Paartjie sterf saam op Garstfonteinweg PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 July 2019 09:34
Untitled Document

Bradley Venter en Roger Norris is op 22 Junie op Garstfonteinweg-verlenging, skuins voor die Bashewa-sentrum doodgery. Die twee het op ’n kleinhoewe in die omgewing gebly en was ongeveer 7 nm in ’n ligte ongeluk betrokke. Hulle het uitgeklim om na die skade te kyk toe ’n Mercedes Benz hulle getref het.

Volgens Piet van der Merwe van Bassek, ‘n plaaslike beveiligingsmaatskappy, het Bradley en Roger noord op Walterstraat gery op pad na Garstfonteinweg. By dié kruising was hulle in ‘n botsing met ‘n wit VW Polo, wat wes op Garstfonteinweg beweeg het. Almal het uit hulle voertuie geklim.

‘n Voertuig van Bassek het op die linkerbaan voor die Polo stilgehou, waarsku-flikkers aangesit en ‘n rooi driehoek in die pad voor die voertuig neergesit. Die Bassek-beampte het met sy flits in die pad gaan staan en verkeersbeheer gedoen.

‘n Mercedes Benz het rigting wes op Garstfonteinweg gery en het eers teen die Bassek-bakkie gebots, voor hy Roger en Bradley omgery het. In die proses is ‘n derde man, wat wou help om die verkeer te reguleer, ook ernstig beseer en het in die pad gelê.


Bradley Venter en Roger Norris
Foto: Verskaf

Piet sê dat alle dienste ingeroep is en die pad later toegemaak is vir die helikopter om die ernstig beseerde man hospitaal toe te neem.

Die Mercedes se bestuurder is na Tembisa geneem vir bloedtoetse en is by die Welbekend-polisiestasie toegesluit. Sy voertuig is later na dié polisiestasie gesleep. Die Polo se bestuurder is hospitaal toe geneem met ‘n gekraakte voet en hand.

Roger en Bradley se lyke is teen 2 vm verwyder, ná forensiese fotograwe die afgesperde toneel afgeneem het.

Volgens konstabel Munyadziwa Phugo, woordvoerder van die polisie, is die bestuurder van die Mercedes Benz in hegtenis geneem op aanklag van strafbare manslag en dronkbestuur.

Woordvoerder van die Welbekend-Polisie se misdaadvoorkomingseenheid, sersant Tsietsi Lamola, het bevestig dat ’n 27-jarige gearresteer is vir dronkbestuur en die eerste week in Julie ook voor die hof sou verskyn op twee aanklagte van strafbare manslag.

Die 23-jarige Roger was in die telekommunikasiebedryf en die 24-jarige Bradley het in bemarking en verkope gewerk. Hulle was groot diereliefhebbers en was die Saterdag toe hulle doodgery is glo op pad na stalle om na hulle perde om te sien.  

Volgens vriende het hulle ’n paar jaar gelede ’n verbintenis-seremonie gehad en het hulle beplan om hulle verhouding later vanjaar wettig te maak.

’n Gedenkdiens vir Roger en Bradley is op 26 Junie in die NG Gemeente Pierre van Ryneveld gehou.

 

© 2019 Die/The Bronberger