Moordverdagte ná jaar gevang en weer gelos PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 23 July 2019 09:30
Untitled Document

In die winter, sê oom Buks Barnard, is die winter die lekkerste seisoen: Geen vlieë, geen muskiete, geen slange; ‘n gesellige vuurtjie in die Welkom Dowertjie; lekker dik groentesop, boontjiesop, lensiesop, beesstert, bredie, drinksjokolade, vars lemoensap, biltong, neute; snoesige laatlêmôres in die kooi; heerlike aande met ‘n speurverhaal voor die vuur; die lekker reuk en bedrywigheid van stropers en grondboneplukkers; die vooruitsig van die komende lente en somer . . .

Sodra die somer kom, sê oom Buks, sal hy vertel hoekom die somer in die somer die lekkerste seisoen is . . .

Oor die veelsydigheid van die Afrikaanse taal sê hy: Die Hollanders het glo besluit om nie meer grappe oor die Belge te vertel nie, maar eerder grappe oor die Russe te maak. Dan kan die Belge gerus voel en die Russe gebelgd . . .

Ware verhaal
Die einste oom Buks vertel ‘n ‘ware verhaal’ uit die tydperk van die Tweede Engelse oorlog. Hy kan ongelukkig nie onthou wie dit was wat die storie oorvertel het nie, of waar hy dit die eerste keer gehoor het nie.

In daardie tyd het die klomp Britte besluit om Engelse onderwyseresse in te voer in ‘n poging om van die Boerekinders Ingelsmannetjies en Ingelse meisies te maak.

Eerste van alles moes hulle natuurlik die Rooitaal leer en die enigste woord wat vir almal bekend was, was die onderwyser-tannie se naam – ‘Miss’. Die jongspan was bykans deur die bank plaaskinders en mis was glad nie vir hulle vreemd nie. Hulle kon hulle maar net verwonder oor die vreemde Engelse tannie se vreemde naam. ‘n Afrikaanse naam daarby, nogal.

Die Ingelse ‘tenses’ was veral vir die logiesdenkende Boerekinders duister. Die ‘Mis’ het behoorlik gespook om die geheime van Engelse ‘tenses’ te probeer verduidelik.

Naderhand vat die ‘Mis’ twee stukkies tou en sit dit so ‘n entjie van mekaar af netjies op die grond neer, lui die storie.

Die ‘Mis’ gaan staan toe heel agter die twee toutjies en sê: “Kyk, hierdie is nou die verlede – die ‘past tense’. As ek vorentoe tree tot tussen die twee stukkies tou, dan is ek in die huidige tyd – die nou – die ‘present tense’. Tree ek heel vorentoe, dan is ek in die toekoms – die ‘future tense’.”

Toe een betrokke seuntjie die middag moeg en honger by die konsentrasiekamptent aankom vra sy ma: “Wat het die ‘Mis’ julle toe vandag geleer?”

“Ag ek weet nie eintlik nie, Ma. Al wat ek kon verstaan is dat die ‘Mis’ sê elke keer as sy oor die tou trap, is sy in ‘n ander tyd.”

 

 

© 2019 Die/The Bronberger