtergrond in para-psigologie en sy toere behels gewoonlik ‘n hele paar teatrale skrik-taktieke. Toergangers word betrek deur wiggelroedes (water-aanwys-stokke) te gebruik om magnetiese velde waar te neem en te luister na opnames van vreemde elektroniese stemverskynsels.

Deesdae neem toergangers aktief deel met verskeie spookjagter-toepassings op hulle selfone, soos meters wat elektroniese stemverskynsels meet en kan opneem, en toepassings wat radiofrekwensies meet en ‘n ‘entiteit’ se stem in die vorm van woorde op jou selfoon se skerm kan druk.


Mark Rose-Christie reël die ‘Mystery Ghost Bus’-toer wat onder andere Die Spookhuis besoek
Foto: Mystery Ghost Bus

Op die Pretoriase teater-bus word spookstories vertel; daar is middernagtelike besoeke aan begraafplase en geboue waar dit spook, asook verversinghaltes. Die toere het so gewild geword dat daar die afgelope ruk ook spook-aandetes in die Smutshuis in Irene gehou word.

Tog is daar oor bykans 20 jaar se landswye toere nie vreeslik baie ‘regte spoke’ duidelik afgeneem nie.

Dit is nou tot die onlangse, opspraakwekkende foto by die Erasmuskasteel. Mark glo vas dat die vrou-verskynsel op die foto’s Johanna Erasmus is, maar kon dit nie dalk Lena, wat daar aan melaatsheid dood is, wees nie?

Natuurlik is daar diegene wat sê dat die verskynsel net so wel ook ‘n aktrise in dié teaterproduksie-op-wiele kon wees.

 

© 2019 Die/The Bronberger