Trapmeule-man pak 72 half-marathons aan PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 19 August 2019 19:03
Untitled Document

Trapmeule-man, Morné Basson, het op 15 Julie in Olympus weggespring met sy eerste half-marathon (21,0975 km) om mense van motorneuronsiekte bewus te maak.

Hy is besig om 72 half-marathons in 72 agtereenvolgende dae te hardloop in ‘n poging om ‘n Guinness Wêreldrekord te verbeter. Die rekord staan op 52 agtereenvolgende half-marathons.

Morné, ‘n motiveringspreker, skrywer, atleet en entrepreneur, het op die trapmeule by Planet Fitness op plot 33, Ajaxstraat, Olympus weggespring. Van daar af is hy elke dag na ‘n ander Planet Fitness gimnasium en trap die meule in vier stede dwarsoor die land. Hy gaan sy trapreis op 24 September terug in Olympus afsluit.


Morné Basson saam met sy vriend, Jacques Prinsloo, wat aan motorneuronsiekte ly
Foto: ANA, Jacques Naude

Morné is jare lank al besig met bykans ondenkbare uitdagings om mense van motorneuronsiekte, die siekte wat onder meer rugby-legende Joost van der Westhuizen se lewe geëis het, bewus te maak. Morné het ‘n familielid gehad wat ook aan dié siekte dood is.

Een van die trapmeule-uitdagings wat Morné aangepak het, was toe hy in 2015 die eerste mens geword het om ‘n ultra-marathon op die see te doen. Hy wou aan die Comrades Marathon deelneem, maar het op ‘n luukse skip in Alaska gewerk en kon nie betyds terug in die land wees nie.


Morné Basson op die trapmeule
Foto: Verskaf

Morné het die Comrades-organiseerders gekontak en vertel dat hy op die dag van die marathon die volle 90 km op ‘n trapmeule op die skip, Celebrity Solstice, in die omgewing van Ketchikan, Alaska wil hardloop.

Die organiseerders het vermoed dat Morné mal is, maar het aangebied om hom in sy poging te ondersteun. Hy die afstand afgelê en het so blootstelling gebring vir mense wat aan motorneuronsiekte ly.

Ander uitdagings wat Morné aangepak het sluit in die 31 marathons (42,2 km), wat hy in 2017 oor 31 dae op trapmeulens by verskeie plekke in Gauteng afgelê het. Morné het dié 1 308,2 km by Carnival Mall in Brakpan voltooi, waar hy sommer terselfdertyd ‘n motiverende praatjie vir die toeskouers gelewer het.


Dit is die prentjie wat Morné van homself op die trapmeule se skerm sien
Foto: Verskaf

Soos gewoonlik was sy meisie, Wilma, langs die trapmeule en het hy haar in sy arms geneem toe hy afklim. Wilma en Morné het op 17 November 2017 verloof geraak. In ‘n tragiese geval van atipiese longontsteking, wat ook ‘lopende longontsteking’ of ‘verborge longontsteking’ genoem word, is Wilma onverwags op 12 Maart 2018 in Morné se arms dood.

Hy wil mense ook van die simptome van dié siekte bewus maak. As jy Morné se inisiatief wil ondersteun, besoek https://www.backabuddy.co.za/champion/project/72-half-marathons of stuur vir hom ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2019 Die/The Bronberger