PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 17 July 2009 23:22
Untitled Document

’n Groep mense wat hulself swart Afrikaners noem woon nou al vir langer as ’n honderd jaar op grond wat Paul Kruger aan hulle toegestaan het. Onverwacht is ’n nedersetting ongeveer tien kilometer noord-oos van Cullinan en hier word daar Afrikaans gepraat, Afrikaans ge-kerk en vetkoek, pannekoek, koesisters en kerriehoender geëet.

Die Onverwachters is afstammelinge van bevryde Maleise slawe wat saam met die Malan nátrek in 1857 hier aangekom het.

Verenigde Gereformeerde Kerk Onverwacht met sy ou kerkklok
Foto?s: Cullinan Meander

Hulle vertel ook verhale van ’n verwantskap aan Mzilikazi en hoewel hulle intussen ondertrou het met lede van die Pedi-stam, kan die oorgrote meerderheid geen ander taal as Afrikaans praat nie.

Met die eerste en tweede Vryheidsoorloë het die nátrekkers sy aan sy saam met die Boere geveg en Paul Kruger, president van die ou Zuid- Afrikaansche Republiek, het hulle belowe dat hy vir hulle grond sou gee as die Boere wen.

Die Boere het verloor, maar die nátrekkers het steeds hul grond gekry. Nie verniet nie, maar teen ’n weggee prys van iets soos 36 pond vir ’n smal strook grond van 36 morg wat aan ’n rivier grens. Dié geskenk was vir die nátrekkers ’n onverwagte verrassing. Hulle reaksie was, “Dit is onverwachts,” en so het die nedersetting sy naam gekry. Daar is oorspronklik 57 families op dié plaas gevestig en in die begraafplaas lê die Booysense langs die Standers en Dingaans begrawe. Die oudste mens wat hier begrawe is, het 124 jaar oud geword.

Onverwacht se eeu-oue opstalletjies

Bloed
Onverwacht-inwoner, Patricia Machobani, vertel dat haar voorouers voor 1900 nie vanne gehad het nie, maar dat haar voorvader homself Machobane genoem het. Dié naam beteken “ons huil bloed”. Blykbaar het hy die naam gekies oor al die bloed wat op die pad uit die Kaapse Kolonie agter die Voortrekkers aan gestort is.

Die Onverwacht voorvaders is in 1838 per voet agter die ossewaens aan. Ander afstammelinge van dié bloed-nátrekker is die Tlabati’s, Monares, Napaais, Hartmanns, Hartzenburgs, Nagels, Meletsi’s, Matles en Bothas.

Vandag se kinders is die sesde geslag Onverwachters en deur die afgelope eeu het ’n klomp dinge verander. Toe die Groepsgebiedewet ingestel is, het baie Onverwachters hulle huise verloor en sommige is na die tuislande gestuur. Hulle kon egter glad nie ’n swart taal praat nie en het nie daar ingepas nie. Dit is toe dat baie Onverwachters hulle vanne begin verander het. Patricia se ouma moes onder eed sweer dat sy geen ander taal as Afrikaans kon praat nie, voordat haar van na Botha verander is.

Die meeste afstammelinge woon steeds in die opstalle wat reeds ouer as ’n honderd jaar is. Daar is nou omtrent 100 families in Onverwacht, maar dit wat eens ’n vooruitstrewende boeregemeenskap was, sukkel vandag met plakkers wat hul intrek op die plaas se weivelde geneem het. Ou inwoners is ook nie gelukkig met die Hop-huise wat die regering vir dié plakkers op hul “bloedgrond” kom oprig het nie.

Onverwacht se begraafplaas

Roete
Onverwacht vorm deel van die Gautengse Grondhervorming Toeristeroete en word ontwikkel deur Khulile Africa met befondsing van die Gautengse Toerisme-owerheid. Kultuurhistoriese toere word deur dié nedersetting gereël waar ’n mens met donkiekarre kan rondry, die begraafplaas kan besoek of die Sondag met ’n kerkdiens by Onverwacht se Verenigde Gereformeerde Kerk kan begin. Daar word die gemeente nadergeroep met die oorspronklike ou kerkklok wat aan ’n stellasie van vier pale hang. Oor ’n naweek kan jy ook by die inwoners aan huis gaan teedrink of middagete eet. Die tee kom saam met Onverwacht se tradisionele volgraan koesisters wat in klapper gerol is, vetkoek en pannekoek. Middagete strek van kerriehoender tot skaapbredie met ster anys, koljander, rissies, knoffel en inkomazi melk.

Wees gereed vir die nuuskieriges wat sal naderstaan as jy aansit. Kanse is goed dat hulle agter hul hande sal fluister in ’n taal wat amper na Afrikaans klink. Dis hulle skindertaal en word ‘aalty’ genoem; ’n geheime taal wat die nátrekkers blykbaar ontwikkel het as hulle van die Voortrekkers wou skinder. Die eerste letter van ’n woord val weg en word aan die einde bygevoeg. So woord ‘taal’ dan ‘aalty’ en praat ‘aatpry’.

Om by Onverwacht te kom, draai ’n mens oos uit Cullinan op die R513 in die rigting van Bronkhorstspruit. Die roete is gemerk met ’n bruin teken: T5. Na 5 km draai jy links op die Brandbach grondpad. Na ongeveer 5 km op dié pad draai jy links en ry deur mielielande tot jy Onverwacht voor jou kry.

Om ’n toer te reël of ’n ete-afspraak te maak, bel Patricia by 076-756-9518 of toergids Thabo by 083-480-3365.


Vriendelike kinders van Onverwacht op pad huis toe met ?n vrag brandhout

 

© 2019 Die/The Bronberger