Die nuus, gelees deur Knol PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 22 June 2009 16:13
Untitled Document

Wat is nuus in die Bromberg? Wel, net kortliks: Umfaan het die logiese trappie geklim van bouaannemer en restouranteur af, na visboer en hoenderspekulant. Piet Vloek sê sy grasdakadvertensie werk mooi vir hom. Op Danie Donder se plot is Telkom glad nie meer welkom nie en by Hennerik Druiweplaas maak hulle die pad oor die drif nou weer dubbel. Dis nou die pad wat net ná Nico Mekêniek se karplek op die bult, regs afdraai en deur die drif verby die Kavalier se kasteel loop.

Dan is die mense half die josie in vir Eben Kwarrie oor sy span nie met die ‘groot brand’ in die berg kom help vuurslaan het nie. Verder verneem ons dat Andre Bob van Boschkop se uie-oes vanjaar voortreflik is en dat Die Generaal se nuwe kwekery wat hy in vennootskap met ou Pine Papenfus bedryf, flink vorder. Geel Harry werk nou glo in Silverton en Jan Pot se plaas is verkoop. Mike Baksloot het ’n rowerboef in selfverdediging doodgeskiet en moet nou desnoods ’n moordklag aandurf.

Dit is die Bronberg-nuus tot dusver, soos gelees deur ou Poon op ’n Vrydag. Daar is nog baie, maar ons swyg – ter wille van die voortgesette vrede. En ja, onderliggend gaan dit eintlik hier al weer oor byname.

Byname kan, volgens ou Poon en ’n knap kêrel, by name van ou Blink- Willem Britz, ’n barometer wees van hoe gesond ’n gemeenskap se gemoed is. Dié gevolgtrekking is gemaak ná die uitgebreide, dog onbewustelike navorsing wat ons sommer die ‘lang, gespaarde lewe’ sal noem - of soos my oupa Mossie Oosthuis dalk sou sê; “Net deur die genade.”

Jy kan iemand op sy naam noem as jy hom ken. Maar jy kan iemand op sy bynaam noem as jy hom góéd ken en as jy hom verstaan. En as hy jou ken en jou aanvaar sal hy nie aanstoot neem nie en jou op sy beurt, op jou bynaam noem – as jy betrokke genoeg is om een te mag hê. Hy sal trouens eerder daarin ’n vriendskapsband en ’n gemeenskaplikheid ervaar, al is sy bynaam iets oënskynlik onvleiend. Iets dalk soos ‘Wingnut’. Wingnut, omdat sy Skepper verkies het om hom op hierdie ondermaanse te plaas met ’n paar wegstaan-ore - weerskante van sy kop.


Die Bronberg se enigste ware Wingnut aan diens by Kitty Hawk

Ons plotwêreld se Wingnut is ’n bakker van beroep met die doopnaam van Alwyn. Ons Wingnut verkies om sy heil buite die grense van die groot dorp te soek en onse Alwyn weet hy word ‘Wingnut’ geroep oor hy aanvaar word en raakgesien word as ’n unieke enkeling in ons eie gemeenskappie.

Die nuus, soos vandag gelees deur ou Poon, is dat ou Wingnut en sy broer onlangs die slagoffers van ’n gewapende roof by ’n plaaslike garagewinkel was. Die goeie nuus is dat hulle (liggaamlik) ongedeerd daarvan afgekom het.

En dit is nie die einde van die nuus nie, maar dit is die einde van die plek wat die vervlakste redakteur - (ons hoor sy bynaam is ou Knol) my toelaat.

En hier, ter afsluiting, volg die weerberig vir die groter Bronberggebied: “Lelike weer, onwelkome koue en ontydige reën word vir die volgende maand of wat voorspel. Die winde van verandering sal stormsterk uit die ooste woed.”

 

© 2019 Die/The Bronberger