Aandag vir rommeldelwer-dilemma bepleit PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 19 August 2019 18:36
Untitled Document

Eus de Clerk

Ons sien hulle daagliks in ons strate met hulle aangepaste trollies oorlaai tot kreunpunt – swoegend onder vragte kartonbondels, plastiekware, stukke yster, hout, blikke, en glas – enigiets wat aan die rommelhandelaars verkoop kan word.   

Hulle is die mense wat ‘n lewe maak uit ons weggooigoed. Of ons dit nou wil weet of nie; hulle lewer ‘n noodsaaklike diens in ons besoedelde land. Ons behoort hulle te waardeer. Soms loop hulle in die strate en belemmer die verkeer tot ergernis van ons ou padwoede-nasie. Maar waar moet hulle loop as die sypaadjies onbegaanbaar is?


Die rommel op die perseel wat grens aan Magalies Watersuiweringswerke

Werkloosheid is een van ons land se grootste probleme. Miskien is dit juis dáárom dat ons ‘n sagte plekkie moet hê vir dié mense wat probeer om kos op hulle tafels te sit deur hulle eie inisiatief en harde werk.

Party munisipaliteite (ook dié van Cullinan) laat toe dat die rommelherwinnaars hulle rommelversameling op toegekende stukkies grond sorteer, voordat hulle dit na die rommelhandelaars se skrootwerf neem. Die sorteer-gebied word binne ‘n paar uur skoongemaak, en almal is gelukkig.

Maar, as dié proses handuitruk, verander die prentjie drasties. In die veld, naby Cullinan Fourways-kruising, het ‘n vullishoop (Lat -25.673443° Lon 28.529310°) oor ‘n aantal jare gegroei tot iets onoogliks, onwelriekend en onhigiënies.


‘n Vergete ou “No Dumping Please” bordjie in die lang gras

Dit is die ideale broeiplek vir rotte, peste en ander onsmaaklike organismes. Daar lê ‘n vergete ou “No Dumping Please” bordjie in die lang gras.

Sommige van die rommelversamelaars het dit ook hulle permanente tuistes gemaak – so tussen-in en bo-op die swart sakke, plastiekbottels, onooglike vullis, reuke, rommel en ander gemors. Die ergste van alles is dat dié stortingsterrein skaars 50 meter van die Magalies Watersuiweringswerke se grensdraad is. Hoeveel kieme beland in die damme en grondwater? 

Majas Ramokgata (nie sy regte naam nie) slaap ook soms daar. Hy is werkloos en sy enigste inkomste is die geld wat hy uit sy rommelverkope verdien. Op ‘n goeie dag maak hy tot R80 met sy ‘besigheid’.


Die rommelherwinnaars slaap ook op die perseel

“Ek het nie ‘n huis of werk nie,” sê hy. “Hoe anders moet ek aan die lewe bly?”

Goeie vraag, Majas. Een wat nie ‘n maklike antwoord het nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger