Mynstof is kommerwekkend PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 22 October 2019 10:42
Untitled Document

Marja Brunniger van Cullinan skryf: 
Dood! Geen plant of dier of gogga leef meer hier nie. ’n Dik laag grys sementagtige stof bedek die gebied.

Dit kom die afgelope jaar of wat uit die ventilasieskag van die Cullinan-myn. Waaraan word die dorpie en sy mense en die toeriste blootgestel? Waarom kry ons geen antwoorde nie? ’n Suur reuk hang snags dik in die lug in Cullinan. Hoekom vrek plant en dier?

Op die foto is ’n klip wat ek omgedraai het om te wys wat die eintlike kleur van die klip hoort te wees.

Die oorspronklike groen bottel en die dooie aalwyn en al die klippe is almal nou die eentonige grys.

Kommerwekkend!


Die foto is by die toeriste-uitkykpunt by die groot gat geneem. Die klip in die voorgrond is omgedraai om sy ware kleur te wys

Gert Klopper antwoord namens Petra Diamonds:
Die stofneerslag is die gevolg van waterdamp wat vorm in die warm ondergrondse omgewing en dan met die ventilasiepype na die oppervlak styg en kimberliet-partikels saamdra. Sodra die waterdamp kondenseer, vorm hierdie stof ‘n neerslag.

Dit is belangrik om te let dat die stof geen chemikalieë bevat nie en slegs uit fyn kimberliet-rots bestaan, wat nie skadelik vir plant- of dierelewe is nie. Dit is ook nie suur nie en die genoemde “suur reuk” wat in die lug hang is vermoedelik eerder die gevolg van gereelde onlangse veldbrande.

Ongeag bostaande, word die stofneerslae gereeld gemonitor en enige stappe nodig geneem om te verseker dat dit nie negatiewe impak op die gemeenskap het nie. Tot op hede was alle lesings binne aanvaarbare perke. Die oorskakeling na ‘n ondergrondse druk-ventilasiestelsel teen Desember behoort bogenoemde neerslae uit te skakel.

Met ondersoek van die bewerings in die brief, wat ook op sosiale media geplaas is, is gevind dat die plantlewe van die area waarna verwys word, onlangs in ‘n veldbrand afgebrand is, voor die neerslag daarop gevorm het. By nadere ondersoek is gevind dat die plante besig is om uit te loop na die brand. Die stof blyk om geen skadelike invloed daarop te hê nie.

Ons wil graag die publiek uitnooi om, met enige klagtes of navrae wat hulle mag hê, ons in die eerste plek te kontak sodat die probleem aangespreek kan word. Dit kan gedoen word op verskeie maniere: e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , tolvry (vanaf ‘n landlyn) op 080-000-0956, deur ‘n SMS te stuur (gratis) na 30921, deur die klagte-/kommentaarboek by die myn se ingang in te vul of deur enige van Petra Diamonds se amptelike sosiale media blaaie.

 

© 2019 Die/The Bronberger