Stink bruin water is veilig om te drink, hoor inwoners PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 10 December 2019 08:17
Untitled Document

Inwoners van Cullinan en omliggende gebied is woedend oor die ondrinkbare bruin water wat ten hemele stink, maar as ‘veilig’ verklaar is deur Magalies Waterwerke. Tog wys videos wat deur ‘n inwoner geneem is baie duidelik dat dié pypwater uit rioolbesmette spruite en riviere kom.

Magalies Waterwerke het vroeg in November ‘n dringende kennisgewing oor die swak waterkwaliteit uitgereik. Daarin sê hulle dat die water se bruin kleur deur hoë mangaanvlakke in die rou waterbron veroorsaak is en dat die mangaanvlakke tot ses keer so hoog as die algemene gemiddeld was wat by die waterwerke ontvang word.

Die verklaring maak dit duidelik dat dié hoë mangaanvlakke nié ‘n gesondheidsrisiko is nie. Die toelaatbare SANS 241:2015 vlak vir mangaan is 400μg/l. Die verklaring lui ook dat verskeie veranderings aan die waterbehandelingsproses gemaak is om die impak van die hoë mangaanvlakke in die rou water te verminder.


Vuil badwater op 13 November
Foto: Anneline Grobler

’n Bottel ‘drinkwater’
Foto: Carol Wilkinson

Volgens Tshwane burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste, Abel Tau, is die metroraad bewus van inwoners se klagtes oor die water. Hy het gesê dat monsters geneem is om te bepaal wat fout is met die water en het gesê dat dit die myn in die gebied is wat meer mangaan (in die water) vrygelaat het as wat dit veronderstel was om te doen.

Gert Klopper, woordvoerder vir Petra Diamonds, sê dat Cullinan Diamantmyn die eiendom besit waarop die Wilgedam is, wat Magalies Water met die rou water voorsien wat dan deur die waterwerke gesuiwer en verder versprei moet word.

“Die Wilgedam het stroomop baie insette, insluitende die Bronkhorstspruitse rioolwerke, verskeie steenkoolmyne en kragstasies. Cullinan Diamantmyn laat geen afvalwater in die Wilgedam invloei nie en werk saam met Magalies Water,” het Gert gesê.


Riool langs die waterpyplyn
Foto: Skermgreep van video

Magalies Water se wetenskaplike dienste het onderneem om die opvangsgebied te ondersoek om die bron van die besoedeling te vind. ‘n Nuuskierige inwoner het egter self agter die kap van die byl probeer kom. Hy het bloot die pyplyn wat die dorp se drinkwater voorsien, per voet gevolg en ‘n grusame ontdekking gemaak.

Op die video’s wat die inwoner geneem het, is dit duidelik dat die pyplyn op ‘n hele paar plekke lek.

Daar is veronderstel om rivierwater in die pype te wees, maar die water ruik soos riool en tekens van rou riool is baie duidelik rondom die pyplyn se roete. Dit lyk asof riool iewers in die water gestort word en die riviere en spruite besoedel.

Die dorp se munisipale kletsgroep is vol van klagtes oor dié water. Niemand kan dié bruin water drink nie; selfs ná dit gekook is, is die reuk genoeg om mense naar te maak. Bruin badwater stink, al probeer mense dit met borrelbad-produkte verdoesel.


Die inwoner wys na rioolopdammings in die spruit
Foto: Skermgreep van video

“Na ’n harde dag wil ’n mens in die bad lê en ontspan, maar nee – nou is dit in en uit want die water maak ’n mens naar,” sê ‘n inwoner op die kletsgroep.

Inwoners vertel dat die bruin water so lank reeds ‘n probleem is dat selfs toilette gevlek is. Wasgoed wat in dié water gewas word ruik onaangenaam en inwoners kla dat wit klere ligbruin begin raak ten spyte van bleikmiddels wat gebruik word. Baie mense gebruik selfs aangekoopte drinkwater om hulle skottelgoed te was. “Jou asem slaan weg wanneer ’n kraan oopgemaak word,” sê ‘n inwoner.

Magalies Water se algemene bestuurder het in ‘n stadium laat weet dat die Cullinan Waterwerke se behandelingsproses “geoptimaliseer” word en dat die reservoirs geskuur word om die water met hoë mangaanvlakke uit die stelsel te kry.

Inwoners is gewaarsku dat die dorp vir ‘n rukkie sonder water sou wees om dié skoonmaakproses te doen. Die dorp was egter so gereeld sonder water dat inwoners dit ‘beurtwater’ begin noem het.


‘n Mangat omring deur rioolwater op die waterpyplyn
Foto: Skermgreep van video

Wanneer die water terugkom was dit telkens presies dieselfde reuk en kleur as voorheen.

‘n Watertenk-vragmotor het deur die dorp gery vir inwoners wat daar water wou tap, maar die vragmotor-bestuurder kon nie vir inwoners sê waar die water in die tenk vandaan kom nie. Baie inwoners het gekla dat die water in die tenkwa ook verdag geruik het.

Inwoners berig dat November juis die maand was wat mense se munisipale waterrekenings baie hoër as ooit tevore was. Op die dorp se munisipale kletsgroep het ‘n inwoner gesê ‘n verklaring mag dalk wees dat lug in die waterpype ingesuig word elke keer as die watertoevoer gestaak is. Wanneer die waterdruk herstel, lees die watermeter die windslukke glo as waterverbruik.

 

© 2019 Die/The Bronberger