Lindie se droom was broodnodig in haar lewe PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 25 June 2019 09:33
Untitled Document

Glo jy dat dit moontlik is om jou droom te lewe? Selfs al het die lewe jou ‘n paar dwarsklappe gegee?

Lindie Theron van Zwavelpoort is iemand wat ‘n moeilike pad gestap het en toe haar brood op die water gewerp het om haar hele wese met die hartverwarmende geur van vars-gebak te vul.

“Dit is ongelooflik hoe die lewe draaie loop,” sê Lindie. “Dit is vyf jaar gelede wat my hele lewe, met alles wat saak maak, omgeval het. As ek nou terug kyk, kan ek nie glo ek staan vandag hier voor al die mengbakke nie. Ek het alles, maar presies alles, verloor. Ek het baie gekruip, en baie dae ook sommer net stil gelê,” sê sy.


Lindie by haar markkraampie
Foto’s: Verskaf

“Vandag is daar nog heelwat vae oorblyfsels en opdrifsels wat ek so met die tyd saam uitsorteer. Maar eintlik is ek ‘okay’ en ek leef met passie en oorgawe, want jy weet nooit wat more bring nie. Ek leef my droom – om voltyds te bak,” sê sy.

Lindie sê dat sy nie te veel oor besonderhede wil uitwei nie, omdat dit baie persoonlik is, maar “kom ons begin maar deur te noem dat ek met ’n baie aggressiewe en gewelddadige man getroud was”.

“Vanaf 2014 het die lewe saam met hom progressief erger geraak tot op die punt waar hy my met die dood gedreig het en ek met een oog oop geslaap het. Ek en my kinders was genoodsaak om ons huis te verlaat, sonder enige heenkome,” vertel Lindie.

Die oomblik wat sy besluit het “tot hier toe en nie verder nie”, het Lindie se lewe radikaal verander. Haar beste vriendin het vir Lindie en haar drie kinders blyplek gegee. Vir maande lank. Sy het die liefde van haar lewe, wat haar deur alles bygestaan het, ontmoet en Lindie het begin bak.


Lindie staan drie uur op om dié varsgebakte brode vir markte te bak

Sy was vir jare ‘n persoonlike afrigter, maar kos was Lindie se passie. Eintlik was oefening ‘n bietjie meer van ‘n obsessie, sê sy. “Ek was nog altyd lief vir bak, maar die brode het soort van per ongeluk gebeur.”

Lindie het op ’n dag oor suurdeegbrood en hoe gesond dit is gelees. Dit is brood soos ouma dit gemaak het en diabete kan dit ook eet. Sy laat weet toe vir ’n vriendin, wie se dogtertjie tipe een diabetes het, van die brood. En Lindie probeer dit bak.

Dit was toe nie so eenvoudig nie en dit het Lindie ’n goeie ses maande van oplees, beproef, flop en weer probeer geneem voor sy die wonderbrood kon regkry. Sy sê dat suurdeegbrood eintlik ‘n kuns is.

So proe Lindie se Italiaanse vriendin, Perry, die brood. Perry gaan koop meel en reël met haar Griekse vriende, wat ’n groot fabriek met baie oonde op Zwavelpoort het, dat Lindie vir eers daar kan bak. “Die Grieke en Italianers verstaan van bak,” sê Lindie. “Hulle proe en kyk en lewer kommentaar.”


Etikette dui die verskillende soorte brode aan

En net daar laat hulle Lindie iets belowe: “Ons sal jou help. Belowe ons net een ding. As jy dit gemaak het, gaan jy dieselfde vir iemand anders doen. Jy gaan hierdie guns aanstuur.”

Vandag verskaf Lindie brood by al die markte in die omgewing, vanaf Olympus tot Irene en Bapsfontein.

Sy vertel dat elke brood wat sy verkoop, deel is van haar. Dit vat drie dae om suurdeegbrood te maak en Lindie gebruik die eeue-oue proses van gis (goeie bakterieë) en geduld. Sy gebruik klipgemaalde, ongebleikte meel en verduidelik dat suurdeegbrood net vier bestanddele het: meel, sout, water en gis. Niks anders nie, behalwe presies die regte temperatuur.

Lindie vertel dat sy mal is oor die gevoel van deeg in haar hande. Niks ontspan haar meer ná ‘n moeilike dag as die fluweelagtige sagtheid en die suurdeeg-reuk van deeg wat naglank gestaan het om te rys nie, en ook om te sien hoe die deeg tekstuur verander met elke knie-slag.

Die broodbakkery begin sommige oggende reeds drie uur omdat Lindie net vars brode verkoop, niks wat ouer as ’n paar uur is nie. “In dié bedryf moet jy nie te lief wees vir slaap nie,” sê Lindie. “En bak is ’n vuil besigheid – meelstof en rou deeg orals. Jy kan nie bak en dan kerk nie. Jy moet eers gaan skoonmaak. En jy moet fisies sterk wees, want deeg weeg baie. Maar jy word met die varsgebakte brood-reuk beloon.”


Lindie is mal oor die gevoel van deeg in haar hande

“Hierdie brood is my passie. Dit het my lewe gered. En dit is gesond, soos brood moet wees.”

Lindie sê dat sy nie meer bang is vir wat die toekoms dalk mag inhou nie. Haar oudste kind is vandag 20, dan is daar een in matriek en haar jongste is nog op laerskool. Sy sê dat sy agtergekom het dat sy in ’n gemeenskap woon waar mense nog tyd het vir mekaar en mekaar ondersteun.

“Soveel nuwe mense, soveel inspirasie. Dankie aan almal wat my hande vasgehou het en my opgetrek het. En so baie ander wat my gedra het. Sonder julle sou hierdie droom nooit gebeur het nie.”

 

© 2019 Die/The Bronberger