Toeka-storie maak Willowdene-herinnering wakker PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 July 2019 09:37
Untitled Document

Esmé Meyer

Die artikel oor Willowdene in die Mei-uitgawe, het sommer diep in die hart geslaan.

Laat in 1985 het ons besluit om te laat bou: ‘n Duethuis op die hoek van Opstalstraat en Harrop-Allinlaan, regoor die eens plaas-opstal van die Harrop-Allins. Bitter jonk en driekwart arm, maar ons het oral afgeknyp en begin 1986 ingetrek.

En daar in Die Bronberger sien ek die foto van ‘ons’ sypaadjie met die boom wat ons geplant het; ons hoek! Omdat dit baie lankal reeds ’n afgeslote gebied is, het ek baie lanklaas daar gaan verby ry.

Soveel onthou het egter in die lewe teruggespring: Oom George, wat met so ’n vonkel in die oog vertel het hoekom Bee Beestraat net wes van ons se naam is wat dit is. Dié straatnaam het ons lank laat kopkrap. Danie en Brenda Bester-hulle was die eerstes wat daar laat bou het. Toe oom George die raaisel oplos, het hulle dit net so geniet. Klein familiegeheim, maar eintlik te goed om in die vergetelheid te raak.


Harrop-Allinlaan se sypaadjie wys die boom wat die Meyers in 1986 daar geplant het

Dit werk so: Daar was ’n paar stalle toe die kinders klein was, as ek reg onthou, en op ’n stadium as hulle maar sien, dan is die perde uit. Later het iemand wag gehou en gekyk wat aangaan.

Al die tyd had hulle hierdie een slim perd, wat dopgehou het hoe die meganika van die stal se sluitstuk werk. Dit was nie lank nie of hy kon dit met lip en tande self oopmaak sodra almal weg is.

Om alleen te rinkink was nie soveel pret nie, dus het hy sy mede-perde, waar hy kon, ook bevry. Hy is net daar as “Bloody Bastard” herdoop en toe hulle die gronde rondom die opstal vir ontwikkeling uitgesit het en die name kon gee, het Bee Beestraat hulle persoonlike verkneukeling van ’n eerbetoon en herinnering geword aan die legende van ’n perd met baie persoonlikheid, en aan die dae van weleer.


Dié Google Earth satellietkaart wys Bee Beestraat, Opstalstraat en Harrop-Allinlaan

Nesskop
In die eerste twee jaar se nesskop, toe ek self wilde gras met ’n vurk uit die dorre grond gewerk het vir ’n komende tuin, het Telkom dit goedgedink om te wag met foonlyne totdat die gebied meer inwoners het. Ons het geïsoleerd daar gesit: Grasveld om ons, Anton se huis een leë erf weg in die halfsingel wat die straat daar gevorm het, en sy ouers se huis diep in die groot erf oorkant.

Een oggend vroeg, nadat ons maar pas ingetrek het, het die deurklokkie gelui, en toe ek deur die ogie in die deur kyk het een skelm reeds oor die muur begin klim, en nog drie het uit ’n rieterige bos net anderkant Anton se inrypad aangehardloop gekom.

Geen mens sou my hoor skree nie. Twee weke vantevore het my ma ’n klein alarmpie, wat jy skud en ’n knoppie druk sodat die saamgeperste lug ’n harde alarmgeluid maak, by haar werk gekoop, en ek het dit nog nie eens getoets nie.

Ek het êrens vandaan ’n diep manstem gehaal en op hulle geskreeu en die knop gedruk en my ore het getuit, en die een wat reeds oor die muur langs die voordeur wou inspring na die binnehof het teruggespring en hulle het in die pad af gesaai.


George en Hazel Harrop-Allin

Hardloop
Ek het baba en hand-alarm gegryp en oor gehardloop na die groot huis. Hulle het die polisie gebel en ek het by mev Harrop-Allin, wat nog in die bed was, gaan sit en bewe en wag dat die polisie dit veilig sou verklaar om te kon teruggaan. Dit was basies my eerste kennismaking met hulle, traumaties, maar met soveel waardering.

Sy het gevra om die alarm later vir oom George te wys en laatmiddag het ek ook die skree daarvan gehoor, daardie klein apparaat wat my en my kind se lewens daardie oggend gered het.

’n Paar jaar later toe ons ’n entjie verder aan getrek het, het ek haar gereeld sien ry in die gebied met haar ou swart Rolls Royce. Ons het dekades Willow Valley Farm se melk by die kafee gekoop. Dit was die dae toe Anton Harrop-Allin se kinders nog jonk was en Pretoria se eerste rosekoning, die dierbare oom Hermann Biel, se argitekseun sy aftreehuis tussen ons en Anton laat bou het.


Esmé Meyer

Lewenslange vriendskappe het behoue gebly, soos met oom Hermann, wat so graag kom Natalse kerrie eet en sweet het, en daarna skaak gespeel het.

In my onthou is almal nog daar soos hulle was, ons almal jonk of relatief jonk, of ten minste nog daar.

En die stokkieboompie wat ons geplant het, ’n sterk sypaadjieheerser, daar in die Bronnie van Mei op sy 199e uitgawe. Wat ’n wonderlike verbintenis.

Dankie vir die uitgebreide geskiedenis waar ek my grootmenslewe begin het, en die honderde herinneringe wat teruggestroom het, wat die gejaagde lewe nie altyd kan akkommodeer nie. Dit was ’n persoonlike spesiale artikel daardie!

Raai wie gaan binnekort weer daar deurry en kyk, en kyk, en kyk . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger