Katkolonie se lot het liefhebbers op hol PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 22 October 2019 13:17
Untitled Document

Katliefhebbers van Cullinan is op hol oor die 44 katte wat in September uit die diamantmyn se katkolonie gevang en na die DBV gestuur is. Omliggende restauranteienaars in die dorp, wat oor die jare van dié katte aangeneem het, was bang dat hulle troetelkatte ook gevang sou word.

Katte uit die kolonie wat gesteriliseer is, het almal oormerke gehad en die plan was nie om hulle te vang nie. Een só gesteriliseerde kat is vier keer in die vanghokke gevang en elke keer weer vrygelaat. Twee ander met identifiserende merke is ook vrygelaat.


Señor Gato is ‘n reggemaakte kat wat deur Piacere Restaurant reg langs die myn, versorg word
Foto’s: Roxanne Dehon

Volgens Gert Klopper, woordvoerder van Petra Diamonds, eienaar van die diamantmyn, was identifikasie een van die belangrikste beginsels in die vangproses. Hy sê dat daar baie seker gemaak is dat die katte wat gevang is nie gesteriliseerde katte was nie en dat werknemers by die myn in dié proses gehelp het. Gert sê dat geen vanghokke buite die mynperseel opgestel is nie.

Gert sê dat die regmaak, inenting en ontwurming van die katte wat oorgebly het, oorweeg kan word sodra die populasie in ‘n natuurlike ekologiese balans met die beskikbaarheid van prooi is.

Hy sê dat die grootte van ‘n katkolonie grootliks deur die beskikbaarheid van kos bepaal word, wat beteken dat die kolonie sal groei as die katte gevoer word. Volgens Gert het die Cullinan Diamantmyn se katkolonie geleidelik groter begin word omdat die katte deur werknemers gevoer is. Hy sê die skatting is dat daar omtrent 80 katte was en dat ‘n bestuursplan saam met ‘n inspekteur van die DBV opgestel is om die ongesteriliseerde katte na die Silvertonse DBV te verwyder.


Black is nog ‘n reggemaakte kat wat deur Lemon Tree Restaurant versorg word

“Die visie is beslis nie die uitroei van alle ‘wilde’ katte nie, maar om ‘n volhoubare populasie te bestuur wat kan floreer in ‘n natuurlike ekologiese balans met die natuurlike beskikbaarheid van prooi soos muise en rotte,” sê Gert. “Ons het ‘n geïntegreerde benadering voorgeskryf, wat habitataanpassing en vrugbaarheidsbeer insluit, soos voorgestel deur Hildreth, Vantassel en Hygnstrom.”

Gert sê dat die voer van dié katkolonie nou verbied word. Nie almal stem met dié bestuursplan saam nie. Melodie Steyn, wat op die perseel net buite die myn se afgekampte sekuriteitsgebied werk, voel dit is wreed om die katkos weg te vat en sy hou aan om die katte te voer.

Melodie sê dat sy al omtrent 20 jaar daar werk en net so lank al die katte voer en seker maak dat hulle gevang, reggemaak en dan weer vrygelaat word. Daar is ‘n kat van 14 jaar oud en ander tussen die ouderdom van twee en 13 jaar, wat sy vandat hulle gebore is al voer. Van dié katte begin bejaard raak en Melodie voel dat dit onmenslik sal wees om nou skielik alle kos van hulle af weg te hou. 


Fluff is ‘n reggemaakte kat wat deur Lemon Tree Restaurant in Oaklaan versorg word

Volgens Melodie is die gedeeltelike voer van sulke katte ‘n maklike manier om die katte te lok sodat hulle gevang kan word om reggemaak te word en dan weer vrygelaat te word om die kolonie te beheer.

Voer is ook ‘n manier om seker te maak die katte kry medikasie en ontwurmingsmiddels in.

Sy sê dat daar in sekere gebiede waar die katte beweeg geen muise, rotte of slange oor is nie en dat dié katte sal doodgaan van honger of net nader aan die gedeelte waar mynpersoneel eet, sal beweeg om oorskiet, in plaas van regte katkos, te kry.

 

© 2019 Die/The Bronberger