En die antwoord is . . . PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 22 October 2019 10:46
Untitled Document

Genade, volharding, die volgehoue ondersteuning van derduisende lesers uit ‘n uitsonderlike gemeenskap en ‘slim’ adverteerders wat die waarde van blootstelling in ‘n publikasie wat deeglik gelees en geniet word besef: Dit is die kort antwoord wat ons onlangs aan ‘n kollega uit die ongenaakbare mediawêreld kon gee.

Sy vraag was: “Hoe op aarde kry julle dit reg om ‘n volle 17 jaar, sonder enige korporatiewe ondersteuning of rugsteuning van enige groot organisasie as onafhanklike publikasie te bly voortbestaan?”

Ons kon ook bygevoeg het dat ons geseën is met ‘n halwe handjie vol raakvat-mense waarmee ons jare reeds saamwerk.

Hoe weet ons die Bronnie se lesersvriende sien telkens uit na die verskyning van elke nuwe uitgawe van hulle eie gemeenskapsblad, lees elke Bronnie deeglik, geniet dit terdeë en ondersteun ons adverteerders? Wel, hulle vertel ons:

Soos weerspieël in die volgende uittreksel uit ‘n brief van Johnny van der Merwe van Olympus in hierdie uitgawe: “Dit het my so pas plus minus twee ure geneem om die 17de verjaarsdaguitgawe van Die Bronberger te lees. U is al in die verlede tereg baie lof toegeswaai, dog ek voel genoop om u, veral na aanleiding van die 17de verjaarsdaguitgawe, spesiaal te bedank vir ‘n gratis glanstydskrif wat dwarsdeur sy bestaan homself bewys ten opsigte van die wydste verskeidenheid van weldeurdagte en interessante artikels en baie belangrik – altoos in goeie smaak.”

Ook in dié uitgawe van die Bronnie skryf Pietman Basson: “My gelukwense aan Die Bronberger met ’n baie interessante uitgawe vir die 17de bestaansjaar.”

“Dan wil ek spesiaal dankie sê vir die advertensie van Apple met die program van die rugby-wêreldbeker. As ek weer eendag eiendom wil koop of verkoop sal ek hieroor eerste met Osie en Gerné praat.”

Ons kan letterlik honderde dergelike gevalle opdiep wat spreek van ons lesers se meelewing en van hulle uitgesproke ondersteuning van ons adverteerders. Ons volstaan met net ‘n paar en ons doen dit uit dankbaarheid en met vertroue dat die kringloop van ondersteuning sal voortduur en groei.

Helena Naude Potgieter: “As ons dienslewering of produkte benodig, is die antwoord altyd: Kyk in die Bronnie vir ‘n advertensie.”

Esmé Meyer: “Die aanskoulike advertensies, een en elk in kleur, en die plekke en dinge wat dit verteenwoordig trek ’n mens onvoorwaardelik in om selfs dit met genieting aandag te gee.”

Anita Robertse: “Die Bronnie was skaars uit toe kry ek goeie navrae. In die toekoms sal ek slegs in Die Bronberger adverteer.”

Jakes Stadler: “As adverteerder, kan ek met oorgawe (en feitelik) getuig dat die reaksie uit Die Bronberger merkwaardig en meetbaar beter is as uit advertensies in verskeie ander publikasies.”

Fred Colling: “Al die adverteerders en getroue lesers lewer sulke mooi bydraes om ons gemeenskap ‘n gesogte en beter plek te maak.”

Alet Erasmus: “Die Bronberger was in al die jare wat ons deel is van die omgewing, ’n tydskrif om na uit te sien. Ons ondersteun graag die adverteerders – sommige al ou bekendes.”

 

© 2019 Die/The Bronberger