Inwoners wil Faerie Glen só beveilig Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 26 February 2020 10:10
Untitled Document

Inwoners van Faerie Glen het op Saterdag 1 Februarie ‘n bewusmakingsveldtog gehou vir die voorgestelde veiligheidsinisiatief, genaamd Faerie Glen Nature Village. Intekenvorms om deel van dié natuurdorp te word was van 9 vm tot 12 uur op die hoeke van Manitoba- en Kentuckystraat, Selikats Causeway en Kentuckystraat, Stonewallweg en Old Farmweg en Cliffendaleweg en Plettenbergweg beskikbaar.

In April verlede jaar het ons berig dat inwoners van Faerie Glen ‘n nuwe huiseienaarsvereniging gestig het om die Blok Vier Sekuriteitsdorp-inisiatief in werking te stel. Dié gemeenskap se plan is om sekuriteitshekke op openbare paaie aan te bring ná ‘n reeks huisinbrake hulle bekommerd gemaak het oor hulle veiligheid.


‘n T-hemp wys die inisiatief se kenteken
Foto’s: Verskaf

Intussen het die inisiatief die naam, Faerie Glen Nature Village, gekry en die beplande gebied wat agter veiligheidshekke gaan wees sluit Faerie Glen Blok een, twee, drie en vier in. Dit strek van Manitobarylaan in die weste tot Solomon Mahlangu-rylaan (Hans Strijdom) in die ooste en van Atterburyweg in die suide tot die groenstrook bo-op die Bronberg in die noorde.

Die eerste doel is om ten minste 70% van alle inwoners se toestemming te kry vir die straatsluiting en om dan ‘n aansoek by die munisipaliteit in te dien. Dit is ‘n gemeenskapsprojek, wat deur vrywilligers bedryf word en die geraamde koste vir die projek is R737 029.

Die projek sal ses valhekke hê asook hekke wat in noodgevalle by die beheerpunte gesluit kan word. Daar sal ‘n 24-uur reaksiediens vir die afgeslote gebied wees, wat sekuriteitswagte en drie patrollievoertuie met twee wagte elk, insluit.


Die kaart wys die verskillende blokke in Faerie Glen en die rooi kolle is beheerpunte

By die valhekke sal kameras wees waar gesig-herkenning in werking sal wees sowel as nommerplaat-herkenningskameras wat aan ‘n sekuriteitstelsel van die polisie gekoppel sal wees.

Die plan is om ‘n toegewyde landgoedbestuurder aan te stel en ‘n beheerkamer te hê waar alle waarnemings gemonitor sal word.

Aansoeke om lidmaatskap kan gestuur word na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of bel Angie Loubser: 082-824-0073; Johan Brink: 083-250-8569; of Mike Nel: ‭082-781-0105‬.

 

© 2020 Die/The Bronberger