“So mal soos ‘n haas” en algehele oorlas vir sy vrou en almal PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

In Ou Pretoria was daar ‘n Duitse fotograaf doenig wat glo “so mal soos ‘n haas” was. Hy het in 1898 sy eerste ateljee in Pretoria oopgemaak en is in 1899 slagvelde toe as deel van die Rooikruis. Later het hy opruiende toesprake, waarvoor hy in ‘n visdam op Kerkplein gegooi is, begin maak en het ‘n bekende in die Pretoria Sielsieke Hospitaal geword. Hy het op 40 jaar vir die eerste keer getrou . . . net om sy arme vrou se lewe hel te maak.

Rudolf Gottfried Steger is getroud met Wanda Wilhelmina Schubardt, ‘n klavieronderwyseres en die aangenome dogter van Paul Maré en Clara Elizabet Johanna van Hoogenhouck-Tulleken. Paul was in die regsberoep; hy was in 1898/99 vrederegter van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) en het in 1899 op die tydelike stadsbestuur van Pretoria gedien.  


Rudolf Gottfried Steger
Foto: The Heritage Portal, Carol Hardijzer

Voor 1929 was Jacob Maréstraat se naam Paul Maréstraat en Clarastraat in sentraal-Pretoria is na sy vrou vernoem. Dit is nie net die feit dat die mal Duitser in ‘n familie ingetrou het waarna strate vernoem is nie . . . sy huwelik het hom ook direk verbind met die Engelse Oorlog se ma-en-dogter spioenspan, die enigste wat nooit uitgevang is nie.

Sy skoonpa, Paul, se suster was Maria Magdalena Elizabeth van Warmeloo, ‘n nooi Maré, en haar dogter was die bekende spioen, siener, sieketrooster en skrywer, Johanna Brandt.

Of Rudolf Steger van dié spioenasiewerk geweet het, is nie duidelik nie, hoewel hy tog later jare, met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, die heel eerste Duitser in Pretoria was wat in ‘n interneringskamp gegooi is. Mense sê egter dat dit glad nie iets met politiek te doen gehad het nie, maar dat dit ‘n slim plan was om vir ‘n ruk van die ontstigtende ou ontslae te raak.


Rudolf se skoonpa, Paul Maré, se suster was die spioen, Maria Magdalena Elizabeth van Warmelo
Foto: The Project Gutenberg eBook

Opleiding
Maar, ons loop die storie vooruit. Rudolf is op 11 Maart 1871 in Duitsland gebore. Op die ouderdom van tien jaar is hy skool toe in Switserland, waar hy opleiding as ‘n mediese assistent by die Genève Rooikruis gekry het. Daarna het hy vir vier jaar godsdienstige studies in Rome gedoen.

Carol Hardijzer, wat navorsing oor Suid-Afrikaanse fotografiegeskiedenis doen, skryf dat Rudolf in 1894 in Suid-Afrika aangekom het en in 1896 ‘n genaturaliseerde landsburger in die Paarl geword het. Van daar is hy Pretoria toe, waar hy op die ouderdom van 27 sy eerste ateljee oopgemaak het. Hy was altesaam vir 21 jaar as fotograaf in Pretoria werksaam en het vyf verskillende ateljees gehad: In Schoemanstraat langs die waterwerke kantoor; in Kockstraat; Pretoriusstraat; Kerkstraat 201; en Markstraat 333.

Rudolf was een van vele fotograwe wat gewedywer het om president Paul Kruger af te neem. Hy het ook 22 foto’s van generaal Louis Botha geneem. In sy tyd by die Rooikruis was hy glo by die veldslae op Elandslaagte, Ladysmith, Colenso en Spioenkop. Hy het later vertel dat hy vyf keer in die Engelse Oorlog gewond is en dat hy toe ook ‘n joernalis vir Engelse, Duitse en Italiaanse publikasies was.


Die Rooikruis-trein kom met gewondes in Pretoria aan
Foto: Wikimedia – skets deur F de Haenen

Bedoelings
Rudolf is in 1901 Duitsland toe, maar dit is nie bekend wanneer hy terug gekom het nie. Ná die oorlog het hy baie goeie bedoelings gehad en het aan die stuur van sake gestaan om ‘n petisie vir Koning George te stuur om die nege brons kunswerke, wat deur die Britte uit Pretoria verwyder is, terug eis.

Hy wou ook graag die herbegrafnis van president Paul Kruger in 1904 herdenk en het besluit om ‘n poskaart te maak. Uit vele kandidate het hy die 10-jarige Louie Helena (Lulu) Noome  gekies om Van Wouw se werkende model van die geliefde president te bewonder.


Rudolf het ‘n poskaart gemaak waar die 10-jarige Lulu Noome die miniatuur standbeeld van
Paul Kruger bewonder
Foto: Pretoriana 068 van 1972

Interessante voetnota hier is dat Lulu die dogter was van kommandant Meindert Noome, wat later die hoofklerk van die personeel van die ouditeur-generaal van die ZAR geword het. Dit was glo hy wat in beheer van die ‘Kruger Miljoene’ gesit is toe die goud Machadodorp in Augustus 1900 in die presidensiële trein verlaat het.

Meindert het ‘n dagboek van dié tyd gehou en het geskryf dat die goud aan agente in Laurenzo Marques afgelewer is. Dié dagboek is 20 jaar ná sy dood deur sy oudste seun gevind en is in die Staatsargiewe geplaas.


Rudolf het sy fotografie-onderneming só adverteer
Foto: The Heritage Portal, Carol Hardijzer

Lojaal
Ons fotograaf Rudolf het homself as lojale landsburger beskou en het heel goed opgetree tot hy op 11 Oktober 1911 met Wanda getroud is. Carol Hardijzer skryf dat Rudolf en Wanda deur haar ma in die slaapkamer “betrap” is en dat sy hulle basies gedwing het om te trou.

Ná sy troue het Rudolf met die opruiende openbare toesprake begin. Dit het so erg geword dat die landdros hom in Oktober 1914 beveel het om nie sy huis tussen 8 nm en 6 vm te verlaat nie. Deel van die vonnis was ook dat hy geen kroeg mag besoek nie en dat hy nie in openbare plekke mag verskyn nie.


Rudolf se foto van Paul Kruger
Bron: Bernardi Auctioneers

Rudolf het egter aangevoer dat hy sy vrou moes help om haar pa, wat “hulpeloos in die bed gelê het met lewerkanker”, te versorg. Dit kon dalk waar gewees het, want die argiewe dui aan dat Paul Maré op 18 Augustus 1915 (in die ouderdom van 66 jaar) oorlede is. Sy vrou Clara is reeds in Maart 1915 in die ouderdom van 64 jaar oorlede.

Of Rudolf sy vrou Wanda wel gehelp het, is te betwyfel. Hy het vir die landdros gesê dat deel van sy versorgingspligte was om ys vir die sieke in die Stasiekroeg te gaan haal. Hy moes glo ook die Mark Hotel en Grand Hotel se restourante besoek omdat sy vrou nie vir hom gekook het nie.


Rudolf het 22 foto’s van generaal Louis Botha geneem. Dié een is in 1900 geneem
Bron: eBay

Oorlas
‘n Beëdigde verklaring deur J Burger, seun van generaal Schalk Burger, in November 1915 lui dat Rudolf ‘n “algehele oorlas vir die publiek en sy vrou” geword het. Sy optrede sedert die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het was glo verregaande en hy is gereeld aangerand.

Die landdros het besluit dat Rudolf die eerste Duitser in Pretoria sal wees om na ‘n interneringskamp te gaan. Hy is in Desember 1915 na Fort Napier by Pietermaritzburg gestuur, glo omdat hy ‘n “gevaar vir die publiek was”.


Die Grand Hotel op die suid-oostelike hoek van Kerkplein, soos dit in 1902 gelyk het
Foto: Melvin Residence

Uit dié interneringskamp het Rudolf hordes briewe aan die owerhede geskryf. In Maart 1916 het hy probeer om sy keel met ‘n knipmes af te sny en sy vrou Wanda het die regering gevra om hom vry te laat.

Rudolf is op 10 November 1916 op parool vrygestel, maar dinge het glad nie beter gegaan nie. Hy het aangehou om vreemde briewe aan die regering skryf. In ‘n stadium het hy gevra dat sy haelgeweer terug gegee moet word aan hom en sy aansoek is geweier omdat hy glo gereeld “so mal soos ‘n haas” was.


Rudolf is na Fort Napier interneringskamp by Pietermaritzburg gestuur
Foto: Europeana 1914-1918

Skei
Wanda kon dit naderhand seker nie meer met hom uithou nie en ‘n geregtelike skeidingsversoek van 1918 lui: “Sedert die datum van die huwelik was Rudolf konstant verslaaf aan gewoontes van dronkenskap en het daarin gefaal om sy vrou te onderhou en het haar herhaaldelik sedert Augustus 1914 met beledigende en obsene taal gedreig, haar van onkuisheid en onsedelikheid beskuldig en daaroor het dit onmoontlik geword om saam met hom te woon.”

Ná die versoek is Rudolf vir ‘n kort rukkie in die Pretoria Sielsieke Hospitaal opgeneem en is in Januarie 1919 ontslaan. Die Pretoriase hof het op 2 April 1919 ‘n egskeiding toegestaan ná aantygings dat Rudolf in Oktober 1918 met ‘n klant egbreuk gepleeg het. Hy het nog tot omtrent 1919 as fotograaf gewerk.


Pretoria Sielsieke Hospitaal
Foto: Braune & Levy, Johannesburg, No 2090

Rudolf het homself verdedig deur te verklaar dat hy ‘n eerbare man was wat studeer het om ‘n priester te word. Later het hy gesê dat niks van dié dinge sou gebeur het as Wanda ‘n beter vrou was nie.

Hy is in Junie 1926 weer in die Pretoria Sielsieke Hospitaal opgeneem en is in April 1927 ontslaan.

Rudolf is in November 1929, toe hy 58 jaar oud was, vrywilliglik terug hospitaal toe en het vir die res van sy lewe daar gebly. Hy is in 1943 in die ouderdom van 72 jaar daar oorlede.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger