Ongeluk ry Rietvlei: Renosters doodgeskok Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 10 December 2019 07:53
Untitled Document

‘n Renosterkoei genaamd Foxtrot en haar baba, Little Willow, is die nag van 15 November saam met ‘n sebra by Rietvlei Natuurreservaat doodgeskok.

Natuurbewaringsbeamptes van Tshwane het die karkasse vroeg die volgende oggend met ‘n roetinepatrollie ontdek.

Raadslid Dana Wannenburg, burgemeesterskomiteelid vir die omgewing, het verduidelik dat een been van ‘n Eskom-spantoring van hout ongeveer 1,5 meter bo grondvlak ingestort het. Dit het veroorsaak dat die oorhoofse kabels in kontak met die diere gekom het. Groot dele van onder meer Tierpoort en Bashewa was weens die voorval lank sonder krag.


Foxtrot en Little Willow
Foto: Verskaf

Verlede maand het die Bronnie berig oor vier leeus wat by die reservaat vir ‘muti’ doodgemaak is.

Eskom-tegnici het die spantoring en oorhoofse kabels herstel en werk saam met die metro se natuurbewaringsbeamptes om te probeer uitvind wat die ineenstorting veroorsaak het en om ander strukture van dié oorhoofse lyn te ondersoek. Hulle sal bepaal watter maatreëls getref kan word om die reservaat se diere teen verdere skade te beskerm.

 

© 2020 Die/The Bronberger