Grusame plaasaanval op Welbekend Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 26 February 2020 10:10
Untitled Document

Timothy Rademeyer en Dirkie Voges is op 29 Januarie grusaam op hulle plaas in die Welbekend-distrik aangerand.

Die paartjie het teen 4 vm wakker geskrik toe indringers die voordeur probeer oopbreek het. Die 61-jarige Dirkie het opgevlieg en indringers voor die slaapkamerdeur gekry. Daar word vermoed dat daar altesaam ses skurke was.

Die aanvallers het vir Timothy en Dirkie oorrompel, vasgebind en klaarblyklik geskop en geslaan. Die 51-jarige Timothy is glo met ‘n serp gewurg en sy geslagsdele is met ‘n skerp voorwerp gesny. Dirkie se oortrommel het in die aanval gebars en sy het harsingskudding opgedoen.

R300 kontant, elektriese ware, selfone en gereedskap is gesteel. Die aanvallers is met ‘n wit Ford Bantam-bakkie daar weg. Die paartjie kon hulself los kry en ‘n bebloede Dirkie is na die hoofpad om hulp te kry. Sy het in die pad gaan lê en is omstreeks 7.30 vm deur Ian Jackson gevind.


Timothy Rademeyer en Dirkie Voges
Foto: Verskaf

Ian het dadelik sowat 3 km verder na sy niggie, Candice Allison, ’n plaaslike paramedikus, gejaag en gesê sy moet dringend help. ’n Serp, waarmee die aanvallers Timothy gewurg het, was so styf geknoop dat Candice dit moes lossny.

Timothy was in ‘n kritieke toestand en is met ‘n ambulans na die Verre Oos-Rand-hospitaal in Springs gejaag. Dirkie is na ‘n hospitaal op Delmas geneem en is gou ontslaan.

Timothy Rademeyer is in die gebied bekend vir sy houtwerk, en heelwat van sy gereedskap is gesteel.

Sy seun, Rudi, sê dat die gesteelde gereedskap so oud is dat ’n mens amper niks daarvoor sal kry as jy dit verkoop nie.

Dirkie het by vriende op hulle plaas gebly terwyl veiligheidsmaatreëls op die egpaar se plaas opgeskerp is en Timothy vir ‘n week in die intensiewesorgeenheid was.

Teen die Bronnie se saktyd was Timothy en Dirkie terug by die huis. Rudi sê dat hulle beserings met die tyd volkome sal herstel, maar dat sy pa emosioneel afgebreek is en slapelose nagte het.

Speurder-bevelvoerder van die Welbekend-polisie, kaptein Matthys Strydom, het gesê dat ‘n klag van gewapende roof aanhangig gemaak is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Mense wat meer inligting oor die saak het, kan kaptein Strydom bel by 082-822-6297.

 

© 2020 Die/The Bronberger