Man in aanval op hoewe vermoor Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 10 December 2019 07:51
Untitled Document

Gerhard Kritzinger is die aand van 19 November in ‘n aanval op Donkerhoek doodgeskiet.

Hy en sy vrou, Rina, altwee 64 jaar oud, het ‘n paar maande gelede by sy niggie, die 74-jarige Ansu de Villiers, op plot 160 op die grens van Barendshoek en Donkerhoek ingetrek. Ansu se man, Toffie, is in Junie aan kanker oorlede.

Anne-re Vreken, Ansu se dogter, sê dat vier mans met klapmusse aan die aand omtrent 8 uur  die huis binnegekom het. Hulle het glo die sleutel van die buitedeur met ‘n draad deur een van die kamervensters in die hande gekry. Hulle het op die erf gekom deur ‘n gat onderdeur die elektriese heining te grawe.


Gerhard Kritzinger
Foto’s: Verskaf

Ansu was in haar kamer toe sy Rina gehoor gil het. Rina en Gerhard het in die leefvertrek televisie gekyk en toe Ansu uit haar kamer kom, het sy nie eers geweet dat Gerhard al doodgeskiet is nie. Hy is glo in die regterarm geskiet en die koeël is deur sy long.

Een van die aanvallers het sy pistool teen Ansu se voorkop gedruk, maar het dit in sy sak terug gesit toe sy na die Here roep. Die aanvallers het koorde van lampe oopgesny en het die drade gebruik om Ansu en Rina vas te bind. Ansu is met ‘n geweer teen die slaap geslaan en die aanvallers het begin plunder.


Ansu de Villiers

Ansu het geweier om te sê waar die sleutel vir die kluis was. Een van die aanvallers het die ketel gaan aansit en kookwater oor haar bene gegooi, maar sy het steeds nie verklap waar die sleutels was nie.

Die aanvallers is te voet met ‘n paar stukkies juweliersware, skootrekenaar en ‘n televisiestel daar weg.

Hulle het die selfone in ‘n tassie vergeet. Voor hulle vertrek het hulle ‘n burgerbandradio en oorblywende selfone in ‘n toilet gegooi. Ansu het die radio, wat steeds gewerk het, uitgehaal en hulp ontbied.


Anne-re Vreken, Ansu de Villiers se dogter

Ansu is met ‘n ambulans na die Wilgers-hospitaal geneem waar sy vir brandwonde behandel is en steke vir die wond aan haar slaap gekry het.

Woordvoerder vir die Boschkop-polisiestasie, konstabel Yeroboam Mbatsane, het bevestig dat ‘n saak van moord en roof geopen is. Hy het gesê hulle ondersoek ‘n moontlikheid dat die rowers deel van ‘n sindikaat is.

 

© 2020 Die/The Bronberger