Twee fonteine, twee broers en Pretoria se eerste kliphuis PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 25 June 2019 09:34
Untitled Document

Angie Kleijn

Waar was die eerste huis in die gebied wat vandag as Pretoria bekend staan? Die storie rondom dié vraag is een wat met twee broers te doen het. Dit is ook die verhaal van die twis en onmin rondom die ruil van ‘n fontein, wat 25 miljoen liter water per dag kon lewer, vir ‘n aantal dorpserwe.

Vir jare lank is dit aanvaar dat Lucas Cornelis Bronkhorst die eerste blanke setlaar in die gebied was en dat die oorblyfsels van ’n huis, wat hy op De Groene Kloof, later Groenkloof, gebou het, die eerste struktuur is wat deur ’n blanke in dié gebied opgerig is. Dit is veral ‘n tameletjie omdat die stadsraad van Pretoria juis daar gedenkborde laat oprig het wat dié murasie as die oudste een aandui.
Die huis is naby die twee fonteine, wat ons as Fonteinedal ken, opgerig. Dié twee standhoudende fonteine is die rede hoekom Voortrekkerleiers oortuig kon word om die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) van Potchefstroom na Pretoria te skuif.

Dis is juis oor die fonteine wat die stomme Lucas later sy grond kwyt was. In daardie jare was daar nog nie gepypte water nie en Pretorianers het hulle water uit leivore vanaf die Fonteine gekry. Die Volksraad van die ZAR het besluit om die fonteine te bekom om Pretoria van water te voorsien. Hulle het dit op 20 Augustus 1863 van Lucas gekoop, maar wetlike aspekte rondom dié transaksie het jare lank gesloer.


Gert Bronkhorst se huis op Elandspoort was waar die ou NZASM-treinbrug die Apiesrivier kruis
Foto: Groenkloof Huieienaarsvereniging

Broers
Lucas Cornelis Bronkhorst (1795-1875) en sy broer, Johannes Gerhardus Stephanus (Gert) Bronkhorst (1798-1848), was deel van die Potgieter-trek. Bronne verskil oor die presiese datums wanneer die broers hier aangekom het, maar dit moes tussen 1839 en 1840 gewees het – ongeveer 15 jaar voor die dorp Pretoria gestig is.

Gert het die plaas Elandspoort gevestig, waar hy ‘n hartbeeshuisie gebou het. Volgens Anton van Vollenhoven se proefskrif, ‘’n Voorgestelde paradigma vir navorsing op histories-argeologiese erfenishulpbronterreine in Suid-Afrika aan die hand van gevallestudies in noordelike Gauteng’, wil dit voorkom of Gert laat in 1839 hier aangekom het en dat sy broer Lucas hom eers later in 1840 of 1841 hier gevestig het.


Die Bronkhorst-murasie ná die opgrawings voltooi en weer toegegooi is en die
stadsraad ’n gedenkmuur daar opgerig het
Bron: AE Van Vollenhoven proefskrif

Volgens ’n inspeksieverslag uit die Rustenburgse landdroskantoor, is Lucas se plaas Groenkloof op 9 Augustus 1841 geïnspekteer. Die fontein op die plaas het eers as Bronkhorstfontein bekend gestaan en Lucas het ‘n dam gebou en leivore aangelê voor hy ‘n huis gebou het.

Veldkornet Andries van der Walt het in die omgewing aangekom en het in omstreeks 1848 ‘n huis aan die wal van die Apiesrivier gebou. Teen daardie tyd het Lucas glo steeds geen permanente struktuur opgerig om in te woon nie.


Murasie van Lucas Bronkhorst se huis in Fonteinedal, afgeneem in Mei 1955 toe die mure nog sowat 0,50 meter hoog was
Bron: SP Engelbrecht, red, ‘Pretoria 1855-1955’

Struweling
Pretoria is op 16 November 1855 gestig. Die ZAR het die grond waarop Lucas se dam en wateraanleg was, in Augustus 1863 gekoop, hoewel hy steeds op die plaas bly woon het.

In die ‘Pretoriana’ van Maart 1993 is ‘n brief gepubliseer wat Lucas se destydse ongelukkigheid aandui. Hy sê dat “ . . .  daar door mijn een klyn deel grond van mijn plaats genaamd Groenkloof aan het Gouvernement is afgestaan voor die dorps water voor, waarvoor ik een Block Erfven op het dorp Pretoria ontfangen heef.”

Lukas skryf dan verder dat die erwe, wat aan hom aangewys en opgemeet is, glo deur die regering verkoop is. Daar is versoek dat Lucas drie erwe moes kry in ruil vir die gedeelte van sy plaas Groenkloof wat vir die Pretoria-waterskema in beslag geneem is. Dié erwe was besonder groot; 225 x 120 ‘reilands’ voet (Hollandse voet).


Die terrein van Gert Bronkhorst se huis: A – watervoor. B –  terrein waar Gert se kliphuis vermoedelik gestaan het. C – treinspoor. D – hoofpad van Fonteine na die noorde. E – Fonteinevallei. F – Mainstraat. G – deel van die vroeëre Portugese groentetuin
Foto: Dr SP Engelbrecht: Pretoria 1855-1955.

Antwoorde op Lucas se skrywe is nie gevind nie, maar sy klagtes moes die volksraad se uitvoerende raad bereik het, omdat landdros Andries du Toit opdrag gekry het om nog 12 erwe aan die westekant van die Gereformeerde Kerk uit te meet.

Volgens ‘n artikel in die ‘Pretoriana’ van Junie 1980 het landdros Andries du Toit in ‘n brief op
6 Maart 1875 geskryf dat MW Pretorius in 1868 12 erwe aan Lucas Bronkhorst gegee het. Die erwe, in ruil vir ander grond, was “gelegen voor Postmas Kerk, de blok waar Heer Krugers gebouw op staat”.

Paul Kruger het in 1868 een van dié erwe net oos van die huidige Krugerhuis vir 12 pond gekoop. Hy het dit in 1875 vir 16 pond verkoop. Op 16 November 1881 het Paul Kruger nog twee van die oorspronklike Bronkhorst-erwe gekoop: no 307 op die hoek van Kerk- en Potgieterstraat en no 307 waar Krugerhuis vandag staan.


Dié lugfoto van die plek waar Gert Bronkhorst se huis was, is in 2005 geneem
Bron: WNNR, SAC: 498523/tshwane/2005

Verkoop
In 1874 is Lucas se plaas Groenkloof aan HJ Frames verkoop, wat dit op sy beurt op 23 Desember 1878 aan Jesse Jeanes en Maatskappy verkoop het. Dit is op 10 Julie 1884 so geregistreer. Heelwat struwelinge het oor die gebruiksreg van die water gevolg.

Jesse Jeanes en Maatskappy het later bankrot gespeel en die ZAR het die plaas op 4 Augustus 1883 aangekoop. Die grond is eers ná die Anglo-Boereoorlog tot die dorpsgrond van Pretoria toegevoeg.

Toe Lucas in 1875 oorlede is, het hy ’n plaas naby Makapaanpoort en slegs een erf in Pretoria besit.


Gert en Lucas se huise het waarskynlik gelyk soos dié skildery, genaamd ‘Hartbeeshuisie in die Veld’, deur A van Vuuren (1957)

Sy tweede vrou, Johanna Cornelia (‘n nooi Van der Walt), en vier oorlewende kinders was die erfgename. Die totale boedel het ongeveer R244 beloop. Die erf in Pretoria was toe slegs R3 werd teenoor gewere, wat R5 elk werd was.

Nadat die plaas Groenkloof staatseiendom geword het, is ’n plantasie in die 1890’s daar aangeplant. ’n Groot deel van die plantasie is in Augustus 1898 deur ‘n veldbrand verwoes. Dié ramp en die feit dat die wild rondom Pretoria teen 1895 grootliks uitgeskiet was, het gelei daartoe dat Paul Kruger Fonteinedal in Februarie 1895 as natuurreservaat geproklameer het. Die natuurreservaat beslaan vandag sowat 600 hektaar en wildsoorte soos sebras en blesbokke kom daar voor.


Andries van der Walt se huis, wat omstreeks 1848 aan die wal van die Apiesrivier gebou is
Bron: AE Van Vollenhoven proefskrif

Murasie
Die murasie van Lucas se huis was in die ou munisipale ontspanningsoord met sy karavaanpark, restourant, braaiplekke, swembad, tennisbane en piekniekterrein.

Die huis is teen die suidwestelike hang van Klapperkop gebou en die stadsraad van Pretoria, wat die grondeienaar is, het die terrein aanvanklik met draad toegespan.

Die stadsraad het die Nasionale Kultuurhistoriese Museum gevra om die oorblyfsels van Lucas se huis argeologies te ondersoek en die opgrawings is van 12 tot 16 Oktober 1992 uitgevoer.


Die opening in die oostemuur van die Lucas Bronkhorst-murasie wys ’n groot plat klip, wat moontlik as drumpel gedien het
Bron: AE Van Vollenhoven proefskrif

In sy proefskrif sê Anton van Vollenhoven dat dié argeologiese navorsing op die murasie wys dat die struktuur wat opgegrawe is, nie die oudste gebou is wat deur blankes in die gebied opgerig is nie. Nietemin word dit aanvaar dat dit die oudste oorblyfsels uit dié tydperk is, omdat ouer strukture vernietig is.

Anton sê bewyse bestaan dat Lucas se broer Gert, wat hom in 1839 hier gevestig het, die eerste kliphuis in dié gebied gebou het.


Die gedenksteen in die Voortrekkerbegraafplaas op Ohrigstad dui Gert Bronkhorst se
sterfdatum as 29 Februarie 1848 aan
Bron: AE Van Vollenhoven proefskrif

Gert
Gert se huis op Elandspoort was waar die ou Nederlands Zuid-Afrikaanse Spoorweg Maatschappij (NZASM) treinbrug die Apiesrivier kruis. Dit was noord van die Elandspoort, maar oos van die rivier in die Fonteinedal. Gert het nie lank in dié omgewing gewoon nie en het in 1845 na Ohrigstad getrek, waar hy op 29 Februarie 1848 aan malaria dood is.

Gert se dogter, Maria Jacoba Minnaar, het baie jare later aan Gustav Preller vertel dat sy en haar ma teruggegaan het na Elandspoort ná haar pa op Ohrigstad dood is. Hulle het in die kliphuisie gaan bly wat Gert daar gebou het.

Maria het vertel dat haar oom Lucas toe nog naby die Fonteine ‘gestaan’ het. Sy het gesê dat hy nog nie gebou het nie, omdat hy te besig was om water op sy landerye te kry. Hy wou eers sy graansaad in die grond kry en sy woning het nog maar uit ’n skerm bestaan.


Die gedenkplaat by die Lucas Bronkhorst-murasie. Die datum wat vir die bou van die huis
gegee word, is verkeerd
Bron: AE Van Vollenhoven proefskrif

Gewoonlik het die Voortrekkers eers so ’n bietjie rondgekyk voor hulle bou, het Maria verduidelik. Op die uitspanning is eers net ’n tent opgeslaan en ’n skerm is om die vuurmaakplek opgerig.

As die regte bouplek uitgesoek is, is ’n eerste hartbeeshuisie gebou. Dit was ’n langwerpige vierkant, wat in twee of drie vertrekke verdeel is. Al die mure was van pale en klei, dikwels slegs van klei, onder ’n grasdak. Na verloop van ’n jaar of meer, is die eintlike woonhuis met mure van klip of baksteen gebou.

Maria het vertel dat haar man ‘n huis begin bou het oorkant haar ma se kliphuisie op Elandspoort.


Gert Bronkhorst se dogter, Maria Jacoba Minnaar
Bron: ‘Voortrekkermense’, Gustav Preller

Du Preezhoek
Volgens NA Coetzee se navorsing, wat in Augustus 1996 in ‘Pretoriana’ gepubliseer is, is Gert se plaas op 6 November 1857 uit sy boedel oorgemaak aan sy skoonseuns PC Minnaar, P Opperman en APJ Van der Walt, Pretoria se eerste veldkornet, wat in Du Preezhoek by die spoorwegbrug begrawe is. Sy oorskot en dié van sy vrou is later geïdentifiseer en oorgeplaas na die Du Preezhoek-afdeling van die ou Kerkstraat-wes Begraafplaas.

Bronne verskil weer oor wat met die plaas gebeur het en volgens Anton van Vollenhoven se navorsing het Andries Van der Walt die plaas Elandspoort op 6 November 1853 uit Gert se boedel gekoop. Hoe dit ook al sy is die plaas se naam na Du Preezhoek verander.

In Julie 2006 het Archaic HPM verkennende uitgrawings in ‘n deel van Du Preezhoek gedoen om te sien wat die impak van die Gautrein hier sou wees. Met dié uitgrawings het hulle strukture, geboue en oorblyfsels van ‘n ou begraafplaas gevind, wat verbind is aan die vroeë Elandspoortplaas.


Die ou pomphuis op Groenkloof wat later deur die Britte gebou is
Foto: the City Council of Pretoria

Hulle sê dat die huis wat gevind is waarskynlik aan Francois du Preez, die seun van Jan (Diknek) du Preez en sy vrou Maria Magdalena, behoort het. Jan se huis was glo 20 tree noordwes van die populierbos en sy seun Francois se huis 50 tree suidoos van Jan se huis aan die ander kant van die spoorlyn en op die westelike oewer van die Apiesrivier.

‘n Kaart van 1877 wys die grense van Pretoria met die Du Preezhoek-begraafplaas as die suidelike grens. Met Archaic HPM se uitgrawings, was dit nie moontlik om die oorblyfsels van die mense in die grafte te identifiseer nie en daar was geen grafstene of grafmerkers oor nie. Die gebeendere is ook in die ou Kerkstraat-wes Begraafplaas herbegrawe.


Die onthulling van een van die twee gedenkplate by die fondamente van Lucas Bronkhorst
se huis in Fonteinedal op 16 November 1992. Links staan die burgemeester van Pretoria, advokaat J Leach, en regs ’n agterkleindogter van Lucas se broer Gert
Foto: Stadsraad van Pretoria

Damwal
Erfenis- en restourasiekonsultant, Anton Jansen, het in 2008 die plek van Gert Bronkhorst se damwal in die Apiesrivier gevind asook die pad wat die leivoor vanaf die dam na sy landerye toe geloop het. Die dam is reg wes van Unisa se hoofgebou en is vandag van beton. Aan die oos-oewer is daar nou traliewerk voor ’n waterpyp wat voorheen die leivoor was. Dié pyp lê op dieselfde plek waar die oorspronklike leivoor was en eindig in Unisa se gronde, wat voorheen Normaal Kollege se sportgronde was. Dit was tot 1954 Portugese groentetuine.

 

© 2019 Die/The Bronberger