Egpaar oorleef plaasaanval op Onbekend Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 10 December 2019 08:11
Untitled Document

Ben en Ansie Dreyer van Onbekend is op 11 November deur sewe gewapende rowers, wat voorgegee het dat hulle klante is wat melk wil koop, aangeval.

Die egpaar se kleindogter, Annalize Dreyer, het laat weet dat die voorval 9.30 vm begin het toe haar oupa Ben kleingeld in die huis moes gaan haal vir twee klante. Toe hy sien hulle loop, het Ben omgedraai om trekker toe te gaan, maar ander aanvallers het agter hom gestaan en ‘n vuurwapen teen sy kop gedruk.

“Hulle is toe met my oupa en sy betroubare werker huis toe. By die huis het een saam met die werker buite gestaan en die ander het saam met my oupa in die huis in gegaan en my ouma in die huis gekry. My oupa het vir haar gesê sy moet net doen wat hulle sê,” het Annalize vertel.

Ben (73 jaar) en Ansie (70 jaar) is na hulle slaapkamer geneem en Ben se hande en voete is vasgemaak. Hy is gedwing om op die vloer te lê terwyl drie aanvallers hulle wapens op hom gerig het. Ansie is gedwing om die kluise oop te sluit.


Annalize Dreyer
Foto: Verskaf

Annalize sê dat die aanvallers reeds die kluis se sleutels by haar oupa gevat het en toegang tot sy kluis gekry het waar sy haelgeweer en jaggeweer was. Hulle wou egter net handwapens hê en Ben het die handwapen langs sy bedkassie vir hulle gegee.

Annalize sê dat hulle haar ouma se juwele gevat het en haar beveel het om haar kluis ook oop te sluit. Ná sy dit gedoen het, het sy die buurtwag-radio se paniekknoppie gedruk. Een van die aanvallers het Ansie toe met sy vuurwapen oor die kop geslaan.

Annalize sê haar ouma het gemaak of sy bewusteloos is en die aanvallers het die vertrek verlaat. Hulle het die werker in die kamer ingedruk en Ansie het vir hom gesê om die deur te sluit.

Annalize sê die aanval is onderbreek omdat mense haar oupa aanhou bel het ná haar ouma die paniekknoppie gedruk het.

Twee vuurwapens en Ansie se handsak en beursie is terug gevind. Die aanvallers het weggekom met R6 000 kontant, juwele ter waarde van ongeveer R5 000, wapens, Ben se foon en sy hele bos sleutels van die plaas.

Annalize sê dat die familie baie dankbaar is dat Ben en Ansie se lewens gespaar is. “My ouma is erg getraumatiseer en met die hou oor die kop het haar nek in ‘n spasma ingegaan. Dinge kon soveel erger gewees het, maar God het hulle beskerm en die optrede van die gemeenskap het baie gehelp.”

 

© 2020 Die/The Bronberger