Bronnie se lesers nostalgies oor Kersfees, geskenke en kos Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 10 December 2019 07:55
Untitled Document

Kerstyd is tradisioneel ‘n tyd vir die gee en ontvang van geskenke. Dit is ook, veral op Kersdag, die aansit en deel aan ‘n spesiale feesmaal. Ons het by ‘n aantal Bronnie-lesers aangeklop om te hoor wat hulle as die ideale Kersete beskou en of daar een of meer geregte is wat vir hulle eie is aan dié ete. Ons wou ook weet of daar Kersgeskenke is wat uitstaan in die geheue en wat hulle na aan die hart lê. Laastens wou ons hoor wat hulle vir Kersdag 2019 beplan.


Christa Wasserman
van Montana meen, gegewe ons somerklimaat, is ‘n lekker koue ete ideaal vir Kersdag. Lekker vleisgeregte met slaai en vrugteslaai en roomys agterna, is seker nie heeltemal tradisioneel nie, maar volgens Christa heel gepas in ons hitte.

Kersgeskenke wat haar na aan die hart lê is ‘iets net vir myself’ en nie vir die huis nie. Bederfgoedjies soos room, badsout of ietsie vir ‘n skuimbad is iets wat sy altyd baie waardeer.

Vanjaar gaan hulle op Kersdag tyd saam met die kinders, familie en haar ouers by die huis deurbring, sê Christa.


Thinus de Wet sê hulle ‘doen’ op Kersdag gewoonlik kouevleis met slaai en Pavlova vir nagereg. Daar is altyd mosterd wat gemaak word volgens sy ouma Heilie se spesiale resep en dit is telkens die volgende dag nog lekkerder.

Thinus sê sy familie was nooit ‘groot op’ geskenke nie. Vir hom gaan dit meer oor tyd saam met die mense van sy hart.

Baie goed het die afgelope paar jaar in sy lewe gebeur en onlangs het hy Cullinan toe getrek. “Ek het besluit hierdie jaar wil ek alleen wees saam met my dierekinders by my kaia van vrede,” sê Thinus.


Thea Nigrini van Faerie Glen sê: “Dit is weer Kersfees met sy gepaardgaande nostalgie, want Kersfeesherinneringe en -gebruike spruit mos altyd vanuit die kinderjare – in my geval Europese kinderjare.

“Steeds word by ons net die huisgesin betrek vir Oukersaand en Kersdag. Feesvieringe met familie en vriende staan oor vir Nuwejaarsdag.”

“Oukersaand is dit presente-aand rondom die mooi versierde Kersboom, dan moet daar nie te lank om die etenstafel getalm word nie,” sê Thea.

Gewoonlik eet hulle dan by kerslig. Geregte soos weiswurst en aartappelslaai met ‘n vooraf gestolde slaai gevolg deur ‘n spesiale nagereg, wat jy volgens Thea “gewoonlik nie sommerso sal bedien nie”.

Dan word die hele aand die mooiste klassieke Kersmusiek gespeel.

Die beste Kersgeskenk wat sy nog ooit ontvang het was van haar dogter, Michele, van die Oos-Vrystaat. Dit was ‘n twee maande oue ‘rescue’ hondjie uit die lokasie Mautse net buitekant Rosendal.

Soveel liefde soos die hondjie haar gegee het, kan ‘n mens kwalik beskryf, sê Thea.
Indien aan mans in die gesin vir Kersfees klere geskenk word, moet dié onverwyld ná Kersfees, omgeruil word.

Hulle het in die verlede ‘n middernagdiens bygewoon, maar dié het nou na Kersoggend verskuif. Die Kers-ete word altyd formeel rondom ‘n keurig gedekte tafel geniet, met die beste eetgerei, spesiale tafeldoek en servette.

Gevulde gebraaide eend bly maar die gunsteling vleisgereg vir Kersfees, met ‘n seekos-voorgereg en ‘n lekker dekadente nagereg.

Samesyn met die gesin, lekker eet en die mooi RSG programme kenmerk volgens Thea die dag.


Lucia Greyling van Rayton sê Desember is dit Kerstyd, familietyd en kuiertyd. Dit is veral ook koestertyd saam met jou dierbares.

Die Kersgeskenk wat haar die naaste aan die hart lê, is om elke jaar nog al my gesinslede en my ma by ons te hê om Kersfees saam te vier.

Kersdag begin letterlik dou voor dag vir Lucia en haar mense, want die Kersdiens is 7 vm en hulle gaan eers voor kerk begraafplaas toe om blomme op haar skoonouers se graf te sit. As hulle dan by die huis kom, is almal ‘vaal van die hongerte’ en lê hulle weg aan die spinasie-en-kaas-vlegsel wat Lucia voordag reeds gebak het, saam met hoenderlewerpatee en vars plaasbotter en tuisgekookte appelkooskonfyt.

Teen middag breek die tyd vir die groot-eet aan. ‘n Mooi gedekte tafel met gestopte skaapboud in die Weber gaargemaak en saam met kruisementjellie opgedis, ‘gammon’ en tuisgemaakte mosterd, broodslaai en waatlemoen- en feta-slaai, en as daar meer gaste is ‘n gestolde komkommerslaai en hoenderpastei. Nagereg is regte egte trifle (koekstruif).

Haar wens vir die feestyd is dat elkeen sy/haar selfwaarde sal besef en koester, sê Lucia.


Johann Broodryk sê hy loop al 44 jaar saam met die gemeenskap van Bashewa.

Johann se ideale ete op Kersdag is sy vrou se bobotie en waterblommetjies. Een geskenk wat vir hom baie beteken is windklokkies ‘wat klingel’ as die wind waai.

Vir vanjaar sien Johann uit na ‘n rustige Kersete saam met sy eggenote, kinders, kleinkinders en Fifi, sy hondjie.


Martie Volschenk meen koue geregte soos skaapboud, kalkoen, beestong en slaaie is eie aan ‘n ete op Kersdag. Die gereg wat egter vir haar uitstaan is hulle outydse hoenderpastei.

Kersgeskenke wat vir haar baie kosbaar was, is toe sy op laerskool was. Sy het ‘n wonderlike ‘looppop’ en ‘n dokter-stelletjie gekry.

Soos reeds tradisie by hulle geword het, beplan hulle ‘n rustige Kersdag saam met familie op Krugersdorp.


Eus de Clerk se ideale Kersete is saam met geliefdes en familie. Vir ete is dit koue vleis met baie beestong en mosterdsous, lamsboud met kruisement-jellie, opgestopte hoender, gerookte ham, Griekse slaai en aartappel-slaai soos net Vroulief dit kan maak. En ja, vars aarbeie met baie roomys.

‘n Kersgeskenk wat vir hom uitstaan was toe Eus so vier of vyf jaar oud was, op sy pa se plaas, toe ‘Vader Krismis’ (in dáárdie jare was hy nog nie as ‘Kersvader’ bekend nie), vir hom ’n Cisco Kid ‘cap gun’ – so ’n silwer rewolwer met ’n wit kolf – met dosyne rolletjies ‘caps’ gebring het.

“Dit was die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het! Die hoenders en kalkoene op die werf het my gevrees . . . en my ma wou die stuipe kry elke keer as ek ’n skoot aftrek.”

Eus sê hulle het in Februarie vanjaar na Cullinan verhuis. Pragtige plekkie met vriendelike mense en baie ‘mouterbaaiks’ oor naweke. Hier gebeur elke uur niks, en dan hou dit vir ’n week aan. Een keer ’n maand ry hulle vir opwinding Pretoria-toe en gaan kyk na die verkeersligte . . .

Vir Kersdag 2019 hoop hulle om as gesin saam te wees, maar op sy ouderdom doen hy nie meer langtermyn-beplanning nie. Sy verste toekomsbeplanning is brêkvis more-oggend en hy koop ook nie sommer meer groen piesangs nie, sê Eus.


Buks Barnard van Elandshoek sê: “Kersfeestyd! Ewe skielik is alles anders. Almal is vriendelik. Selfs die werkers wat regdeur die jaar dikbek, traag en sleepvoet hulle plig gedoen het, wil skielik bars van vriendelikheid terwyl hulle aanspraak maak op ‘n ‘krismisboks’.

“Hoekom kan ons nie regdeur die jaar so wees nie? Hoekom moet welwillendheid en wellewendheid beperk word tot net een seisoen en een dag per jaar?”

Oor Kersete sê Buks: “My liewe oorlede ma het meer van kleremaak en huiswerk gehou as van kosmaak, maar tog het sy vir ons elke dag met ‘n blye gemoed ‘n ordentlike, voedsame, smaaklike ete voorgesit; nie net Kersfees nie. Nou eet ek elke dag net waarvoor ek lus is en pap en braaivleis is in elk geval vir my die lekkerste kos, so oor ‘n oordadige Kersmaal kan ek nie opgewonde raak nie.”

“Boonop glo ek Kersdag moet soos ‘n soort Sondag deurgebring word en vir die arme vroumense om hulle op ‘n Sondag eers dood te werk voor die stoof en daarna met ‘n vrag skottelgoed, klink net nie reg nie. Toemaar, ek weet hulle doen dit met liefde en in ruil vir pluimpies.”

Geskenke, glo Buks, pas net op twee plekke: Eerstens by kinders of oumense wat nie die geld het om vir hulleself iets te koop nie en tweedens by eensame mense vir wie die geskenkie beteken iemand dink aan hom of haar.

Sy kinders, kleinkinders, familie, bure, vriende en kollegas doen en gee regdeur die jaar genoeg vir hom sodat hy nie nog Kers- of verjaardaggeskenke van hulle nodig het (of verdien) nie. Hulle maak vir hom die hele jaar soos Kersfees, sê Buks.

Die Kersgeskenk wat hy die beste onthou, is die visstok wat hy gekry het net voordat hy ses geword het. “Natuurlik moet ek die visstok onthou, want ek besit hom vandag nog.”

“Hoe gaan ek Kersdag deurbring? Rustig, kalm, gesellig, stil en fatsoenlik, sonder ‘Jingle Bells’, krismisbome of ‘n krismisvader.”

“Gevolgtrekking: Nou kan ek nie so vinnig besluit nie – is Kersfees vir my maar net soos die res van die jaar of is die res van die jaar vir my soos Kersfees? Hoe ook al, ek is tevrede en dankbaar.”


Ronell van der Merwe van Onbekend (Welbekend) se ideale Kersete is beestong, ‘gammon’ en kalkoen met koue slaaie, soos wat sy, haar suster en haar oorlede ma altyd saam gemaak het.

Dan het almal saam om ‘n mooi gedekte tafel (waarmee haar suster Benita baie moeite gedoen het) die feesmaal geniet. Ronell sê haar ma het altyd ‘rum truffles’ gemaak wat hulle ná ete saam met koffie verslind het.

Kersgeskenke was vir hulle nog altyd net ‘n ‘klein ietsie’, of dit nou self gemaak is of gekoop is. Vir hulle het dit “gegaan oor Christus se geboorte en die viering daarvan”. Net die saam kuier as familie en haar oorlede pa wat geskenkies uitdeel was vir haar die grootste of beste Kersgeskenk ooit, sê Ronell.

Nou, met hulle ouers nie meer saam met hulle nie, maar wel met hulle kinders en dié se gades wil hulle voortbou om familiesamesyn en steeds Sy geboorte te vier. Kersdag 2019 sal hulle weer rustig saam vier en hulle wil voortbou op hulle liefste ouers se nagedagtenis en tradisie, sê Ronell.


Willie Strauss van Cullinan het op ‘n skaapplaas grootgeword en vir hom moet ‘n Kersete ‘n skaapboud op die tafel hê. Hy bak die skaapboud stadig in die oond en dan braai hy die boud bruin. Hy het verskeie resepte maar die een met droë vrugte, wat in Willie se eie kookboek te kry is, bly vir hom ‘n wenner.

Sy ma se mosterdslaai moet ook op die tafel wees. Willie kook ook steeds kwepers met suiker en ‘n bietjie vla, sê hy. Omdat dit so warm op die plaas in die Boesmanland was, het hulle gewoonlik ‘n koue Kersmaal gehad. Sy ma het alles vooraf gekook en die tafels het gekreun onder die lekkerste kos.

“Ons ontwikkel mos ons eie styl en ‘n mens maak Kersfees jou eie, maar ek maak nog elke jaar my ma se kos vir die Kersete. Só onthou ek haar in die bekende geure en smake,” sê hy.

‘n Kersnag wat hy goed onthou is toe sy ma sy geskenke in ‘n materiaal-sak gesit het en dit stilletjies in die nag langs sy bed gelos het. Toe Willie wakker word sien hy Kersvader het in die nag kom kuier en daardie opwinding was groot. Hy kan nie eers onthou wat hy gekry het nie, maar hy onthou dat hy sy oë oopgemaak het en daar was ‘n hele sak vol geskenke.

Willie sê hy weier om die kind in hom te laat groot word. Hy is steeds mal oor ‘n geskenk. Enigiets wat toegedraai is, maak hom baie opgewonde.

Op Oukersaand het hulle almal in die sitkamer rondom die Kersboom gesit en dan het sy pa geskenke uitgedeel. Dit was spesiale tye en vandag dink hy met ‘n warm hart terug daaraan. Só word herinneringe gemaak, sê Willie.


Francois Breytenbach van Bashewa onthou dat dit vir hulle as kinders altyd spesiaal was as “Pa ‘n groot stuk ham en ‘n kalkoen net voor Kersfees huis toe gebring het.”

Dié is dan gestowe of gekook en in die yskas gebêre. Jy kon agterna vir jou net soveel jy voor lus het, daarvan afsny.

‘n Spesiale Kersgeskenk vir hom was die langspeelplaat, ‘Freewheelin’, van Bob Dylan wat sy vrou, Anette, vir hom gegee het.

Francois sê vanjaar sal hulle met Jannie Tuisbly se karretjie ry en nie soos oudergewoonte die vakansietyd in die Kaaplandse Sederberge deurbring nie.


Colleen Markgraaff van Bronkhorstspruit se ideale Kersete sluit beslis skaapboud, slaphakskeentjies, ‘n aartappelgereg, skoonma se pampoenkoekies met ‘n karamelsous en koekstruif, ‘plum-poeding’ of Kerspoeding in. Dit neem haar terug na haar kinderdae en koester ‘n baie spesiale plek in haar hart. Sy het altyd ywerig gesoek na die geldstukkie in die poeding.

Toe sy drie jaar oud was en nog in sprokies geglo het, het sy ‘n ‘Teddy Beer’ gekry vir Kersfees.

Colleen sê sy was kinderlik opgewonde oor die ‘Beer’ wat Kersvader vir haar gebring het. Sy besit nog steeds vir Beer. Dit was van die laaste Kersgeskenke wat sy van haar pa gekry het. Hy is ongelukkig ‘n paar jaar daarna oorlede.

Hulle beplan ‘n groot familiefees vir vanjaar, hoe meer familie hoe beter, want dit is tog volgens Colleen waaroor Kersfees gaan.


Riena Willemse van Erasmuskloof  se ideale Kersete moet ‘n bruingebraaide, murgsag knoffel-lamsboud met brosgebakte aartappels en die nodige groente in seisoen insluit. Soetpatats sal ‘natuurlik’ ‘n ereplek beklee. 

Daarmee saam ook ‘n verskeidenheid van slaaie soos aarbei roketslaai met ’n balsamiese slaaisous, koeskoes met lemoen, neute, feta, tamatie en komkommer en beetslaai.

’n Wonderlike nuwe toevoeging die afgelope paar jare wat baie gewild geword het op hulle Kerstafel, is ‘Turducken’ wat kalkoen, eend en hoender in een is, met ’n lekker lemoenlikeursousie.

Vir nagereg is Riena se gunsteling koekstruif (trifle) en haar ma se bruinpoeding met roomys en/of vla, haar dogter se sjokolade mousse en haar peetkind se sagopoeding saam met koffie of tee, pynappelkersietert en sponskoek met room, soos haar ma dit gebak het.

‘n Kersgeskenk wat uitstaan in haar geheue van kleintyd af is die rottang-gevlegte popwiegie van die blindeskool af, kompleet met babamatrassie en beddegoed. Bo-op het die mooiste slaappop gelê met ogies wat oop en toe kon gaan en ’n sak met die fraaiste popklere wat Riena se ma gemaak het. 
Vandat sy onthou was 25 Desember die gemoedelike en gelukkige samekoms van hulle familie.

Hierdie jaar is baie spesiaal en uitsonderlik, want familie van Amerika en ook haar susters met hulle kinders en kleinkinders en haar dogters, skoonseuns en kleinkinders gaan saam Kersdag hou.


Anneline Grobler se ideale Kersete is as hulle almal bymekaarkom in haar ouers se huis en die dag saam vier. Haar moeder maak elke jaar die lekkerste kos vir Kersdag, sê Anneline.

Die skaapboud, frikkadelle, hoenderboudjies en nog saam met koue slaaie, laat haar mond al water net om daaraan te dink.

Anneline sê sy gee eerder geskenke as om dit te ontvang, maar iets wat haar na aan die hart lê, is die geskenke wat sy as jong meisie by haar grootouers gekry het. Al die goedjies was met die hand gemaak en met soveel liefde aanmekaar gesit.

Hierdie jaar wil Anneline se gesin aan hulle ‘eie tradisie’ werk en as gesin saam tyd spandeer en die dag geniet. Sy wil graag Kersverhale aan haar twee kinders vertel en saam met hulle Kersliedjies sing.

 

© 2020 Die/The Bronberger