Krygsgevangene uit Hollander Korps keer terug om diep spore te trap Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 26 February 2020 10:23
Untitled Document

Angie Kleijn

Noem die naam Piet Mondriaan en mense regoor die wêreld weet dat jy van ‘n kunstenaar praat; iemand wat beskou is as een van die pioniers in abstrakte kuns in die twintigste eeu. Min mense weet egter dat sy broer, Willem, as deel van die Hollander Korps, in 1899 saam met skilder Vincent van Gogh se broer, Cor, met die Slag van Elandslaagte teen die Britse invallers geveg het.

‘n Interessantheid is dat die broers Willem en Piet Mondriaan en die broers Cor en Vincent van Gogh verlangs familie was. Hulle het gemeenskaplike voorouers in die egpaar Vincent van Gogh (1674-1746) en Josina Bijlevelt (1676-1754). Dié egpaar was Willem en Piet se oor-oor-oorgrootjies.

Willem Frederik Mondriaan is op 10 Mei 1874 in Amersfoort, Nederland as die derde kind en tweede oudste seun van Pieter Cornelis Mondriaan en Johanna Christina de Kok gebore. Sy pa was ‘n onderwyser, wat in 1869, ‘n klompie jare voor Willem se geboorte, as skoolhoof van die Skool vir Christelike Nasionale Onderwys in Amersfoort, aangestel is.

Volgens die navorsing van Jan-Karel Bosch, Willem se agterkleinseun, was dié skool in ‘n verboude woonhuis in Kortegracht 113 en die Mondriaans het in ‘n gedeelte van die gebou, wat as koud en vogtig beskryf is, gewoon. Vandag is dit bekend as Mondriaanhuis, ‘n museum en kunssentrum ter ere van Willem se ouer broer, die kunstenaar Piet. Altwee seuns is in dié huis gebore.

Hulle het in 1880 getrek toe hulle pa ‘n aanstelling gekry het as skoolhoof van die Skool vir Christelike Nasionale Onderwys in die Ratumschestraat op Winterswijk, ‘n klein dorpie in die Gelderland-provinsie, nie ver van die Duitse grens nie. Dié keer was die skoolhoofwoning langs die skool en staan vandag as die Museum Villa Mondriaan in Zonnebrink 4 bekend. Die huis is in 2013 as ‘n museum ter ere van Piet Mondriaan geopen.


As deel van die Hollander Korps is Willem Frederik Mondriaan, in die middel agter,
met die kruisie aangedui
Foto: Geni

Ooms
In die jare toe die Mondriaan-gesin op Winterswijk gewoon het, het hulle ongewone ooms, broers van hulle onderwyser-pa, gereeld kom kuier. Johannes Jacobus het ‘n lewe gemaak as ‘n haarkapper, maar was ook ‘n akteur. Dirk Ernst was ‘n boekhouer, maar was aktief in die spiritistiese beweging, waar hy as medium opgetree het tot sy dood in Egipte. Frederik Hendrik was ‘n bekende landskapskilder.

Willem het sy skoolloopbaan op Winterswijk voltooi en het daarna opleiding in die Christelike Nasionale Schoolonderwys ontvang. Hy het op 26 Mei 1891 eervolle ontslag as ‘kweekeling’ ontvang en het die kwalifikasie, onderwyser vierde rang, beklee.

Hy het egter nie as onderwyser begin werk nie en is op 27 Junie 1891 aangestel as die persoonlike klerk van Jonkheer TAJ van Asch van Wijck, goewerneur van Nederlands Wes-Indië (vandag Suriname), wat ‘n goeie vriend van sy pa was. In dié posisie het hy vir ‘n ruk in die hoofstad, Paramaribo, gewerk.


Willem se ouers, Pieter Cornelis Mondriaan en Johanna Christina, ‘n nooi De Kok
Foto: Geni

Willem het teen einde Mei 1894 na Nederland terug gekeer waar hy in Utrecht by die Utrechtse Credietbank gewerk het. Daarna is hy ‘n pos aangebied by die Nederlandse Departement van Kolonies, maar het besluit om eerder saam met ‘n broer van Jonkheer van Asch van Wijk na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) te reis. Hy het reeds voor sy vertrek uit Nederland ‘n betrekking by die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) aanvaar.

Op 23 November 1895 het Willem as ‘n administratiewe amptenaar vir die NZASM op Waterval-Boven begin werk. Daar het hy ‘n lid van die Carolina Vrywilliger Korps geword en aan strafekspedisies teen swart stamme deelgeneem. Op grond daarvan is sy aansoek om ZAR-burgerskap met volle stemreg in 1899 toegestaan. Hy het op 1 Februarie 1899 as twaalfde klerk by die Transvaalse Onderwysdepartement begin werk.


‘n Jonger Willem
Foto: Geni

Oorlog
Daardie jaar het die Engelse Oorlog uitgebreek en Willem het by die Hollander Korps aangesluit, waar hy in die derde seksie gedien het. Met die Slag van Elandslaagte op 21 Oktober 1899 is hy swaar gewond. Hy het weens bloedverlies sy bewussyn verloor en is vir dood op die slagveld agtergelaat.

Toe hy later sy bewussyn herwin, het hy dit reg gekry om na die kraal van ‘n swart stam in die omgewing te kruip. Daar is hy uiteindelik gevind en deur die Britte gevange geneem. Hy is met die Rooikruis-trein na Ladysmith geneem, waar hy saam met ander gewondes in die Nederduits Geformeerde Kerk-gebou aangehou is.

Die krygsgevangenes in dié gebou is later na Pietermaritzburg gestuur, daarna na Durban en uiteindelik na Simonstad en Groenpunt in Kaapstad. Willem is in 1900 as banneling na St Helena in die suidelike Atlantiese Oseaan gestuur. Daar aangekom is hy in die hospitaal op Jamestown opgeneem: Hy was nog besig om te herstel van sy wonde en het aan ingewandskoors gely.

Willem kon goed Duits, Frans, Engels, Nederlands en Afrikaans praat en het as tolk en later as voorraadklerk in die hospitaal gewerk. Hy was ‘n krygsgevangene, maar is nooit in een van die kampe aangehou nie, alhoewel hy gereeld in die kampe gekom het en kontak met ander krygsgevangenes gehou het. Anders as hulle het Willem redelike bewegingsvryheid op die eiland gehad.

Die Engelse Oorlog het met die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 tot ‘n einde gekom en Willem is in Junie 1902 na Nederland gedeporteer. Daar het hy grotendeels by sy broer, Piet, in Amsterdam gewoon en was baie aktief om die saak van die Nederlanders, wat in en na die oorlog uit die ZAR gedeporteer is, te bevorder.


Willem se skets van die Slag van Elandslaagte op 21 Oktober 1899
Foto: Wikiwand

Terug
Willem is in Februarie 1903 terug na Pretoria, waar hy ‘n pos in die staatsdiens aangebied is. Hy was egter nie bereid om so kort na die Engelse Oorlog in ‘n Brits-beheerde koloniale administrasie te dien nie.

Hy het eers tydelik by die Nederlandse konsulaat in Pretoria gewerk, daarna as klerk by die Nederlandse Bank en was ook vir ‘n ruk ‘n vennoot in sy vriend, Leendert Ruijssenaers, se slaghuis. Daarna het hy ‘n winkel by Diepsloot tussen Pretoria en Krugersdorp geopen en bedryf en was sekretaris van die Pretoria-Suid tak van die Het Volk-party.

Willem is op 7 Maart 1906 in die Verenigde Kerk in Pretoria met Jacomina Frederika Potgieter getroud. Twee seuns is uit die huwelik gebore: Willem Frederick (Wim) op 9 November 1906; en Johannes Jacomina Frederik (Jaco) op 6 Mei 1908.


Die Mondriaan-kinders, van links na regs: Carel (1880–1956); Pieter Cornelius (Piet die kunstenaar, 1872–1944); Johanna Christina (1870–1939); Willem Frederik (1874–1945); en Louis (1877–1943). Die foto is in 1890 geneem
Foto: Wikimedia

Willem se vrou, Jacomina, is op 20 Mei 1908 aan septisemie oorlede, ‘n komplikasie wat ontwikkel het kort ná Jaco se geboorte. Jaco is op sy ma se begrafnis gedoop en het een van haar name gekry.
Dit was vir Willem as jong wewenaar moeilik om self na sy twee seuns om te sien. Wim het sy vroeë jare op sy oom en tante Oosthuizen se plaas deurgebring en het by sy pa in Pretoria gaan woon toe hy moes skool toe gaan. Jaco het by sy oupa en ouma Potgieter op hulle plaas ‘Geluk’ naby Machadodorp grootgeword.

Voor sy vrou se dood was Willem vir ‘n kort ruk in 1907 die bedryfsbesuinigingsbestuurder by die koerant ‘Land en Volk’ in Pretoria. Tussendeur was hy ook vrederegter in die distrik Pretoria, ‘n aanstelling wat hy op 11 April 1907 ontvang het.

In 1908 het Willem na die onderwys terug gekeer. Hy was vir drie maande ‘n tydelike assistent by die Nietgedacht-skool. Op 30 September 1908 het hy ‘n aanstelling by die Knoppieslaagte Regeringskool gekry.


Willem Frederik Mondriaan
Foto: Geni

Die kunstenaar, Piet Mondrian
Foto: Wikipedia

Weekblad
Willem het in 1912 betrokke geraak by ‘De Spectator’, ‘n Nederlandstalige weekblad wat in 1910 in Pretoria gestig is. Hy het in 1913 redakteur geword en moes onder streng sensuur deurloop weens die koerant se kritiek oor die regerings van generaals Louis Botha en Jan Smuts en grootskaalse publisiteit aan die 1914 Rebellie.

Saam met die weekblad het Willem ook ‘n drukkery, ‘Spectator Drukkery en Kantoren’, bedryf. Hy het by die plaaslike politiek betrokke geraak en het van 28 Junie 1916 tot Oktober 1919 as Nasionale Partylid van die Pretoriase Stadsraad gedien. In sy laaste jaar was hy onderburgemeester.

In dié Tweede Wêreldoorlogse jare het Willem die organisasie van ‘n grootskaalse mielie-insameling vir die hongersnood in Nederland behartig. Hy is in 1920 deur Koningin Wilhelmina van Nederland benoem tot Ridder in die Orde van Oranje-Nassau in sy hoedanigheid as sekretaris van die Nederlandse Vereniging in Pretoria en hoofredakteur van ‘De Spectator’.


“Speciale Uitgaaf van De Spectator Augustus 1915 - De Monster Vrouwenbetoging voor een
van Afrika's grootste zonen”
Foto: www.chapter1.co.za

Myners
Willem het in 1921 die ‘Transvaal Pers Beperkt’ gestig. Dit was ‘n uitgewers- en drukkersmaatskappy wat ‘De Spectator’ en ‘Transvaal Post’, ‘n tweetalige nasionale dagblad vir die Witwatersrand, uitgegee het.

‘Transvaal Post’ se eerste uitgawe het op 13 Februarie 1922 verskyn en Willem was die hoofredakteur in die Pretoriase hoofkantoor. Dié koerant het gou ontwikkel tot die mondstuk van ontevrede blanke mynwerkers en Willem is betrek by ‘n gebeurtenis wat die einde van sy joernalistieke loopbaan veroorsaak het en ook tot sy bankrotskap gelei het – die mynwerkerstaking en opstande van 1922. ‘Transvaal Post’ is in terme van die krygswet van 1922 verbied.

Willem was anti-kommunisties, maar omdat hy simpatie getoon het met die stakende mynwerkers is sy koerant toegemaak en hy is met ‘n besoek aan Johannesburg in hegtenis geneem. Ná sy vrylating is hy aangeraai om landuit te vlug omdat die owerhede besig was om getuienis teen hom te versamel.


Willem se ma, Johanna Christina, ‘n nooi De Kok
Foto: Genie

Willem se pa, Pieter Cornelis Mondriaan
Foto: Genie

Vlug
Willem het sonder paspoort oor die grens na die destydse Portugese kolonie, vandag Mosambiek, gevlug. Kort na sy aankoms in Lourenço Marques is hy en sy vriende op aanklag van onwettige immigrasie gearresteer. Hulle was ongeveer drie maande daar in die tronk voor hulle met die bemiddeling van die Britse Konsul vrygelaat is.

Teen daardie tyd het die stof aan die Witwatersrand gaan lê en Willem kon na Pretoria terugkeer. In sy afwesigheid het die ‘Transvaal Pers Beperk’ in April 1922 in likwidasie gegaan en die bankiers van die onderneming, die Nederlandse Bank, het op die bates beslag gelê. Die onderneming het tot niet gegaan en daarmee saam die twee blaaie, ‘De Spectator’ en ‘Transvaal Post’.

Willem moes ‘n ander inkomste kry en het in 1923 by die ‘London and Scottish Assurance Corporation Ltd’ in Pretoria begin werk. Daar is hy op 6 Maart 1924 getroud met Francina Willemina (Minnie) Bosman, die dogter van Abraham Johan Bosman en Johanna Susanna Helena Fischer. Sy was ongeveer vyf jaar ouer as Willem se seun, Wim. Nie Wim of Jaco was ingenome met hulle pa se tweede huwelik nie.

Willem is in 1924 na Bloemfontein verplaas as bestuurder van die ‘OFS and Basutoland Branch’ van die ‘London and Scottish Assurance Corporation Ltd’. In 1928 het Willem by die Ou Mutual versekeringsmaatskappy (SA Mutual) as assistent-distriksbestuurder van die Suid-Vrystaat begin werk.

Hy is in Augustus 1933 tot distriksbestuurder vir Noordoos-Kaapland bevorder en het Aliwal-Noord toe getrek. In 1939 is hy terug verplaas na Bloemfontein, waar hy tot sy aftrede in Mei 1943 as ‘n spesiale verteenwoordiger van SA Mutual gedien het. Hy was aktief betrokke by die kulturele en verenigingslewe en het nog in die jaar van sy aftrede die Vrystaatse Amateur Toneelgenootskap gestig.


‘Land en Volk’
Bron: eugene-marais.org.za

Aftree
Ná sy aftrede is Willem terug na Pretoria, waar hy by sy jonger seun, Jaco, en dié se vrou, Marthie, in Brookstraat 281, Brooklyn gewoon het. Willem se tweede vrou, Minnie, het nie saam met hulle gewoon nie omdat sy in die laat 1930’s in ‘n ernstige motorongeluk was waarvan sy nooit ten volle herstel het nie.

Minnie het haar laaste jare in Pretoria by haar ouerhuis en die geestesinrigting Weskoppies deurgebring. Dit is onduidelik wanneer sy oorlede is, maar sy het nog geleef ten tye van Willem se afsterwe aan huis van sy seun, Jaco, op 22 Augustus 1944 in die ouderdom van 70 jaar. Hy is op
24 Augustus 1944 in die Rebeccastraat begraafplaas, Pretoria begrawe.

Willem se ouer broer, die kunstenaar Piet, wat intussen sy van as ‘Mondrian’ begin spel het, is die selfde jaar in Amerika oorlede.

Willem se testament, gedateer 4 Januarie 1944, bepaal dat dit sy “uitdruklike wens en begeerte is dat die Meester van die Hooggeregshof ‘n Kurator Bonis sal aanstel” oor sy vrou se halwe aandeel in die boedel. Dit vermeld ook dat sy “vrou weens geestelike ongesteldheid nie in staat is om haar eie finansiële sake te behartig nie”.

 

© 2020 Die/The Bronberger