Gebied onder stofkombers ná drie miljoen ton se grondstorting PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 19 November 2019 14:51
Untitled Document

Drie miljoen ton grond het in die oopgroef van Petra Diamonds se Cullinan Diamantmyn ingestort en het op 28 Oktober ‘n stofstorm veroorsaak wat die dorpie in duisternis gehul het en ‘n verstikkende stoflaag oor die hele omgewing laat neersak het.

Die Londense Aandelebeurs, waar die mynmaatskappy genoteer is, se RNS-diens het op 30 Oktober aangekondig dat dié wegkalwing by die oopgroef gevolg het ná ‘n donderstorm op Saterdag
26 Oktober.

Die wegkalwing het deur die naweek aangehou met ‘n groot storting die Maandag laatmiddag, wat ‘n reuse stofwolk veroorsaak het wat die omliggende omgewing en die ondergrondse deel van die myn binnegedring het.

Niemand is in die voorval beseer nie, maar as voorsorgmaatreël is alle mynpersoneel ontruim terwyl ‘n ondergrondse span ventilasie-spesialiste en proto-spanlede ‘n ondergrondse inspeksie uitgevoer het en die myn as veilig verklaar het. Ondergrondse mynwerk is later die Maandagaand voortgesit.

Mynbou in die oop put op Cullinan is 50 jaar gelede reeds gestaak en alle mynboubedrywighede is deesdae ondergronds.


Die begin van die stofwolk in die oopgroef
Foto: Verskaf

Volgens die RNS-verslag is die naaste huise in Cullinan aan die suid-oostelike hoek van die oopgroef en monitering van die oopgroef se walle het aanvanklik geen ongewone beweging daar gewys nie. Die deurlopende skalering was einde Oktober duidelik in die suid-westelike hoek.

Die Maandagaand ná die verswelgende stofwolk het Cullinan Diamantmyn se algemene bestuurder, Jaison Rajan, ‘n verklaring aan die gemeenskap gestuur wat gelui het dat die wegkalwing weg van die dorp gebeur en dat daar geen bedreiging vir die gemeenskap en hulle eiendom is nie. Hy het ook gesê, “Ons vra om verskoning vir die ongerief en poog om enige verandering aan die gemeenskap oor te dra”.

Petra se uitvoerende hoof, Richard Duffy, en hoofbedryfsbeampte, Luctor Roode, was op 29 Oktober by die myn en het ‘n mynbestuursvergadering gehou met verteenwoordigers van die Departement van Minerale Bronne, ‘n werkersvakbond en die gemeenskap.

Richard Duffy het gesê dat hulle alle nodige stappe neem om dié voorval en die impak daarvan op toekomstige oopgroef stabiliteit, beter te verstaan. “Die veiligheid van ons werknemers en die omliggende gemeenskap bly ons sleutelfokus,” het hy gesê.


Die oopgroef van Cullinan Diamantmyn. Die blou gedeelte is die deel wat weggekalwe het
Foto: Petra Diamonds

Pad
In Mei 2015 het ons berig dat daar nog net 33 meter aarde tussen die myn se oopgroef en die toegangspad na die dorp oor is. Die aanbeveling is dat daar 100 meter tussen ‘n openbare pad en ‘n oopgroef moet wees. Die wand van die Cullinan-myn se reuse oopgroef het sedert November 2014, met ‘n aardbewing by Orkney wat 5,5 op die Richterskaal geregistreer het, 40 meter nader aan die pad beweeg. In dié tyd was daar twee grondstortings – een in November 2014 toe ‘n paar krake oopgemaak het en ‘n sywandbeweging in April 2015.

Die geteerde toegangspad, wat verby die myn se oopgroef geloop het, is in Augustus 2015 toegemaak. Die spoorlyn wat naby die groef loop word nie meer gebruik nie. Vanjaar het TransNet laat weet dat die stoomtreinritte wat vir jare na Cullinan onderneem is, se veiligheidspermitte nie hernu sal word nie.


Dié foto is 5.20 namiddag op 28 Oktober in die oopgroef se rigting geneem
Foto: Gerhard Petrus

Wegkalwing
Gert Klopper, woordvoerder vir Petra Diamonds, het ná 28 Oktober se instorting gesê: “Ons monitor beweging van die kante deurentyd, omdat ons prioriteit is om die veiligheid van ons werkers en die publiek te verseker wanneer dit sou gebeur. Dit is, ongelukkig, baie meer onvoorspelbaar as wat ons dit graag sou wou hê – waarvan die afgelope paar dae se gebeure ‘n baie goeie voorbeeld is.”

Gert het bevestig dat die myn se historiese nommer twee skag ook in die put af verdwyn het. Hy sê dat dié ‘Madala’ skag vir baie jare in onbruik was en glad nie die myn se produksie of mense se veiligheid beïnvloed nie.

“So jammer as wat dit mag wees om so ‘n stukkie geskiedenis te verloor, moet ’n mens besef dat die wegkalwing van enige oopgroef totdat die kante ‘n stabiele hoek bereik het, ‘n natuurlike en onafwendbare proses is,” sê hy.


Die moniteringstelsel aan die suid-westekant van die oopgroef ná die wegkalwing
Foto: Eus de Clerk

Voorlegging
Die voorlegging wat die myn op ‘n openbare vergadering op 31 Oktober gehou het, wys dat die Lidar moniteringstelsel nie die Saterdagaand 26 Oktober gewerk het nie omdat daar ‘n kragonderbreking was, wat kommunikasie onderbreek het en die stelsel uitgeslaan het toe die eerste grond (66 000 ton) begin val het.

Die myn se voorlegging wys dat ‘n geo-tegniese perseelondersoek die Sondag gedoen is en dat ‘n pad by die myn toegemaak is omdat hy begin kraak het. Die Lidar-stelsel was Maandagoggend
28 Oktober weer in werkende orde en het gewaarsku dat daar beweging aan die oopgroef se wand was.

Volgens die myn se voorlegging het grond vanaf 5 nm begin val en was die grootste instorting tussen 6 nm en 7.30 nm. Inwoners het egter vroegmiddag al op sosiale media oor die stofwolke begin kla en Dewaal Venter van Rayton/Cullinan Wildlife het ‘n noodroep uitgestuur om te sê dat die stof en vibrasie veroorsaak het dat klein soogdiere, reptiele en voëls uit die veld gevlug het en in residensiële gebiede skuiling probeer soek het.

Hy het gesê dat hulle verskeie oproepe om hulp ontvang het van mense by wie sulke diere aangekom het. Enige probleemdiere of beseerde diere kan direk by dié organisasie aangemeld word. Skakel
084-374-3140.


Dié foto is 5.30 nm op 28 Oktober in die rigting van die stasie geneem
Foto: Gerhard Petrus

Stof
Inwoners wat dekades reeds op Cullinan woon, sê dat hulle nog nooit so ‘n erge stofstorm beleef het nie. Daar was ‘n geweldige dreuning die Maandag toe die drie miljoen ton grond in die oopgroef afgestort het. Vensters het soos met ‘n aardbewing geskud en daar was vreeslike rukwinde, wat baie mense gesê het deur dié geweldige storting veroorsaak is.

Die dorp het skielik donker geword en ‘n hele paar videos is op Die Bronberger se Facebook-blad geplaas, wat wys hoe die dorpie deur stof verswelg word. Selfs op die buurdorp Rayton het die mense oor die stof gekla.


Die inkalwing voor die wind begin het
Foto: Marie Ziervogel

Die stof het huise deur toe deure en vensters binnegedring en die opruimwerk ná die stofstorm was vir elke huishouding ‘n nagmerrie. Die stof het plante bedek en inwoners het opgemerk dat die jakarandas in Oudorp oornag hulle blomme verloor het.

“Ons jakarandaboom begin voor al die ander blom en hou aan ná al die ander al ophou blom het,” sê Anton Oosthuizen. “Nou staan hy binne een dag kaal.”

Inwoner, Marja Brunniger, het op die openbare vergadering gevra of die myn vir haar ‘n ontleding van presies wat in dié stof is, sal kan stuur. Daar is onderneem om dit te doen. Marja sê dit pla haar dat die myn met die vraag-en-antwoord sessie ná die voorlegging gesê het dat hulle nie ‘n ontruimingsplan vir die dorp het sou só ‘n ineenstorting weer gebeur nie en dat hulle nie beplan om die oopgroef te rehabiliteer nie.


Die verswelgende stofwolk in Oudorp
.

Inwoners sê dat hulle nie meer hulle bure se huise in die stofwolk kon sien nie

Volgende
Op 2 November, ná ‘n reënbui, het die myn vroegoggend weer kennisgewings aan die gemeenskap uitgestuur. Hulle het gesê dat hulle die oopgroef deur die nag gemonitor het en beweging aan ‘n losstaande toppuntblok onder die R513 gesien het. Die mynbestuur het ‘n geotegniese span uitgestuur om ondersoek in te stel.

Hulle het laat weet dat die reën ‘ontrafeling’ aan die put se rand aan die suid-oostelike kant (die dorp se kant) veroorsaak het en dat dit nie ‘n ineenstorting van die wand is nie. Die span het gesê dat hulle nie enige verhoogde risiko vir die gemeenskap verwag nie. Hulle het egter gesê hulle verwag dat daar verdere beweging aan die suid-westelike kant van die oopgroef sal wees.


Die skoon kol wys dat dié trappies voor die stof eintlik rooi was

Voorheen
‘n Ou inwoner van die gebied, Danie Erasmus, vertel wat gebeur het met die eerste inploffing in 1964.

“Dit was ’n wonderwerk. Die landdroshof het vrygespring. Geparkeerde motors voor die hof en die visdam was weg. Die pad vanaf Venter Motors, wat na die destydse hof en die klipgeboude ‘Closed Compound’ gegaan het, was weg. As jy die hof se hoofdeur oopgemaak het, kyk jy in die gat af. Dieselfde met die mooi dubbeldeure van die kampong.”

Hy vertel dat die Indiërwinkel by KKraal ’n Chev bakkie gehad het met ’n bestuurder genaamd Koos, wat daagliks werkers van die kampong na die winkel geneem en teruggevat het. Op daardie dag het Koos pas met ‘n span vertrek toe hy sien dat die pad tussen die kampongdeur en Venter Motors begin kraak het. Koos het voet neergesit en toe hy in die truspieël kyk, was die pad weg. Dit was vir Koos so ’n skok dat hy sy werk bedank het.

“Gaan kyk gerus by die uitkykpunt na die ou skag en jy sal sien dat die klipmuur en dubbeldeur van die kampong nog te sien is. Volg die paadjie na die stasie en vat jou verkyker saam,” sê Danie.

Vir meer inligting oor die wegkalwing van die oopgroef, kan mense Petra Diamonds kontak deur ‘n e-pos te stuur na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; of hulle tolvrye lyn te skakel: 0800-000-956, of ‘n teksboodskap te stuur: 30921.

 

© 2019 Die/The Bronberger