Kersie op die koek Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Anoniem van die distrik Cullinan skryf:
Ek wil nie graag in dié blad kla nie, maar Cullinan se polisiestasie is in ’n haglike toestand.

Ek het al baie jare skakeling met die stasie (van die middel 1980’s af) en is al gewoond aan die aanklagkantoor wat so sleg lyk: Marmerblad wat ’n hele stuk uitgebreek is; ou vuil staalasblik wat jare laas ’n nat lap of ’n laag verf gesien het; en dooie kaktusse in vensterbanke waarvan die blinders stukkend of weg is.

Ek is ook gewoond aan ’n ‘Kersboompie’ in ’n blik, die twee houtbanke op die stoep wat spierwit verbleik is en vol vuilkolle is en die asblik by die deur wat altyd oorloop.

Maar onlangs was die kersie op die koek die toestand van die damestoilet: “No toilet paper”. Jy moet in die aanklagkantoor gaan kry. Daar is nie ’n lig in die toiletgedeelte nie, die toiletsitplek is plek-plek stukkend, die spoelbak het nie ’n deksel op nie en spoel nie.

Die krane van die twee wasbakke, wat vuil is, het nie koppe op nie en daar is nie seep nie, so jy kan nie jou hande was nie. Dit is haglik om die minste te sê.

 

© 2020 Die/The Bronberger