Roei dié indringers in boomplant-maand uit PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 25 September 2019 07:40
Untitled Document

Anton Jansen

Die eerste week van September is tradisioneel boomplantdag en met fanfare plant die agbare burgemeester of die hoof van die skool die jaar se nasionale boom. My advies is: Vir elke boomplantseremonie, verwyder ook ‘n paar honderd wattels.

Ek woon sedert 1970 in die Bronberg-omgewing, wat toe nog hoofsaaklik plaasgrond was, maar op die drumpel om tot “plotte” (‘n platter woord vir landbouhoewes) versnipper te word en vanaf twee honderd rand per hektaar te koop was.

Ek veralgemeen bietjie, want sedert die 1930’s was daar al hoewes te koop. Kopers het gewissel van armblankes, danksy die Carnegie-verslag uit die dertigerjare, tot stedelikes wat graag in ‘n landelike atmosfeer wou aftree. Tussenin was daar ‘beleggers’ wat die uitbreiding van Pretoria na die ooste raakgesien het en honderde hektaar gekoop het.

Intussen het die inval van die swartwattelboomgevaar vanaf die ooste en die suide hektaar na hektaar ingesluk, maar die beleggers gee nie om nie en armes het ‘n paar sent uit die wattel gemaak.


’n Lugfoto wys Garstfonteinweg-verlenging op die voorgrond met ’n deel van die
wattelbosse op die agtergrond

Gevaar
Wat is die swartwattelgevaar? In die 1850’s is die wattel uit Australië ingevoer, want die klimaat in Natal was reg. Die wattelbas bevat ‘n substansie uitstekend vir leerlooiery en die hout is as stutte in die mynbedryf gebruik. Die wattel het in Suid-Afrika geen natuurlike vyand nie, behalwe dat die chemiese industrie in die 1950’s ‘n goedkoper middel kon vervaardig as om die ekstrak uit die bas te haal.

Die wattel het sy grondvriend in ons land gevind, naamlik water. ‘n Volwasse boom kan tot 200 liter water per dag uit die grond trek en as daar geen water is nie kan hy steeds oorleef.

Uitroei
Ons het 40 jaar gelede ‘n stootskraper gehuur om op ons 8.5 hektaar hoewe die wattels op ‘n piramide te stoot en ons skoolseuns het met kettingsae en honderde steke vir wonde wat in die proses opgedoen is, vir ons jare se vuurmaakhout besorg. Die steke vir die wonde was gratis by die ou HF Verwoerd-hospitaal verkrygbaar.

Gou het inheemse bome begin groei, maar tot vandag toe moet ‘n werker twee weke per jaar met ‘n Kaapse “Tree Popper” die opskietwattels uittrek.

Die duisende liters wat die wattels opgesuig het word deur inheemse bome benut, so veel so dat ons inheemse bome moet snoei om van ons uitsig te geniet. Intussen groei hier spontaan aalwyne, allerhande grassoorte en tientalle voëls kan hulle hier tuismaak.


Anton Jansen
Foto: Skermgreep – Die Groot Ontbyt

Water
Na raming kan 48 000 wattelbome op ‘n hektaar groei en dan is die som eenvoudig: 48 000 maal 200 liter is 960 000 liter water wat uit ‘n hektaar getrek kan word.

‘n Studie is gedoen: Sou al die wattel in Gauteng en Mpumalanga uitgeroei word, is daar genoeg water vir die bevolking van Mpumalanga vir die volgende twintig jaar sonder die bou van damme en die sink van nuwe boorgate. Ons fonteine, bronne, spruite en riviere is die oervoeders van water van ons mensdom.

Terug na Boomplantdag. As elke skool in die ooste 40 000 wattels uitwis bereken teen 10 bome per kind, en 200 kinders per skool maal 20 skole, dan spaar ons 8 000 000 liter per jaar vir ons nageslag.

 

© 2019 Die/The Bronberger