Lesers kies 17 gunsteling-voorblaaie uit 17 jaar se Bronnies PDF Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 25 September 2019 08:01
Untitled Document

As deel van die Bronnie se verjaardagvieringe het ons ‘n aantal lesersvriende gevra om as terugblik ‘n voorblad uit die meer as 200 uitgawes van die afgelope 17 jaar te kies: Een wat vir hulle uitstaan of wat hulle gunsteling is en om kortliks die rede vir hulle keuses te gee. Al die voorblaaie kan op ons webblad gesien word. Heelwat lesers het gemeen dis bykans ‘n onmoontlike taak, maar tog ‘n genotvolle een en 17 voorblaaie uit die 17 bestaansjare is gekies


Hannelie O’ Neill
van Kaalfontein het die voorblad van Oktober 2018 gekies. Die foto is deur Dawie Jacobs geneem en beeld ‘n riethaan uit waar dit in die bruisende water onder die Rietvleidam se uitloop na ‘n iets te ete op soek is.


Die riethaan op die voorblad van Oktober 2018

Hannelie sê die sterk stroom waarin die riethaan jag, het haar aan die mens se lewe laat dink: Die een oomblik kan dit sterk en vol geesdrif vloei en as dit droog is kan dit maar sukkel. Maar die volgende oomblik sak die reën uit en staan jy weer sterk en vol hoop op.


Johan van der Linde van Rayton sê sy gunsteling seisoen is die winter. Daarom is die Bronnie se voorblad van Junie 2019 van twee vissermanne in die mis op die Bronkhorstspruitdam sy heel gunsteling.


Die voorbladfoto van Junie 2019 is vroegoggend by Bronkhorstbaai deur Laurika van der Linde geneem


Johan Pieterse
van Boschkop sê hy het een oggend oor Nkwe en verby die Rietvleidam gery. Dit was ‘n mistige oggend. “Ek het die kombers oor my gevoel met vrede in my hart,” sê Johan. Toe hy die voorblad van Julie 2016 sien, het hy dadelik daaraan gedink. Hy sê hulle woon op die berg met die mooiste uitsig oor die vallei.


Johan Pieterse se gunsteling was Julie 2016 se perde in die mis soos deur Solette Lubbinge afgeneem


Helena Naudé Potgieter woon al amper 24 jaar op Tweedragt. Sy sê sy het dus al van die ontstaan van die Bronnie af, maand na maand na die afsetpunte gegaan om hom te kry en doen dit steeds. Die lees van die Bronnie is een van haar maandelikse hoogtepunte.

Sy het na al die vorige voorblaaie op die webwerf gekyk en haar keuse het geval op Junie 2007. Op die betrokke voorblad lê ’n aantal ronde grasbale op die land.


Die grasbale op Junie 2007 se voorblad
Foto: Die Bronberger

“Ek het so ’n onverklaarbare goedvoel-gevoel vir die nederige ou grasbaal. Vandat ek ’n hoewe-bewoner geword het, sien ek altyd nuut gesnyde grasbale wat op lande uitgesprei lê, raak. Hoekom dit so is weet ek nie verseker nie,” sê Helena.

Sy het ook al self sulke bale gaan aankoop by boere en die lekker gevoel as sy sien hoe haar kallers hoog agter-opskop as hulle na haar bakkie aangehardloop kom in opgewonde vooruitsig, is dalk wat liefde vir bale aangewakker het en natuurlik ook die heerlike aardse veldreuk van ’n baal.  


Laurika van der Linde wat by die Donkerhoek Veearts werksaam is, sê die voorblad van Februarie 2019 staan vir haar uit. Sy sê sy is ‘mal oor’ voëls en die natuur en dié betrokke foto is vir haar uitstekend.


Die byevangertjie van Februarie 2019 wat parmantig oor sy skouer loer
Foto: Robert Harmse


Gene de Lange
van Bashewa sê hy het maar ‘n vooroordeel vir die katspesie en dis waarskynlik hoekom die voorblad van Februarie 2015 vir hom uitstaan.

Tong in die kies sê Gene dat hy vermoed die bedagsame snuffelkat help vir Vreethans en Metgesel om kuierplekke in die gebied op te spoor wat groot porsies bedien, sodat Wagter en Kietsie by die huis ook hulle deel per brakkiesakkie kan kry.


Die ‘snuffelkat’ wat op Februarie 2015 se voorblad gepronk het
Foto: Marethe Grobler

Gene het die Bronnie jare gelede begin lees toe dit nog by Lion Bridge in Lynnridge Mall beskikbaar was. Hy was eers skepties dat ‘die ding’ gratis was, maar het een gevat en begin lees en het van toe af “gehoek geraak soos ‘n karp op ‘n gegeurde mieliepit”.

Hy kan nie dink dat daar êrens nog ‘n soortgelyke, suksesvolle publikasie beskikbaar is nie. Gene woon die afgelope vyf jaar op Bashewa.


Altie Potgieter van Cullinan se gunsteling voorblad was die een van November 2018. Altie sê die rede vir haar keuse is omdat dit so ‘n perfekte belofte van God uitbeeld dat elke nuwe dag uniek en spesiaal is en dat die mens die beste en die meeste daarvan moet maak.


Nog ‘n somersdag breek aan oor die Bronberg-gebied: November 2018 se voorbladfoto is deur Emma Koekemoer geneem

“Ons doen absoluut niks om elke dag ‘n sonsopkoms te ontvang nie. Al wat van ons verwag word is om vir ander om te gee, liefde te deel en ‘n positiewe verskil te maak,” sê Altie.


‘n Voorblad met gevoel, sê Riana Lombaard oor dié een van Junie 2013


Kunstenaar, Riana Lombaard
, van Sterrewag sê sy het so ewe een Maandagaand besluit om gou na die verskillende voorblaaie te gaan kyk en haar keuse te maak. Toe nie, sê sy. Sy kon net eenvoudig nie net een kies nie.

Dinsdag het sy dit toe ‘n projek vir haar kunsstudente gemaak om hulle voorblad te kies. Die studente het kop gekrap en besluit op die lentebloeisel-voorblad van Augustus 2016. Hulle het as rede aangevoer dat die voorblad se fokus en boodskap met die mooi beligting beklemtoon word.


Riana Lombaard se kunsstudente het as ‘projek’ dié een van Augustus 2016 gekies

Riana sê al die voorblaaie is van hoogstaande keuse en gehalte, maar een wat haar baie na aan die hart lê is die een van Junie 2013. “’n Voorblad met gevoel,” sê sy. Altwee die foto’s is deur die Bronnie se mense geneem.


Emma Koekemoer van Rayton is self ‘n begaafde fotograaf. Sy sê dit was ‘n baie moeilike opdrag om een voorblad te kies.


April 2018 was Emma Koekemoer se keuse
Foto: Mia Christie

Hoewel daar nog baie ander is wat uitstaan, het Emma se keuse op die voorblad van April 2018 geval. Haar rede is omdat dit die sorgeloosheid en lewe vol pret soos net ‘n kind dit kan ervaar, uitbeeld.


Eus de Clerc
sê die voorblad van Mei 2011 lyk vir hom so lekker landelik en plattelands. Hy voel sommer die warm beesmis tussen sy tone en hoor die gezoem van sonbesies in sy ore.


Eus de Clerk het Mei 2011 se voorblad gekies. Die foto is by die Willem Prinsloo Landboumuseum geneem

Eus sê hy bly maar nog ‘n kort tydjie op Cullinan en het Die Bronberger met hulle intrek in Februarie vanjaar ontdek. Hy meen dit is ‘n pragtige tydskrif, propvol plaaslike inhoud, interessante artikels en in die taal waarin hy groot geword het.


Esmé Meyer
is ‘n kunstenaar wat in Murrayfield woon. Sy meen dit was ‘verby moeilik’ om ‘n voorblad te kies wat vir haar uitstaan.


Maart 2017 se voorbladfoto is deur Solette Lubbinge geneem

Die voorblad van Maart 2017 met die sebravulletjie se helderheid, varsheid en kleurkombinasies het haar vasgegryp. En natuurlik ook die lewensblye strepieskind. Die balans van daardie voorblad is volgens haar perfek.


Dié voorblad van Augustus 2013 het ook ‘hard’ met Esmé gepraat
Foto: Peter Thomas

Sy het in 2012 die eerste keer met die Bronnie kennis gemaak en tot haar spyt was dit nie vroeër nie.


Riana Snyman
van Shere sê die Bronnie se voorblaaie is altyd besonders. Haar gunsteling is ‘beslis’ die een van Augustus 2018 met die allermooiste foto van die springperd met ruiter.


Augustus 2018 se voorblad met ‘n foto van Nadine Bennet en haar merrieperd wat deur Charlotte Grub geneem is

Volgens Riana is dit ‘n ‘pragtige, treffende en kleurvolle’ voorblad wat haar hande laat jeuk om die Bronnie dadelik te lees. Hulle woon al ‘n paar jaar in Shere en geniet die landelike omgewing en natuurlik al die perde en hoewes wat hulle omring, wat ‘n rustigheid verleen.


Alet Erasmus
van Kleinfontein sê die voorblad van Maart 2014 “praat met haar”. Dit is moontlik vroegoggend geneem met die doudruppels op die spinnerak.

Sy is lief vir blomme en hou ook daarvan om blomme vir ander te gee. Kosmos neem haar terug na haar kleindogtertjiejare toe hulle nog met die ou Bronkhorstspruitpad van Ogies af teruggekom het. Met kosmostyd het sy haar pa gesmeek om net gou stil te hou sodat sy ‘n paar kosmosse kon pluk.


Maart 2014 se kosmosvoorblad is `Alet Erasmus se keuse

Kosmos vra nie veel nie, maar gee vir dié wat dit raaksien en ontvang, sê `Alet.

In 2003 het hulle Kleinfontein toe getrek en met die Bronnie kennis gemaak.


Dawie Badenhorst
van Nooitgedacht kies die voorblad van Junie 2015 as sy gunsteling. Dit beeld ‘n roofvoël uit wat besig is om nes in die Klipkop-gebied te bou.


Die voorblad van Junie 2015

Dawie sê hy is mal oor die natuur en roofvoëls is een van sy gunstelinge onder die geveerdes. Hy sê hy en sy gesin lees Die Bronberger van 2011 af. Solette Lubbinge het die foto geneem.


Amanda Taljaard van Cullinan sê jasmyne lê haar baie na aan die hart. Daarom is haar gunsteling die jasmynvoorblad van Augustus 2011.

Amanda sê haar jasmynstorie is: “As klein dogtertjie het ons drie elke jaar met Mammie se verjaarsdag op 31 Augustus ‘n takkie jasmyn op haar geskenkie gesit. Later jare is my Vasti op
20 Augustus gebore en ek het altyd ‘n takkie jasmyn gekry om dit op haar verjaarsdag tussen haar presentjies in te sit.


Die voorblad van Augustus 2011 met die meisie en jasmynheining

Later jare het ouma gesorg dat ’n jasmyn onder haar kamervenster woon en vyf jaar gelede op
19 Augustus het oumsie na ’n ander beter plek verhuis en die reuk van jasmyn was weer volop. My Vasti het Kaap toe getrek en ek het gesorg dat haar boet ’n jasmyn plant . . . naby haar . . . in ’n pot! Vandag terwyl ek gaan stap ruik ek jasmyn en in my hart weet ek my Vasti gaan haar jasmyn ruik en aan my en haar oumsie dink.”

 

© 2019 Die/The Bronberger