Myn hervestig gesin weg van putwand Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 26 February 2020 10:11
Untitled Document

Tydelike verblyf is gereël vir ‘n gesin wat naby die Cullinan-diamantmyn se oop put gewoon het. Dié reëling is deur gemeenskapsverteenwoordigers aangevra oor die gesin se persoonlike omstandighede en nie omdat hulle huis deur die myn se put ingesluk sou word nie.

So het Petra Diamonds, eienaar van die myn, op ‘n openbare vergadering wat op 12 Februarie by die Cullinan-sportsentrum gehou is, gesê.

In Januarie het ons berig dat Desember se grondstortings aan die myn se suid-westelike put-wand, weg van die dorp, veroorsaak is omdat dié wand gedestabiliseer is en begin sak het ná die drie miljoen ton grondstorting van 28 Oktober verlede jaar.

Op 11 Januarie het ‘n wig in die suid-oostelike hoek van die put ineengestort en ongeveer 135 000 ton grond het in die put afgestort. Die wig is ná grondstortings in 2015, wat na die sluiting van die R513-pad gelei het, gevorm. Die myn berig dat dié wig se instorting op 11 Januarie binne-in die put gebeur het en dat die put se omtrek nie aan daardie kant verander het nie. Op die vergadering het die myn gesê dat dié gebeure nie die inwoners van Railway- en Endstraat in Cullinan in gevaar stel nie.

Mynwerk in die oop put is 50 jaar gelede gestaak en alle mynwerk is deesdae ondergronds. Ná klagtes van die gemeenskap, het die myn die tye wat hulle ondergrondse skietwerk doen aangepas na ‘n tyd in die dag wat minder steurend sal wees.

Die myn het verskeie moniteringstelsels wat beweging in die put meet, asook seismiese- en stof-moniteringstelsels in die dorp. Die stof-studie, wat deur onafhanklike spesialiste gedoen word, het volgens die myn gewys dat normale stofvlakke, behalwe gedurende grondstortings wanneer die wind dorp se kant toe waai, binne aanvaarbare vlakke is en dat die stof nie skadelike elemente bevat nie.

Op die vergadering het die myn gesê dat hulle onafhanklike strukturele evaluerings van eiendomme naaste aan die oop put laat doen. Dit volg ná klagtes dat die grondstortings eiendomskade tot gevolg het.

Die myn het voorgeneem om ‘n hervestiging-beleidsraamwerk daar te stel om seker te maak dat so ‘n beleid in plek is, sou hervestiging nodig word. Die myn het dit duidelik gemaak dat dié beleid nie beteken dat massa-hervestiging beoog word nie.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , ‘n SMS: 30921 of sluit aan by die “Pit Communication” WhatsApp-groep (stuur aansluitingsversoek per SMS na 30921).

 

© 2020 Die/The Bronberger