Motoriste loop deur op dié stuk snelweg PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2019 10:51
Untitled Document

’n Vrou het ‘n noue ontkoming gehad ná ‘n groot klip op die N4-snelweg deur haar voorruit gegooi is. Die klip is glo by die treinbrug naby die Donkerhoek-tolhek afgegooi.

Emmarie Theunissen het een aand in die middel van September van Meyerspark na Bronkhorstspruit op die snelweg gery. Sy sê sy weet nie hoekom nie, maar iets het haar laat besluit om van bane te verwissel. Kort daarna is die klip deur haar voorruit gegooi en toe sy later by die tolhek stilhou en haar kajuitliggie aanskakel, het sy gesien dat die klip op haar handrem beland het.

Vier ander motoriste het dieselfde aand ook onder die klipgooiery deurgeloop. Die voorvalle was op dieselfde stuk pad waar skerp voorwerpe en hindernisse voorheen op die snelweg gesit is.

In Die Bronberger se Maart-uitgawe het ons berig dat daar in Februarie verskeie misdaad-voorvalle naby die Donkerhoek/Boschkop-afrit van die N4-Oos snelweg was. ‘n Man is in die kop geskiet nadat hy van die snelweg afgetrek het omdat sy motor se band deur ‘n stuk metaal beskadig is.


Die voertuig se voorruit
Foto’s: Facebook

Klippe en stukke beton is in ander gevalle vanaf dié afrit se brug op verbygaande voertuie gegooi.

Voertuig- en voetpatrollies is op die naweek van 2 en 3 Maart rondom die N4-Oos snelweg gehou in ‘n poging om die toename in gewapende roof en kwaadwillige saakbeskadiging hok te slaan.

In April het ons berig dat vyf voertuie se bande in die vroeë oggendure van 27 Maart tussen die Cullinan/Rayton-afrit en die Diamond Hill tolplaza beskadig is. ‘n Vrou wat in ‘n oostelike rigting op dié stuk pad gery het, het berig dat sy oor twee onbekende hindernisse gery het wat twee pap wiele tot gevolg gehad het.

Sy het besluit om nie stil te hou nie en het deur die tolhek gery en by The Rose vulstasie aangedoen om na die skade te kyk. By dié vulstasie het sy vier ander voertuie met beskadigde bande gevind. Een daarvan was ‘n splinternuwe Audi met vier erg beskadigde bande.

Volgens ‘n sekuriteitsfirma van Bronkhorstspruit was ten minste een ander motoris daardie aand nie so gelukkig nie. Hy het van die pad afgetrek om insleepdienste te bel nadat sy bande beskadig is en is dadelik beroof.


Die groot klip wat binne-in die kar op die handrem beland het

Dit wil voorkom asof skerp voorwerpe en hindernisse aspris op daardie deel van die snelweg geplaas word om motoriste te dwing om stil te hou sodat hulle beroof kan word.

In Mei het ons weer berig dat motoriste op 30 April deurgeloop het toe oproeriges voertuie met klippe vanaf die Donkerhoekbrug oor die snelweg bestook het.

Die groep het helder oor dag op die Ou Bronkhorstspruitpad begin klippe gooi. Offisiere van die Boschkopse Polisiestasie en die Tshwane Metropolisie het die pad gesluit, maar die oproeriges het na die snelweg oorgeloop en was tot donkernag daar bedrywig. Klippe is ook op die snelweg gepak.

 

© 2019 Die/The Bronberger