Oor diens, plig en byname PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 22 October 2019 11:14
Untitled Document

Diensplig, sê Gert Mossie, was ‘n ding . . . En hy staar stip voor hom uit, so al asof hy iets van die vergange ‘diensplig-ding’ iewers doer ver agter die onderstebo-hangende bottels Klippies en goed  hier voor hom, kan sien.

Vandag se jonger garde sal waarskynlik dink ‘diensplig’ is ‘n ding wat jy vir, of dalk aan of met jou vrou moet doen om onnodige huismoles te voorkom.

Maar in ons dae, sê Gert, was dit jou ‘plig’ om ‘diens’ in die een of ander vertakking van die land se Weermag te loop doen. Jy het geen uitkomkans of keuse gehad nie. Jy is ‘opgeroep’ om diens te doen. Want al was jy as blote bogkind nog sopnat agter die ore, dit was jou plig.

Eintlik het hy hier gesit en dink aan byname, sê Gert Mossie vir Grootpiet-in-die-hoek, en dis toe dat die ou onthouding hom so ongevraag op die dienspligspoor sit.

Die een ‘keuse’ wat hulle as skoolseuns wel oor diensplig gehad het, het vir hom dadels beteken, sê Gert. Hy onthou die groot opwinding dié dag in standerd nege toe ‘n ‘regte’ soldaat by ou Hamlet, die Engelse onderwyser, se klas instap en aan elke seun ‘n vorm uitdeel om in te vul.

Allerlei persoonlike inligting moes ingevul word en dan was daar die afdeling waarin jy jou keuses van voorkeur van die betrokke vertakkings en afdelings in die Weermag waar jy jou diensplig sou wou doen, kon weergee. Drie vertakkings, Leër, Vloot of Lugmag, elk met ‘n rits afdelings onder elke vertakking, kon jy uit kies.

Nou was dit van kindsbeen af sy droom om eendag ‘n matroos te word en hy dog toe in sy opgewonde eenvoud dat hierdie sy groot kans is, sê Gert Mossie. Daarom skryf hy oral waar invulplek is ‘Vloot’ en ‘seeman’ en as hy dit daar gelaat het, kon dit dalk die nodige vrugte gedra het, maar nee, toe maak hy mos ‘n foutjie: Onder aan in groot hoofletters skryf hy: “Enige iets behalwe die infanterie.”

En dis die diensplig-ding daar in die infanterie-barak op Grahamstad, wat hy met ‘n 30-stuks ander infanterie-troepe moes deel, wat hom nou hier aan byname laat sit en dink het, sê Gert Mossie.

Voor lank het elke troep in daardie barak (of bungalow, soos almal dit genoem het) met ‘n bynaam opgesaal gesit. As jy met een daar aangekom het, het jy ‘n nuwe een gekry en as jy nie een gehad het nie, is jy binne ‘n japtrap gedoop. Iets wat jy gedoen of gesê het, hoe jy opgetree of gelyk het en ook jou doopnaam of van, kon die oorsaak van jou bynaam wees.

So het ou Piet Gouws ‘n vreeslike kabaal opgeskop oor iemand sy netjiese ‘uitstapkouse’ met ‘n gehawende en vergatte paar op die wasgoeddraad geruil het en het hy summier Piet Kous geword.

Dries Erasmus het verskriklik gekla oor sy klapperhaarmatras en het ou Matrasmus geword en gebly.

Een van die enkele Engelssprekende troepies was Ian Foxcroft voor hy Jan Jakkalsland geword het.

Name is verbuig en verbloem en geskommel, sê Gert. Só kon ou Bosman Olivier herdoop word na Bosdier Olifant. Jy kan jou net voorstel watter naam die kwaai sersant Kromhout gekry het en dan was daar die stomme outjie in die troepgroep wie se van Kachelhoffer was . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger