Jackie, die mak bobbejaan, word ‘n oorlogsheld PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 23 July 2019 11:39
Untitled Document

Angie Kleijn

Al ooit gehoor van ‘n troetel-bobbejaan wat saam oorlog toe is? Toe Albert Marr Eerste Wêreldoorlog toe moes gaan, het hy – met toestemming nogal – die gesin se mak bobbejaan, Jackie, saamgevat.

Jackie se verhaal begin in die eerste helfte van 1910 toe Albert dié klein bobbejaantjie op sy plaas, ‘Cheshire’, gekry het. Dié plaas was waar Villieria vandag is, ‘n gebied wat toe nog buite Pretoria geval het. Albert het die bobbejaan Jackie gedoop en het hom begin oplei om soos ‘n lid van die gesin op te tree, kompleet met tafelmaniere en met sy eie seuntjie-klere aan.

Ná Jackie ‘n paar jaar op die plaas gewoon het, is Albert in 1915 opgeroep vir diens in die Derde Transvaalse Regiment van die Eerste Suid-Afrikaanse Infanterie Brigade, wat geoormerk is om in Frankryk te gaan veg. Albert is op 25 Augustus 1915 op Potchefstroom as troep gemobiliseer en sy diensnommer van 4927.


‘n Poskaart met Albert Marr en Jackie
Foto: Ons Boere se trotse geskiedenis

Die regiment was onder bevel van luitenant-kolonel EF Thackeray, wat teen alle verwagtinge vir Albert toestemming gegee het om Jackie as gelukbringer saam te vat. Jackie het selfs ’n spesiale uniform en hoedjie gekry om te dra en het sy eie rantsoenstel en betaalboek gekry. Hy het met sy eie mes en vurk geëet, het sy eie opwasbak gehad en het sy tee uit ‘n koppie gedrink as die troepe in die menasie geëet het.

Wanneer die regiment op die paradegrond moes aantree en marsjeer, het Jackie in gelid ingeval. Hy het gou geleer om offisiere te salueer en soldate se sigarette aan te steek. Hy kon op aandag en op die plek rus staan en omdat hy soveel beter as mense kon sien en hoor, is Jackie geleer om in die nag wag te staan. Hy was die eerste een wat geweet het as die vyand nader begin beweeg en kon ‘voorspel’ wanneer ‘n aanval verwag kan word.


Korporaal Jackie
Foto: Wikipedia

Aksie
Albert en Jackie het die eerste keer in die Senussi Veldtog aksie gesien. Die Senussi was ‘n sekte in Libië en Egipte en was geallieerd aan die Ottoman en Duitse ryk. In die somer van 1915 het die Ottomans die Senussi-leier, Ahmed Sharif, oortuig om Egipte, wat deur die Britte beset is, aan te val.

Die Eerste Suid-Afrikaanse Infanterie Brigade is gestuur om ‘n einde aan dié opstand te maak. Albert is op 26 Februarie 1916 in die Slag van Agagia in die skouer geskiet. Jackie het by hom gewag vir hulp en het die heeltyd sy wond gelek.

Albert het genees en hy en Jackie het weer by sy regiment aangesluit. Daarna het hulle drie jaar in die voorste linies op die ‘Westerse front’ van Europa spandeer. Hulle was meestal in loopgrawe in Frankryk en Vlaandere en het relatief ongedeerd daarvan afgekom. Jackie en Albert het selfs die Slag van Delvillebos oorleef, waar die ongevalle 80% was.


Jackie aan tafel
Foto: SA Military History

Dit alles het in April 1918 verander toe hulle in die Slag van Passendale onder geweldige kanonvuur was toe hulle onttrek het na Reninghelst in België. In die loopgraaf het Jackie probeer om ‘n muurtjie om homself te bou, maar ‘n stuk skrapnel het oor die muurtjie gevlieg en Jackie in die arm en been getref.

Jackie het geweier om op ‘n draagbaar weggedra te word en wou net sy muurtjie klaar bou sodat hy kon wegkruip. Toe dokters later sy wonde behandel het hulle gesien dat hulle sy regterbeen sal moet afsit.
Die operasie is deur dokter RN Woodsend gedoen en hy was nie seker of Jackie enigsins die chloroform sou oorleef nie. Almal was bekommerd en groot was die bevelvoerende offisier se verbasing toe hy ‘n ruk ná die operasie veldhospitaal toe is: Jackie het dadelik regop gesit en hom gesalueer.


Jackie saam met die Rooikruis
Foto: SA Military History

Medalje
Daarná het Jackie ‘n medalje vir dapperheid ontvang en is na die rang van korporaal bevorder. Die oorlog is kort daarna verby en die Suid-Afrikaanse regering het Jackie en Albert van vroeg September 1918 aan die Rooikruis ‘geleen’ om fondse vir siek en gewonde soldate in te samel.

Hulle het op 11 November 1918 na Engeland gevaar, waar Jackie die Britse pers op hol gehad het toe hy aan die optog in die Burgemeestersdag deelgeneem het. Fondse vir die weduwees en wese-fonds is ingesamel deur ‘n halfkroon te vra om Jackie se hand te skud en vyf sjielings om hom te soen.

Dié Rooikruisdiens het tot 14 Februarie 1919 geduur. Terug in Suid-Afrika is Jackie op 26 April 1919 by die Maitland-kamp in Kaapstad ontslaan. Hy het selfs ‘n militêre pensioen en ‘n burgerlike werkvorm ontvang. Op sy uniform se skouer was een goue ‘wond’ strepie en drie blou moustrepe, wat sy drie jaar van diens aan die oorlogsfront aangedui het.


Jackie as oorlogsheld in London
Foto: Ons Boere se trotse geskiedenis

Albert en Jackie was op 5 Mei 1919 op die laaste been van hulle reis terug huis toe. Terug in Pretoria was daar ‘n reuse verwelkomingsparade waar Jackie die Eerste Suid-Afrikaanse Infanterie Brigade gelei het. Hy was ook deel van die Vredesparade op 31 Julie 1920 waar hy die Burgerlike diens-medalje op Kerkplein ontvang het.

Albert en Jackie is terug plaas toe om van bomskok te herstel, maar die weerbare toestand waarin Jackie was, het op 22 Mei 1921 sy dood veroorsaak. Hy is aan ‘n hartaanval dood in ‘n erge donderstorm toe weerlig die grond naby hom getref het.

Albert het ‘n lang lewe gehad. Hy is in Augustus 1973 in die ouderdom van 84 in Pretoria oorlede.


Jackie en luitenant-kolonel RN Woodsend, wat Jackie se been moes amputeer
Foto: SA Military History

Spoorweë
Jackie was nie die enigste bobbejaan in diens van die Suid-Afrikaanse owerhede nie. In die 1880’s het treinpassasiers wat deur Uitenhage in die Oos-Kaap gereis het gesien dat ‘n bobbejaan die wisselaarwagter was.

’n Wisselaar is ’n toestel met ’n hefboom wat getrek word om treinspore só te verander dat ’n bewegende trein na ’n ander spoor sal oorgaan. Dié wisselaarwagter se naam was Jack en hy was die kollega van James Wide, wat aanvanklik as ‘n wag in diens van die Kaapse Spoorweë aangestel is.


Jackie en Albert, in die middel voor, in September 1915 op Potchefstroom
Foto: Wildlife TV Sofia and Nick

James het die manier gehad om rats van die een treinwa na die ander te spring en het die bynaam ‘Jumper’ gekry. Op ‘n dag in 1877 naby Kleinpoort het James op ‘n stuk seil, wat een van die waens bedek het, gegly en hy het onder die bewegende trein beland.

James het altwee sy onderbene verloor en het sy eie paar houtbene ontwerp en gemaak. Tog kon hy nie meer ‘n treinwag wees nie en die spoorweë het hom as wisselaarwagter op die Uitenhage-stasie aangestel.


Albert Marr en Jackie
Foto: SA Military History

James het ’n spoorweghuisie gekry wat so een kilometer van die stasie af was en hy het ’n trollie ontwerp waarmee hy werk toe en terug op die spore kon ry. Dit was harde werk om dié trollie teen die klein bultjie tussen sy huis en die stasie op te stoot.

Hy kon die wisselaars vanuit ’n stoel beheer, maar as ’n trein kom moes hy stadig uitsukkel perron toe om vir die ingenieur die steenkoolskuur se sleutel te gee. Die sein vir dié sleutel was vier treinfluite.


Jackie het gou geleer om soos die ander troepe op te tree
Foto: BBC

Koop
James was in 1881 op pad na die mark toe hy gesien het hoe ‘n bobbejaan ‘n ossewaspan as ‘voorloper’ lei. Hy het dié bobbejaan, genaamd Jack, daar en dan gekoop. Die eienaar het egter vir hom gesê dat Jack elke aand voor slaaptyd ‘n dop brandewyn moet kry, anders gaan hy die volgende dag weier om te werk.

Jack het ewe gehoorsaam saam met James in sy spoorweghuisie gaan bly en geleer hoe om te help met die trollie en hoe om die sleutel vir die ingenieur te gee as hy vier fluite hoor.

Daarná het James hom geleer hoe om die hefbome te hanteer en weer reg te stel ná ’n trein die stasie verlaat het. Die treindrywers het glo een, twee of drie keer getoet en James het een, twee of drie vingers in die lug gesteek sodat Jack kon leer hoe om die regte ding te doen. Hy het altyd na James gekyk voor hy die hefbome verwissel het.


James Wide staan teen die muur met sy tuisgemaakte houtbene, terwyl Jack met die
sein-hefbome werk
Foto: Futility Closet

Alles het goed gewerk tot ‘n vrou op die trein besef het dat haar lewe in die hande van ‘n bobbejaan was. Sy het die spoorweg-owerhede laat weet en James is dadelik afgedank.

‘n Klomp spoorwegwerkers het na vore gekom om te verduidelik dat James se bobbejaan die werk goed kan doen. Die owerheid het toe besluit om Jack te toets. Hulle het ‘n stel hefbome by ‘n ander perseel opgestel en het ‘n drywer gevra om verby te ry met ‘n veranderende reeks fluite. Jack het dié toets met vlieënde vaandels deurgekom en geen foute gemaak nie.


James Wide en Jack by die sein-hefbome
Foto: Futility Closet

Die spoorweë stel toe weer vir James en Jack aan. Dié keer het Jack ‘n indiensnemingsnommer gekry asook ‘n weeklikse salaris van 20 sent, daaglikse rantsoene en ‘n halwe bottel bier per week.

Tog was Jack nie te spoggerig om sleurtakies te verrig nie. Hy het die spoorweghuisie se kombuisvloer uitgevee en die vuilgoed uitgevat. Ná nege jaar as James se beste vriend, het Jack tuberkulose opgedoen en is in 1890 oorlede.


James Wide en Jack by die spoor-trollie
Foto: Futility Closet

Kees
Ongeveer ’n honderd jaar voor Jack op die treinstasie doenig was, het nog ’n bobbejaan, genaamd Kees, in Suid-Afrika gewerk. Kees was die troetel-bobbejaan van François le Valliant (1753–1824), ’n Franse natuurkundige wat in die 1780’s in die ongerepte binneland rondgereis het.

François se reisbeskrywings meld telkens hoe Kees die ekspedisie se brandwag was. Lank voor die honde van ’n naderende gevaar geweet het, sou Kees al alarm gemaak het. François skryf dat dié honde naderhand na Kees opgesien het om hulle te beskerm. Hulle het sy oë en bewegings dopgehou en gelyk saam eenkant toe weggespring wanneer Kees aangedui het dat gevaar van die ander kant af dreig.


Villieria en Riviera in 1922
Foto: Verskaf

 

© 2019 Die/The Bronberger