Ons onthou 17 toeka-stories uit 17 jaar PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 25 September 2019 07:59
Untitled Document

Min het ons geweet dat die heel eerste toeka-foto wat in September 2002 geplaas is, tot ‘n maandelikse toeka-rubriek sou lei. Ons het toe gevra of lesers dalk die stuk Bronberg op ‘n Zwavelpoortse oorlog-foto herken.

Só het alles begin

Ons eerste toeka-foto in September 2002

Piet Colyn het laat weet dat die foto uit die Engelse Oorlog naby die fontein op sy plot geneem is. Die fontein het in menseheugenis nog nooit opgedroog nie en sou die enigste lopende water wees wat die kommando’s op daardie bergroete kon kry.

Drie susters

Isabella Susanah en Gert Petrus Bezuidenhout

In Oktober 2002 vertel ons dat Piet Colyn ‘n afstammeling is van drie Viljoen-susters, agterkleindogters van Piet Retief, wat die plaas Zwavelpoort geërf het. Op dié 1919-foto is Piet se grootouers, Isabella Susanah, een van die Viljoen-susters, en haar man Gert Petrus Bezuidenhout. Die ander twee susters was Deborah en Martiena.

Blink dinge

Hans en Hannie van Staden

Hans en Hannie van Staden het die plaas Onbekend in 1924 gekoop. In Junie 2004 het ons vir die eerste keer by hulle dogter, Willa Dreyer, wat toe 86 jaar oud was, gaan kuier. Sy het vertel dat haar pa Hans in 1886 ses jaar oud was en gesien het hoe die hoofgoudrif aan die Witwatersrand ontdek is op sy oupa, Gerhardus Cornelis Oosthuizen, se plaas Langlaagte.

Erfgrond

Maroela Erasmus

In April 2005 vertel ons dat Voortrekker Daniël Jacobus Erasmus met Cornelia Jacoba Susanna Kruger getroud was en dat hulle seun, Stephanus Erasmus, Mooikloof van sy pa geërf het. Sy broer, generaal Daniël Jacobus Elardus (Maroela) Erasmus, het Rietfontein, Grootfontein, Tierpoort, Bashewa en Welbekend geërf.

Spookhuis

Carel Jacobus Erasmus

In Julie 2006 het ons berig oor die spookstories en gruverhale wat oor die Erasmuskasteel, of te wel Spookhuis, vertel word. Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou Johanna Jacoba het dié plek in 1903 gebou. Jochemus was die tweede seun van Carel Jacobus Erasmus, wat op die plaas Garstfontein, wat toe reeds in 13 dele onderverdeel is, geboer het.

Bekendste boemelaar

Ou Moes

Ou Moes se voorliefde vir drank en mooi meisies het hom op ’n jong ouderdom reeds die afdraande pad laat loop. In Augustus 2007 vertel ons die verhaal van Paul August Moes, ou Pretoria se bekendste boemelaar. Moes is in die Wes-Indiese eilande gebore as die erfgenaam van ’n sigaarfabriek, wat hy amper weggedrink het. Sy familie het hom weggestuur na Pretoria.

Donkerhoek-villa

Donkie Wolmarans

Donkerhoek se villa uit die 1800’s is deur ’n lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans gebou, vertel ons in Junie 2008. Hy het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en Wolmarans Rust gedoop. Groot dele van die Wolmaranshuis, soos die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels, is uit Engeland en Europa verskeep.

Donker geheim

Henry Rider Haggard


In April 2009 vertel ons dat skrywer Henry Rider Haggard in die 1870’s in Pretoria gebly het. Henry en sy vriend, Arthur Cochrane, het ’n sinkdakhuisie gebou, wat later as Jess’s Cottage, na aanleiding van Henry se boek ‘Jess’, bekend gestaan het. Min mense weet dat Henry die graf van sy buite-egtelike babadogtertjie hier agtergelaat het toe hy terug Engeland toe is.

Struben-broers

Kaptein Johan Marinus Struben


In Januarie 2010 vertel ons die verhaal van die Hollandse kaptein, Johan Marinus Struben, en sy seuns Harry en Fred, wie se mislukte boerdery op die Struben-plaas, The Willows, tot die ontdekking van goud gelei het. Harry het The Willows, geleë langs die buurplaas Hazeldean, in 1862 gekoop en sy broer Fred het as sy assistent gewerk voor hy begin delf het.

Bobaas-spioen

Johanna Brandt

Niemand het vermoed dat Johanna Brandt en haar ma die Engelse Oorlog se suksesvolste spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse bedryf het nie. In November 2011 vertel ons dat Johanna een van die min oorlogstydse geheime diens-werkers was wat nooit uitgevang is nie. Sy en haar ma, die weduwee Maria van Warmelo, was gebaseer op die plot, Harmonie, waar die Normaalkollege se koshuise later gebou is.

Troetel-leeu

Rudolph Coetsee

In Desember 2012 skryf ons dat selfs Eugène Marais oor Rudolph Gustavus Coetsee en sy leeu, Oubaas, geskryf het. Rudolph, ‘n prokureur van Cullinan, moes op ‘n jagtog ‘n leeuwyfie, wat iemand aangeval het, doodskiet. Sy het welpies gehad en Rudolph het die mannetjie gevat, hom Oubaas gedoop, mak grootgemaak en ‘n film, ‘Logogotu’, oor sy lewe gemaak.

‘Swart luiperd’

Fritz Duquesne

‘Swart Luiperd’ was die kode-naam van ‘n sjarmante spioen wat Lord Kitchener, die argitek van konsentrasiekampe en die verskroeide aarde-beleid, se dood veroorsaak het. In Januarie 2013 vertel ons die verhaal van Frederick (Fritz) Joubert Duquesne ‘n Boeresoldaat, krygsgevangene, grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, makelaar, saboteur en avonturier.

Grootprater

Koos Jooste

In Maart 2014 word die Bronnie se lesers voorgestel aan ‘n eksentrieke man wat waarskynlik een van die kranigste grootpraters was wat die wêreld nog gesien het. Koos Jooste het vir dekades ná die Engelse Oorlog nog as sogenaamde Boere-kommandant in Europa ‘n bestaan gemaak uit praatjies, self-gepubliseerde blaadjies en poskaarte met foto’s van homself in heldhaftige posisies.

Melktand-soldate

Pieter Cronje, nege jaar, en Tjaart van der Walt, 11 jaar, as krygsgevangenes op die Bermuda-eilande

Die toeka-storie van April 2015 gaan oor Penkoppe so jonk as agt jaar, wat in die Engelse Oorlog saam op kommando gegaan het, aan veldslae deelgeneem het en na krygsgevangene-kampe in Bermuda, Indië, Ceylon en St Helena gestuur is. Seuns was dienspligtig vanaf 16 jaar, maar die wat jonger was kon saamgaan as ‘n pa, broer, oom of neef vir hulle verantwoordelikheid kon neem.

‘Moordkamp’

Henrietta Armstrong

Maart 2016 se storie was oor die Irene Konsentrasiekamp wat ook ‘n strafkamp vir oproerige vroue gehad het. Veroordeelde vroue is soms vir ‘n dag lank sonder kos en water opgesluit. Om hulp aan dié konsentrasiekamp se siekes en noodlydendes te verleen, is die ‘Irene Vrijwilliger Verpleegsterskorps’ op 6 April 1901 onder aanvoering van Henrietta Armstrong gestig.

Makgemaak

William Skinner

In Augustus 2017 skryf ons dat Pretoria nog nie eers sy naam gehad nie toe ‘n ‘makgemaakte Ingelsman’ deur die eerste president se pa na dié omgewing gebring is om vir hom ‘n huis te bou. William Skinner was daarna bou-aannemer van die eerste kerk, skool, tronk en raadsaal asook landdros en raadslid van die eerste munisipaliteit. Hy het met Piet Retief se kleindogter, Debora Wilhelmina Landman, getrou.

Weeskind

Anna Vermaak

In Julie 2018 kon lesers uitvind dat Anna Vermaak ses jaar oud was toe haar ma dood is. Twee jaar later is haar pa dood en haar stiefma het die wesie na die Gereformeerde Kerk Pretoria geneem. Anna is sonder haar boeties en sussies na ‘n verre dorp weggestuur. Sy is in ‘n kort tydjie drie keer aangeneem tot sy op 16-jaar met ‘n man 32 jaar ouer as sy, getroud is. Anna het drie eggenote oorleef, 33 kinders versorg en 96 jaar oud geword.

o
 

© 2019 Die/The Bronberger