Leendert se Eureka Sigaretfabriek ná eeu nog in middestad PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 19 November 2019 14:47
Untitled Document

Angie Kleijn

Net noordoos van Kerkplein sit ‘n outydse geboutjie tussen moderne staal-en-betonreuse ingedruk. Hoe is dit dat dié geboutjie oorleef het en steeds pronk met die naam van ‘n fabriek wat nie meer bestaan nie?

Op dié reghoekige struktuur uit vergange dae staan die naam, ‘Eureka Sigaretfabriek’, en bo sy hout-en-glasdeure staan L Te Groen. Die geboutjie in Vermeulenstraat spog ook met ‘n woonstel bó die winkel; iets wat glo skaarser as hoendertande in die hedendaagse middestad is.


Die naam, ‘L Te Groen’, kan steeds in die gerestoureerde gebou bo die houtdeure gesien word
Foto: Artefacts

In ‘Pretoriana’ van Desember 1984, vertel mev A Horstmann, vakkundige beampte van die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, aan wie erf 231, Vermeulenstraat sedert Pretoria se bestaan behoort het.

Die eerste eienaar van die erf was die bekende Hollandse kaptein, Johan Marinus Struben. Sy seuns, Hendrik Wilhelm, bekend as Harry, en Frederick Pine Theophilus, bekend as Fred, het later beroemd geword toe hulle die eerste goud aan die Witwatersrand ontdek het. In ons kontrei is hulle name groot omdat Harry Struben in 1862 eienaar van die plaas, The Willows geword het.


Dié foto is op 16 Desember 1904 geneem. Algemene handelaar, Peter Edwin Grant, het die hout- en ysterwerkswinkel in 1903 gekoop en het waarskynlik die huidige gebou opgerig
Foto: Melvin Residence

Kaptein Struben het die erf op 14 Maart 1865 aan Pieter Waldeck verkoop. In 1883 is die erf in ’n oostelike en westelike gedeelte verdeel. Ons storie het met die westelike deel te doen. Dié deel is op 12 November 1888 deur die bekende nyweraar, Alois Hugo Nellmapius, vir £1 250 aangekoop.

Nellmapius, ‘n gebore Hongaar, het in 1873 in Suid-Afrika aangekom en het op vele nywerheidsterreine betrokke geraak. Hy is nie lank ná hy die erf aangekoop het nie, op 28 Augustus 1893 op sy plaas Irene dood. Dié plaas is na sy dogter vernoem en die voorstad in die suidelike dele van Pretoria dra vandag steeds dié naam.


Leendert te Groen
Foto: Melvin Residence

Sammy
Mede-nyweraar Sammy Marks, het die erf vir £1 175 uit Nellmapius se boedel gekoop. Sammy is in Litaue gebore en het in 1868 in Suid-Afrika aangekom. Hy was betrokke by baie nywerheids- en mynbou aktiwiteite en sy opstal, genaamd Swartkoppies Hall, staan vandag as die Sammy Marksmuseum op die Ou Bronkhorstspruitpad bekend.

In 1897 het Sammy die erf vir £3 000 aan die Suid-Afrikaanse Brouery Bpk (ook bekend as ‘Castle Breweries’) verkoop. Hulle het die perseel vanaf 1898 aan bouers en kabinetmakers, Day en Macdonald, verhuur.

Die Pretoriase Stadsraad-waardasielys van 1903 wys dat Day en Macdonald waarskynlik die eerste struktuur daar opgerig het. Dit lyk asof hulle in ’n hout- en ysterwerkswinkel gehuisves was.


In 1920 het die gebou as die L Te Groen-gebou, wat die Eureka Sigaretfabriek gehuisves het,
bekend gestaan
Foto: Melvin Residence

Daardie selfde jaar het algemene handelaar, Peter Edwin Grant, die gebou vir £4 500 gekoop. Ou foto’s toon die naam, ‘EP Grant & Co’ op ‘n gebou, wat waarskynlik deur Peter opgerig is, se dak. Dit is ‘n raaisel hoekom Peter Edwin Grant sy voorletters as EP geskryf het.

Peter het die eiendom vir £8 910 aan die boedel van SF Richards verkoop en hy het in 1904 saam met Pretoria Printing Works, die uitgewer van ‘Pretoria News’, ‘n huurder op die perseel geword.

‘Pretoria News’ se eerste uitgawe is op 13 Junie 1898 gedruk. Die koerant se eerste bestuurder, ‘n mnr Reno, het die ou Metodiste Kerk in Vermeulenstraat 216 gekoop en die ‘Pretoria Printing Works’ langs die EP Grant-gebou begin.


Vandag staan die Eureka-gebou tussen moderne glas-en-betongeboue
Foto: Artefacts

In 1905 het Arthur May en Kie ook in die gebou ingetrek. Peter Edwin Grant het in 1906 getrek en
F Mackintosh, ’n kommersiële makelaarsagent, het die nuwe hoofhuurder geword. Die jaar daarná het die Pretoriase Joodse klub die gebou begin huur. Dit lyk asof hulle ‘n bietjie langer as die res aangebly het: Van 1907 tot 1913.

In 1913 het die argitek, A Macgregor Ritchie, daar gewerk en in 1914 het hy die gebou met E Erskine en H Ainsworth en Kie, ’n betonkonstruksiemaatskappy, gedeel.


Die ‘Pretoria News’-gebou links van die Eureka Sigaretfabriek
Foto: Melvin Residence

Só het die kantoor binne die gebou gelyk
Foto: Melvin Residence
.

Leendert
Leendert Te Groen het die gebou in 1920 gekoop en het sy sigaretfabriek onder die naam ‘Eureka-sigarette’ begin. Die grondvloer het bestaan uit die voorste winkel met die agterste stoorruimte, waaruit ’n trap na nog ’n stoorruimte op die boonste vloer gelei het. Leendert het die voorste gedeelte van die boonste vloer as ’n woonstel ingerig. Die woonstel het sy eie trap na onder gehad, wat na ’n buitedeur in die fasade gelei het.

Die Nederlandse argiewe wys dat Leendert Te Groen op 23 Maart 1877 in Arnhem, distrik Gelderland, Nederland gebore is. Hy was die seun van die 41-jarige Derk Meindert Te Groen, ‘n timmerman, en Jannetjie Maria, ‘n nooi Duverni.


‘Pretoria News’ se eerste uitgawe is op 13 Junie 1898 gedruk. Die koerant se eerste bestuurder, ‘n mnr Reno, het die ou Metodiste Kerk in Vermeulenstraat 216 gekoop en die ‘Pretoria Printing Works’ langs die Eureka Sigaretfabriek begin

Leendert het 12 broers en susters gehad, waarvan twee Pieter Willem Te Groen geheet het. Die eerste een is waarskynlik jonk dood. Die tweede Pieter (1865-1942) het op 5 Maart 1890 in Arnhem met Johanna van Leeuwen (1867-1963) getrou.

Dié twee het na Pretoria getrek, maar dit is nie duidelik of Pieter se broer, Leendert, saam met hulle, voor of ná hulle getrek het nie. Leendert het in 1896 in Pretoria aangekom, waar hy in 1899 ‘n tabaksaak bedryf het. Sy sigarette moes van ’n hoë kwaliteit gewees het, want hy het eerste en tweede prys op 1910 se Pretoria Landbouskou verower.


Die winkel in die gebou
Foto: Melvin Residence

Die tabakfabriek
Foto: Melvin Residence

Verkoop
Leendert was maar 15 jaar, van 1920 tot sy dood in 1935, eienaar van die gebou, wat vandag nog sy naam dra. Die gebou is in 1935 vir £6 600 aan die boedel van Robert Hamilton verkoop. Dit is op dieselfde dag vir £8 500 aan die Unie van Suid-Afrika getransporteer, wat dit oor die jare onder meer as ‘n kleinhandelsaak en PWD stoor-depot gebruik het.

Die gebou is in 1982 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar en is daarná deeglik herstel en gerestoureer. Volgens opnames deur die firma Davies, Honnet en Kie en die fotograaf Dotman Pretorius, was die gebou in ’n gehawende toestand voor daar met restourasie begin is.

Oor die jare is daar baie wysigings aan die gebou aangebring. Voor Leendert se tyd was die baksteenwerk nie gepleister nie; die winkelvensters en -deur het nog bestaan; die vensters in die oostemuur het houtrame gehad; en daar was nog twee dakkapelle met houthortjies.


Sammy Marks het die erf in die 1890’s uit Nellmapius se boedel gekoop
Foto: dbs.bh.org.il

Ná 1920 is die rooi Kirkness-bakstene gepleister; die dakbedekking is vervang en die dakkapelle is verwyder. Die oostemuur se houtraamvensters is met staalrame vervang en die noordoostelike hoek se vensters is toegebou om plek te maak vir ’n hyser, wat later weer verwyder is. ‘n Rooi baksteen-kaggel met skoorsteen is in die stoorruimte op die grondvloer ingesit. Die noordelike muur het ’n agterdeur gekry en ‘n afskorting is tussen die grondvloer se winkel en stoorruimte ingesit.  

Leendert se weduwee is opgespoor, maar ongelukkig is haar voornaam nie aangeteken nie. Sy het foto’s en inligting oor die tyd toe haar gesin daar gewoon het, aan die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede en die argitekte, Stauch Vorster en Vennote, verskaf.


Leendert se broer, Pieter te Groen, en sy vrou Johanna, ‘n nooi van Leeuwen
Foto: Paul Ross

Pierneef
Die gebou is gerestoureer soos dit in die 1920’s was en daar is besluit om die fabriek- en winkelgedeelte as ‘n kunsmuseum in te rig met die woonarea ’n 1920-woonstel.

Die besluit is gemaak omdat die Departement van Nasionale Opvoeding in 1984, 347 skilderye van
JH Pierneef aan die Nasionale Kultuurhistoriese Museum geskenk het. Die Eureka-gebou is toe in ‘n Pierneef-museum omskep, wat skilderye en artefakte wat aan Pierneef behoort het, uitgestal het.

‘n Koffiedrinkplek is op die boonste vloer oopgemaak om meer voete na die museum te lok. Oor die jare het baie mense in die regsprofessie dié koffie-plek besoek.


Leo Weinthal was ‘Pretoria News’ se eerste redakteur
Foto: Melvin Residence

Kaptein JHM Struben was die eerste eienaar van die erf waarop die Eureka Sigaretfabriek gebou is
Foto: Emagameni

Veiligheid het egter ‘n probleem geword en die aantal besoekers aan die museum het afgeneem. In 1997 is die Pierneef-versameling na die nuwe hoofkwartier van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum geskuif – die nuut gerestoureerde Muntgebou in Visagiestraat.

Die Eureka-gebou is bloot gesluit en gelos om te verval. In 2002 het die Pretoriase Vereniging van Advokate in die aangrensende Mutual en Federal-gebou ingetrek.

Hulle het egter gou gevind dat dié nuwe gebou nie struktureel geskik was as ‘n biblioteek nie en het besluit om die ou Pierneefmuseum, soos die gebou toe genoem is, te huur. Sedertdien huisves die gebou dié vereniging se biblioteek en ou Romeins-Hollandse Reg-versamelstukke.


Die bekende nyweraar, Alois Hugo Nellmapius, het die erf op 12 November 1888 gekoop
Foto: The Tycoon & The President, Helga Kaye

 

© 2019 Die/The Bronberger