Het jy gehoor? / Have you heard? - Jun 2009 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Monday, 22 June 2009 15:41
Untitled Document

Het jy al van vermetel gehoor? Die ouens (glo studente) wat die groot kennisgewingbord buite die Bronberg Lodge gegaps het en dit toe bykans ’n jaar later weer netjies op sy plek gaan terugsit het, het so ewe gaan vra of hulle nie nou ’n beloning kry nie. Die knape het glo die bord ‘geleen’ om dit as ’n ‘ramp’ vir hulle veldfietse te gebruik.

xxx

Al ooit van ’n ‘nappy run’ gehoor? Dis net soos ’n ‘toy run’ – net anders. Dit gebeur as motorfietsryers geld insamel vir weggooi doeke vir die Paul Jungnickelhuis vir volwasse gestremdes. Dié tehuis kry slegs 14 weggooi doeke per inwoner per maand van die staat. Die Inka Riders hou ’n reuse massarit en pretdag met lewendige musiek, stalletjies, gelukkige trekkings en ’n kontantkroeg om vir dié tehuis geld in te samel. Dit gebeur op 18 Julie van 8 vm tot laat by die Silver Lakes Action Cricket Arena in Lynnwoodweg. Almal is welkom en toegang is R130 per volwassene.

xxx

Die Bronberg-gebaseerde Diamond ‘L’ Abattoir is tweede in die land gegradeer in die skoonste slagpale in Suid-Afrika afdeling.

xxx

Sektor twee van die Boschkopse GPF hou op 9 Julie sy jaarvergadering by die Farm Inn. Die vergadering begin om 6.30 nm. ’n Forum-bestuur sal op die vergadering gekies word met die opdrag om beter polisiëring in die gebied te bevorder. Die sektor sluit die volgende gebiede in: Wapadrand, Silver Lakes en omliggende behuisingsontwikkelings, Zwavelpoort noord van die berg, Shere, Tygervallei, Lombardy Estate en Swaeltjie.

xxx

Klip Klap Antiek- en Kunsmark vier in Junie sy eerste verjaarsdag. Dié mark, wat elke derde Sondag op ’n plot in Leanderlaan, Olympus gehou word, is een van die min plotmarkte wat daarin slaag om stedelinge aan te hou nader lok. Zwavelpoort se Roger Evans is een van sewe pottebakkers wie se werk van 21 Junie tot 16 Julie by die Tina Skukan Galery op plot 6, Koedoebergweg, Faerie Glen uitgestal word. Plot 6 is die laaste oorblywende plot in dié voorstedelike gebied.

xxx

’n Paar goed wat ’n tiener graag op Vadersdag van sy/haar pa sou wou hoor, maar wat in die meeste gevalle nooit sal gebeur nie is:
“Kan jy die musiek asseblief ’n bietjie harder sit?”
“Ja, vat maar my nuwe kar. Hier is R500 vir petrol.”
“Ek is mal oor jou neusring. Ons moet altwee gaan vir nuwe oorbelle.”
“Hier, vat jy maar die TV se afstandbeheer.”

xxx

Baie vaders is nie juis te vaardig as dit by inkopies kom nie. So is ’n sekere vriend op ’n dag gedwing om winkel toe te gaan toe sy vrou siek in die bed was. Omdat sy al te bewus was van sy gebrekkige inkopie-ervaring het sy ’n netjiese lysie gemaak van die sewe goed wat hulle benodig. Ewe trots kom pa later met die inkopiesakke by die huis aan en begin sy aankopies op die kombuistafel uitpak: Een piesang, twee sakkies sout, drie skaapboude, vier brode, vyf bottels melk, ses dosyn eiers en sewe slaaikoppe.

xxx

Ons sien Kungwini se stadsraad doen getrou gestand aan minstens twee van sy verklaarde vyf ‘sleutel-prioriteite’. Die prioriteit om werk te skep kry hy mildelik reg deur hoë amptenare met volle betaling te skors en dan waarnemende burgemeesters en waarnemende munisipale bestuurders in hulle plekke aan te stel. Briljant, sou ons sê. Die sleutel-prioriteit om armoede te beveg (‘fight poverty’) kan seker ook beteken dat amptenare hulle eie armoede beveg deur te vat wat nie aan hulle behoort nie. Mag ’n mindere belastingbetaler maar droom van die dag dat ‘fight corruption’ ’n sleutelprioriteit word?

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger